Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US fasiliteer skep van Lückhoff Lewende Museum – 50 jaar ná gedwonge verskuiwings
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 19/11/2019

In 1969 is leerders van die Lückhoff-skool in Banhoekweg, Stellenbosch ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950 gedwing om van hul geliefde skool na die nuwe Lückhoff-skool in Idasvallei ter verskuif. Sommige leerders het hul skoolbanke saam met hulle na die nuwe skool toe gedra.

Presies vyftig jaar later, het die Universiteit Stellenbosch (US) op Saterdag, 16 November 2019, 'n spesiale seremonie op die dorp gehou om twee van die oorspronklike skoolbanke na die skool terug te bring as deel van 'n daad van herstellende geregtigheid en van die proses om die Lückhoff Lewende Museum verder te ontwikkel.

“Ons is besig om brûe te bou met hierdie twee banke – van die nuwe Lückhoff-skool na die ou Lückhoff-skool. Maar ons bou nie net hier op Stellenbosch brûe nie; dit is simbolies vir ons hele land. Apartheid het ons almal verdeel en ons moet die nalatenskap daarvan wat nog steeds oral in ruimtelike ongelykheid te siene is, uitwis," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, by die geleentheid gesê.

Prof De Villiers het saam met US-personeellede, oudleerders van die Lückhoff-skool en lede van die Lückhoff-skoolgemeenskap van 1969 aan 'n seremonie deelgeneem om van die nuwe Lückhoff-skool in Idasvallei na die ou skool in Banhoekweg te stap terwyl lede van die skoolklas van 1969​ twee van die oorspronklike skoolbanke gedra het.

Die proses om die Lückhoff Lewende Museum te vestig, is in 2007 deur die destydse US-rektor en visekanselier, wyle prof Russell Botman, begin toe die ou Lückhoff-skoolgebou in Banhoekweg simbolies aan die oorspronklike eienaars hertoegewy is.

Volgens prof De Villiers sal die Lückhoff Lewende Museum 'n plek wees waar die US-gemeenskap na foto's, films, uitstallings en portrette kan kyk, kan onthou en kritiese gesprekke kan hê wanneer hulle die museum besoek.

“Daar is planne om visuele uitstallings te skep, om kaarte op te sit van waar mense gewoon het, waar kerke, die moskees, die barbiere, die bioskoop en die sportklubs was, om die stories van die kinderspeletjies en die geleenthede wat in die gemeenskap plaasgevind het, te vertel. Dit moet 'n lewende museum wees – waar ons nie net meer kan leer oor die verlede nie, maar ook mekaar in die hede kan ontmoet en planne kan maak om saam te kom vir n beter toekoms vir almal," het prof De Villiers gesê.

Een van die oudleerders van die Lückhoff-skool, mnr Otto van Noie, het ook die geleentheid gekry om 'n paar woorde te sê by die seremonie. Hy het sy “waardering" teenoor die US uitgespreek dat die Universiteit “'n gedeelde toekoms ontsluit, verken en benut" tot voordeel van veral toekomstige geslagte skoliere en studente uit die Stellenbosse gemeenskap.

“Hierdie 'trotse ou gebou', in Adam Small se taal, wag al geduldig vir vyftig jaar om as 'n waardige 'Stellenbosser' vereer te word as 'n plek van onthou, en ook as 'n visie vir die toekoms," het mnr Van Noie gesê.

Me Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak aan die US, het in haar bedanking by die geleentheid hulde aan die skoolgemeenskap van 1969 gebring. Sy het die US-personeel bedank dat hulle hul weg oopgesien het om die proses vir die vestiging van die Lückhoff Lewende Museum aan die gang te sit.

“Ek is met hart en siel aan die Lückhoff-skool verbind deur my oorlede pa, wat 'n Engelse onderwyser en 'n lid van die skoolgemeenskap van 1969 was wat die trauma van gedwonge verskuiwings ervaar het. Maar ondanks hul pyn, het hulle besluit om aktief aan vandag se verrigtinge deel te neem. Dit is 'n wonderlike geleentheid om op 'n nuwe manier saam te kom en om gemeenskap te herdefinieer. Ek wil graag hulde bring aan prof Wim de Villiers vir die feit dat hy hierdie noodsaaklike missie voortgesit het en dat hy die Universiteit Stellenbosch tot vernuwings- en ontwikkelingswerk verbind om nie net die wandade van die verlede te erken nie, maar deur hierdie wandade op 'n aktiewe manier van herstel aan te spreek," het Hector-Kannemeyer gesê. 

Foto deur Stefan Els.