Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US skakel met gemeenskap oor ‘verlore herinneringe’ van historiese Hardekraaltjie-begraafplaas
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Florence de Vries
Gepubliseer: 22/03/2022

“Die Hardekraaltjie-begraafplaas is ons enigste skakel met die verlore herinneringe van hierdie area."

So het mnr Melvin Arendse, wat grootgeword het in die area wat voorheen as Tiervlei bekend was (vandag Ravensmead), op Menseregtedag, 21 Maart 2022, by die Universiteit Stellenbosch (US) se Hardekraaltjie-begraafplaasrestitusiegeleentheid gesê. Arendse se stamnaam is Korana, wat “bruin gesig" in die taal van die Khoi-Khoi beteken.

Die geleentheid is in vennootskap met lede van die voormalige Tiervlei-gemeenskap aangebied.

Lede van dié gemeenskap – verteenwoordigers van onder andere die Arendse-, Olivier-, Basson-, Bastian-, Afrika-, Fortuin- en Dietrich-families – het herinneringe aan hul vormingsjare gedeel. Die Hardekraaltjie-begraafplaas, wat gedeeltelik op die terrein van die US se Tygerberg-kampus geleë is, maak die hart van dié herinneringe uit.

Die US se Menseregtedag-besprekings is aangebied deur dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur van Transformasie en Maatskaplike Impak, dr Therese Fish, Vise-dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en prof Aslam Fataar van die Departement Opvoedingsbeleidstudies, wat ook by die US se Transformasieportefeulje betrokke is.

“Hierdie inisiatief, wat gepas op Menseregtedag plaasvind, het restitusie ten doel," het Van Rooi gesê. “Ons is verbind tot ʼn restitusieproses vir Hardekraaltjie, gerugsteun deur navorsing en gemeenskapsdeelname, om ons te herinner aan ʼn verlede toe die waardigheid van die mense in hierdie gebied tragies geskend is."

Fataar, wat die reeks gesprekke gelei het wat plaasgevind het by die FGGW se Tygerberg-kampus, het gesê die US is voornemens om minstens twee jaar lank met gemeenskapslede te skakel om ʼn “diep, mensgesentreerde gemeenskapsdeelnameproses" te verseker wat daartoe sal lei dat diegene wat by die terrein ter ruste gelê is, paslik gedenk word.

Fataar het verduidelik dat argief- en gemeenskapsgebaseerde navorsing ʼn belangrike deel van die restitusieproses is. Hierdie navorsing “sal ʼn komplekse storie verskaf oor die Tiervlei-gemeenskap se alledaagse aktiwiteite wat met die begraafplaas verband gehou het. Ons het ten doel om ʼn kultureel-gedefinieerde storie te ontwikkel oor die smart, trauma en ontwrigting wat deur die ontering van die begraafplaas veroorsaak is. Die gemeenskapsdeelnameproses sal bepaal op watter wyse die begraafplaasterrein as ʼn betekenisvolle gemeenskapsruimte vir herdenking, opvoeding en voortgesette gesprekvoering ontwikkel sal word," het Fataar gesê.

Die Hardekraaltjie-navorsingsproses tot op hede

Die US se Menseregtedag-gemeenskapsdeelnameproses is ingelei met ʼn navorsingsvoorlegging deur dr Handri Walters, lektor in die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie. “Ons kan nie oor die Hardekraaltjie-begraafplaas praat sonder om oor apartheid en die Groepsgebiedewet van 1950 te praat nie. Volgens amptelike rekords is die Hardekraaltjie-begraafplaas van 1910 tot sy sluiting in 1947 gebruik. In die jare tussenin het die US se rektor, HB Thom (1955 – 1970), gereeld met die Kaapse Provinsiale Administrasie gekorrespondeer om ʼn eiendom te bekom om ʼn geneeskundefakulteit met ʼn aangrensende openbare opleidingshospitaal te vestig om alle Suid-Afrikaners, insluitend mense van kleur, te bedien."

Die begraafplaas het ʼn kernrol gespeel in die destydse Tiervlei-gemeenskap, wat ingevolge die apartheidsregime se Groepsgebiedewet aan gedwonge verskuiwings onderwerp is. Vandag strek die terrein waar die begraafplaas was oor stukke grond wat besit of beheer word deur die US, die Tygerberg-hospitaal (die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid deur die Departement van Openbare Werke) en Prasa (die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika).

Rekords van korrespondensie van die 1950's en 1960's skets ʼn reeks samesprekings tussen die destydse regering en die Universiteit se voormalige bestuurstrukture oor die ligging van die voorgestelde opleidingsterrein vir voornemende wit dokters. Die terrein moes lesinglokale, koshuise en sportvelde huisves. Ou kaarte toon die Hardekraaltjie-begraafplaas was (en is steeds) op die (destydse) geografiese grens tussen mense van kleur en wit mense geleë.

Walters se navorsing het die sistemiese effek van apartheid uitgelig wat in die werk van etlike instellings gemanifesteer het en tot die einde van die begraafplaas se gedokumenteerde bestaan gelei het.  Sy het ʼn berig in Die Burger van 17 Mei 1971 vertoon met die opskrif “Begraafplaas word dalk sportveld vir Maties". Oor wat ná hierdie berig met die Hardekraaltjie-begraafplaas gebeur het, het sy ʼn leë skerm vertoon.

Insameling van orale geskiedenis in voormalige Tiervlei-gemeenskap

Mnr Chefferino Fortuin, ʼn maatskaplike historikus en gemeenskapslid wat die geskiedenis van Tiervlei navors, het ʼn praatjie oor die insamelingsproses van orale geskiedenis gelewer. “Die doel met gemeenskapsdeelname is om die geskiedenis van wat in ons geheue is, na vore te bring." Fortuin het benadruk dat dit buitengewoon moeilik is om ʼn akkurate prentjie van geskiedenis in ʼn plek soos Suid-Afrika te skets. “Maar herinneringe en spesifiek die herinneringe van ouer mense wat steeds in ons midde is, is van deurslaggewende belang vir die herdenkingsproses."

“Begraafplase dien as instellings van geheue van ʼn mens se lewe. In baie gevalle is dit die enigste rekord van wanneer jy gebore is en gesterf het. Ek onthou nog die donkiekarre wat die kiste van ons geliefdes vervoer het en die ritueel om die grafte te besoek van diegene wat voor ons gekom het, onder wie my grootouers. Hardekraaltjie was ons plek van heiligheid en dis belangrik dat ons dit as sodanig erken, vir ons en vir die generasies ná ons," het mnr Daniël Dietrich, Ravensmead-gemeenskapslid en voormalige FGGW-personeellid, gesê.

Mev Anna Afrika Valentyn onthou kiste op ʼn wa en om versigtig te loop sodat hulle nie oor (kleur)lyne trap nie. “My grootouers, Anna en Petrus Afrika, is hier gebore."

Me Shantal Fortuin het gesê sy is dankbaar om vryelik te kan praat oor ʼn deel van haar geskiedenis wat sy by die US se gemeenskapskakelingsproses ontdek het. Sy het by die US se eerste Hardekraaltjie-herdenkingsgeleentheid op 24 September 2021 uitgevind wie haar ouma- en oupagrootjie was.

Mnr Melvin Arendse, gemeenskapslid en Khoisan-leier, het gesê Hardekraaltjie is die episentrum van bruin mense se geskiedenis in Kaapstad se noordelike voorstede. “In hierdie begraafplaas lê menslike oorskot wat meer as 150 jaar oud is. Die hele Tygerberg-area was een van die laaste ruimtes van konflik. Die mense wat hier begrawe is, het bande met meer as 230 bruin families wat regoor die Wes-Kaap gewoon het."

Mnr Tromp, ʼn 80-jarige inwoner van die gebied, het ʼn passievolle pleidooi gelewer vir ʼn siening van restitusie wat ʼn platform bied om die gemeenskap se voortgesette armoede en maatskaplike probleme aan te pak. Dié probleme hou verband met die impak van gedwonge verskuiwings in die area sedert die 1950's, het hy aangevoer.

Hardekraaltjie-herdenkingsproses

Die US en die Tygerberg-hospitaal is verbind tot ʼn regstellende proses om te besluit hoe die begraafplaasterrein en diegene wat daar begrawe is, herdenk sal word. Van Rooi het die besprekings oor die herdenkingsproses by die Menseregtedag-geleentheid gelei. “Daar is ʼn pleidooi dat ons hierdie terrein herdenk in ʼn poging om in die rigting van groter erkenning van erfenis te werk namate ons ons interaksie met gemeenskap voortsit."

ʼn Kontekstualiseringsbord ter verduideliking van die historiese belang van die terrein en die proses waarmee die US begin het, sal mettertyd opgerig word.

“Uiteindelik wil ons hê gemeenskapslede moet insette lewer oor hoe die tragedie van Hardekraaltjie én die restitusieproses gepas erken kan word," het Van Rooi gesê. Idees wat by die geleentheid op 21 Maart geopper is, het ingesluit ʼn muur met die name van familielede wat daar begrawe is en ʼn gedenktuin.

Volgens Fataar sal die Hardekraaltjie-proses die skep van ʼn digitale argief insluit, sodat die storie van die “verlore" herinneringe van die area verder vir ʼn jonger gehoor herdenk kan word.  

Die Hardekraaltjie-restitusieproses sal gerig word deur die US se Visuele Regstellingsbeleid, wat restitusie, inklusiwiteit en kohesie in die Universiteit se visuele, kulturele en simboliese aktiwiteite beklemtoon. Voortgesette gemeenskapsdeelname sal verskeie rolspelers betrek, waaronder die Tygerberg-hospitaal, Prasa, lede van plaaslike gemeenskappe en die Tiervlei-gemeenskap, asook Erfenis Wes-Kaap.