Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klik hier om Eskom se beurtkragskedule direk in jou elektroniese almanak te plaas
Outeur: Wiida Fourie-Basson, Faculty of Science (media)
Gepubliseer: 14/09/2022

'n Uiters gefrustreerde rekenaarwetenskape-student van die Universiteit Stellenbosch het oopbron sagteware ontwikkel om die nuutste beurtkragskedules direk in jou elektroniese almanak te plaas.

Boyd Kane sê hy wou hê dat die jongste beurtkragskedules moet verskyn “nét daar waar ek dit kan sien – op my elektroniese almanak".

 “Dit is nié lekker om die hele dag te werk, agtuur by die huis te kom en te begin kosmaak, net vir die ligte om uit te gaan nie," sê hy. Uit pure frustrasie het hy toe besluit om sy vaardighede in te span om 'n projek te ontwikkel wat vir hom die jongste inligting oor Eskom se beurtkragskedule sou verskaf.

Enigeen kan nou die beurtkragskedule direk op hul elektroniese almanac aflaai deur op hierdie oopbron-skakel te klik.

Hy het in Julie vanjaar op die tegniese aspekte van die projek begin werk, en toe die tydsame proses aangepak om die rou data skoon te maak. Vir daardie areas wat hul elektrisiteit direk van Eskom ontvang, was dit redelik maklik. Maar in ander gevalle moes hy die skedules direk by die munisipaliteite gaan haal. Al hierdie schedules was in verskillende formate, en dit het 'n rukkie geneem om uit te pluis hoe om al hierdie rou data na 'n bruikbare formaat om te skakel. Die projek skraap ook inligting vanaf Eskom se amptelike Twitter-rekening, ten einde voorsiening te maak vir daardie onverwagse verrassings wanneer die land van vlak 1 na vlak 6 beurtkrag beweeg, of enigiets tussen dié vlakke.

“Ek het eers die projek op Kaapstad uitgetoets omdat ek daar gewoon het en nog vriende daar het wat kon bevestig of die projek met hul werklikheid ooreengestem of nie," verduidelik hy.

Tans is daar meer as 500 munisipale areas wat deur die projek bedien word – vanaf Stellenbosch tot Matatiele in die Oos-Kaap.

Die projek gaan ook as oopbron sagteware beskikbaar bly. Dit beteken dat ander sagteware ontwikkelaars kan inspring en voorstelle maak oor hoe om dit te verbeter, of die beurtkragskedules vir hul eie idees gebruik.

Vir nou is hy meer gemoeid daarmee om die almanakke so betroubaar as moontlik op te dateer, eerder as om tyd te bestee aan die ontwerp van 'n gebruikersvriendelike webwerf. Hy stel ook nie daarin belang om die projek in 'n besigheid te omskep nie: “Ek het geleer hoe om te programmeer danksy oopbron- en gratis sagteware op die internet. Die internet sou in elk geval nie moontlik gewees het sonder gratis sagteware nie. Dit is nou my beurt om 'n bydra te maak".

Boyd, wat veral in datawetenskap en waarskynlikheidsteorie belangstel, beplan om volgende jaar met sy MSc in rekenaarwetenskap voort te gaan.