Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jaarhoogtepunte in Sosiale Impak, Transformasie en Personeel (2021/22)
Outeur: Joanne Williams & Desmond Thompson
Gepubliseer: 28/06/2022
Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het op Maandag 20 Junie 2022 die tweede van sy vier geskeduleerde vergaderings vir die jaar gehou. Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het sy jaarlikse verslagbeurt gebruik om die Raad op hoogte te bring van ontwikkelings in sy verantwoordelikheidsentrum (VS) – Sosiale Impak, Transformasie en Personeel (SITP) – die afgelope jaar. Lees verder vir 'n samevatting van hoogtepunte.

TRANSFORMASIE

Prof Koopman het in sy verslag aan die Raad (klik hier vir sy volledige verslag, en hier vir sy PowerPoint-aanbieding) verduidelik dat die Universiteit Stellenbosch (US) transformasie op 'n omvattende manier verstaan. Dit sluit ál agt aanwysers van Times Higher Education in – die transformasie van die instelling, talent, internasionalisering, onderrig en leer, die studente-ervaring, impak, navorsing én leierskap.

Boonop beskou die US transformasie nie as 'n nagedagte nie, maar as iets sistemies en ingebed. Almal behoort daarby betrokke te wees, en alle personeel en studente behoort die instelling hulle eie te maak.

Prof Koopman het gesê die doel van transformasie by die US is om 'n instelling te skep waar almal menswaardigheid, genesing, vryheid, geregtigheid en gelykheid kan ervaar, soos wat ons land se Handves van Regte beoog.

Hoewel sekere gebiede by die US goeie vordering met transformasie maak, sloer ander, het prof Koopman verslag gedoen, en is daar ongelukkig van tyd tot tyd selfs agteruitgang. In die lig van die gebeure in Mei 2022, wat uitgeloop het op die aanstelling van 'n onafhanklike kommissie van ondersoek onder leiding van regter Sisi Khampepe, moet die US se transformasiereis versnel en verdiep.

Die jaarlikse Institusionele Beplanningsforum in Januarie, waar transformasie 'n kerntema was, het 'n goeie grondslag gelê. In die tweede helfte van 2022 sal 'n eerste Transformasiebeleid vir die US opgestel word (klik hier vir meer oor dié proses), waarna die instelling sy Transformasieplan sal hersien. Die invloed van transformasiestrukture, waaronder dié in fakulteite en VS'e, sal toeneem. Daarbenewens sal die Transformasiekantoor, Eenheid vir Gelykwaardigheid, Eenheid vir Gestremdheid en Institusionele Komitee vir Transformasie (sowel vir personeel as studente) voortdurend versterk word.

Maatreëls vir groter personeeldiversiteit by die US behels onder meer die implementering van die instelling se Kode vir Diensbillikheid en Diversiteit. Die rol van diensbillikheidsverteenwoordigers in akademiese aanstelling- en bevorderingskomitees word ook geoptimaliseer. Boonop word monitering- en toesigmeganismes tot op departementele vlak versterk. Die Rektor se Strategiese Personeelfonds, wat in 2015 ingestel is, is nou ook 'n permanente lynitem in die US se geïntegreerde begroting. (Die Viserektor: Leer en Onderrig sal meer besonderhede voorsien oor maatreëls om die diversiteit van die studentegemeenskap te bevorder wanneer hy in September sy jaarverslag voorlê.)

Maar hoewel die kwantitatiewe aspek belangrik is, moet transformasie nie uitsluitlik aan die hand van syfers beskou word nie. Die kwalitatiewe sy van transformasie, wat oor die lewenservaring van personeel en studente by die Universiteit gaan, is ewe krities.

Daar word reeds heelwat gedoen om ons institusionele kultuur te vernuwe, maar dít sal selfs verder uitgebrei word. Volgens prof Koopman sal sowel bewuste as onbewuste diskriminerende vooroordele – wat in beleide, praktyke, strukture en stelsels vasgelê is – aandag ontvang.

Daarbenewens is daar 'n behoefte om die intellektuele, ideologiese, kulturele en godsdienstige regverdiging van vooroordele, en die uitbeelding daarvan as 'normaal', aan die kaak te stel. Dít alles behoort teen die agtergrond van interseksionaliteit verstaan te word, wat beteken dat hoewel die klem hoofsaaklik op 'ras' val, daar ook 'n onderlinge verband is met ander kategorieë van vooroordeel, waaronder gender, sosio-ekonomiese stand, seksuele oriëntasie en gestremdheid.

“Ons by die US moet beweeg van 'divers en dus apart' tot 'divers dog saam'," het prof Koopman gesê. “Ons moet gemaklik raak met ons verskille. As 'n universiteit, is ons 'n leergemeenskap, en daarom behoort ons die nodige kennis, waardes en vaardighede aan te leer om te kan saambestaan."

Noudat transformasie tot 25% van werknemers se kernprestasiegebiede uitmaak, sal personeellede al hoe meer aangemoedig word om aan transformasiekursusse deel te neem, soos die bestaande Siyakhula-program en die nuwe Medemenslikheidmodules wat tans ontwikkel word.

Visuele regstelling sal ook voortgaan, en is bedoel om 'n nuwe institusionele kultuur te bou.

PERSONEEL

Personeel en studente se gesondheid en welstand is 'n prioriteit vir die US, en ook 'n kerndeel van ons transformasiereis. Die bevindinge van die derde opname oor personeelkultuur en -klimaat, wat in 2021 onderneem is, word tans in verskeie universiteitsomgewings bespreek, en aanbevelings en intervensies sal in die derde kwartaal afgehandel word.

Die werk van die Institusionele Komitee vir Personeelgesondheid en -welstand is goed aan die gang. Die komitee, wat in 2021 geskep is, bestaan uit verteenwoordigers van alle fakulteite, verantwoordelikheidsentrums en die vernaamste institusionele afdelings.

Die US sit ook sy klem op gesondheid en welstand voort deur inisiatiewe soos die Werknemerbystandsprogram, wat deur Careways ondersteun word.

Ons Afdeling Menslike Hulpbronne vervul 'n kernrol in transformasie, onder andere deur die ontwikkeling van 'n nuwe prestasiebevorderingsraamwerk, die verkenning van moontlike buigsame werkreëlings, ondersoeke na die loopbaanvordering van professionele akademiese en administratiewe steundienste- (PASD-)personeel, internasionale werwing, die hersiening van die reglement insake senior PASD-aanstellings, en die versterking van die werk van die Menslike Hulpbronne- en Vergoedingskomitee van die Raad.

SOSIALE IMPAK

Prof Koopman het uitgewys dat prof Wim de Villiers met sy inhuldiging as Rektor en Visekanselier in 2015 hom nie net tot die transformasie van die US nie, maar ook tot transformasie deur die US verbind het. In dié verband wil die Universiteit graag ál drie sy kernwerksaamhede van navorsing, leer en onderrig sowel as sosiale impak (waaronder vrywilligerwerk en ander vorme van gemeenskapskakeling) gebruik om 'n transformerende impak op die samelewing hê.

Die US is ongetwyfeld verbind tot 'n transformerende en herstellende sosiale impak. Voorbeelde van die afgelope jaar sluit in inisiatiewe met betrekking tot die Ou Lückhoff-skool en die Hardekraaltjie-begraafplaas. ​