Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meesterstudent oorkom tragedie om droom te verwesenlik
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 28/03/2023

​Toe Chantal de Long van Delft in 2020 vir haar meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch (US) geregistreer het, het sy uitgesien na die uitdaging en was sy vasbeslote om hard te werk en die beste gebruik van die geleentheid te maak. Maar in plaas daarvan is haar akademiese reis oor die volgende drie jaar deur ondenkbare uitdagings en 'n tragedie gekenmerk. 

Hoewel dit dus vir haar 'n baie trotse oomblik was toe sy vandeesweek haar meestersgraad in hematologiese patologie by die US se Maart-gradeplegtigheid (28 Maart) in ontvangs geneem het, was dit terselfdertyd ook baie hartseer omdat sy nie die prestasie met haar ma, wat in April 2022 oorlede is, kon deel nie. 

Die eerste uitdaging wat De Long moes trotseer, was die Covid-19-pandemie wat die wêreld in Maart 2020 tot stilstand gedwing het. “Die inperkingsmaatreëls het 'n baie groot invloed op my studie gehad en het groot vertragings, angs en spanning veroorsaak. En kort daarna – in Mei 2020 – het my ma 'n ernstige beroerte gehad wat daartoe gelei het dat sy voltyds versorg moes word. Die druk wat dit op my geplaas het om deeltyds te werk, te studeer, 'n wêreldpandemie te hanteer én my siek ma te versorg, het sy tol op my geestes- en fisieke gesondheid geëis," verduidelik sy. 

Nadat sy haar ma aan die dood moes afstaan, het haar geestesgesondheid verder agteruitgegaan. “Ek kon nie eens meer eenvoudige daaglikse takies hanteer nie, wat nog te sê van 'n hele tesis."

Dit het al die selfdissipline en moed geverg wat sy bymekaar kon skraap, asook 'n “ongelooflike" ondersteuningstruktuur bestaande uit familielede, akademiese mentors en haar studieleiers by die US, om haar deur haar akademiese reis te dra en te help dat sy die eindstreep bereik met die indiening van haar meestersgraad in Desember verlede jaar. 

“Ek sal nooit die afgelope drie jaar se pyn vergeet nie, maar die littekens sal as 'n goeie herinnering dien vir die waardevolle lesse wat ek geleer het en vir hoeveel ek gegroei het. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees," sê De Long. 

Haar nagraadse navorsing het daarop gefokus om navorsing te doen om behandelingsplanne vir pasiënte wat aan chroniese miëloïede leukemie ly te verbeter deur die gebruik van verskeie molekulêr-gebaseerde tegnieke. Haar meestersgraad het imatinib-weerstandigheid ondersoek en het die rol van farmakogenetiese veranderlikheid in 'n Suid-Afrikaanse kohort van pasiënte ondersoek wat aan chroniese miëloïede leukemie ly.

De Long sê sy het op n loopbaan in die wetenskap besluit om gesondheidsorg vir behoeftige mense te verbeter. “Ek het in my gesin, my gemeenskap en ons land die vernietigende uitwerking gesien van siektes wat wanbestuur word – ook weens geneesmiddels wat nog nie beskikbaar is nie. Dit het my die belangrikheid daarvan laat besef om my kennis vir die vooruitgang van die wetenskap te gebruik om die lewens van ander te verbeter. Dit is vir my baie bevredigend om navorsing te doen wat uiteindelik sal help om menslike siektes te bekamp wat tans algemeen in ons samelewing voorkom."

Sy hoop om haar PhD in 2025 te voltooi en nog waardevoller bydraes tot die geneeskundige wetenskap te lewer. Sy wil ook graag as mentor vir jong wetenskaplikes optree. “Ek is baie lief vir wetenskap en is altyd bereid om nuwe vaardighede aan te leer. Ek is ook baie lief vir onderrig en om my navorsing in gewone taal aan te bied."

Die uitdagings wat De Long moes oorkom om akademiese sukses te behaal, het 'n groot indruk op haar gelaat. “Ek het geleer dat die lewe ongelooflik kort is en dat die dag van môre nie 'n gegewe is nie. Ek lewe vir die hede en wil elke dag ten beste gebruik, my geliefdes waardeer en goedhartig wees teenoor elkeen wat my pad kruis. Ons weet nie waarmee mense worstel nie, so dit is beter om vriendelik te wees." 

Haar raad aan jongmense wat ook hindernisse en terugslae in die loop van hulle studiejare beleef, is om n positiewe ingesteldheid te kweek. “Ons kan ongelukkig nie die goed verander wat met ons gebeur nie, maar ons kan die manier waarop ons daarop reageer, verander. So lewe ten volle, benut elke geleentheid wat jy kry en ervaar die lewe in die hede. Uitdagings is tydelik en sal verbygaan. So hou net aan, doen dít waarin jy goed is en bly altyd goedhartig. Jou harde werk sal beloon word." 

FOTO: Stefan Els