Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US laserfisikus vereer vir leierskap en diens aan fotonika in Afrika
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 02/02/2022

​Die Instituut vir Lasernavorsing in die Departement Fisika by die Universiteit Stellenbosch word vandag as een van die vier hoof sentrums vir laserfisika in Suid-Afrika en Afrika beskou, met infrastruktuur soortgelyk aan die van groot oorsese sentrums.

Prof Erich Rohwer onthou egter hoe hulle 20 jaar gelede toe die sentrum tot stand gekom het, maar moes raap en skraap om hulle eie laserbronne te bou. As jong fisikus was hy sedert die 1980s − eers by die Universiteit van Zoeloeland en daarna by die eertydse Atoom Energie Korporasie (AEK) − betrokke by die ontwikkeling van laserfisika in Suid-Afrika en Afrika. En nou, na byna 40 jaar is hy steeds volstoom aan die gang. 

In Desember 2021 is Prof Rohwer vereer vir sy leierskap en diens aan fotonika in Afrika toe hy verkies is as 'n Fellow Member van OPTICA – die toonaangewende organisasie vir wetenskaplikes, ingenieurs en lede van die industrie wat in die wetenskap van lig belangstel.

Die vestiging van laserfisika in Afrika

As dosent sedert 1989 (en later professor) in laserfisika aan die US, was Prof Rohwer  instrumenteel in die totstandkoming van die Instituut vir Lasernavorsing (ILN) by die  Universiteit Stellenbosch, asook die Nasionale Lasersentrum (NLS) by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) in 2000, sowel as die Afrika Lasersentrum (ALS) in 2002. In 2007 is die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Fotonika – Ultravinnig en Ultra-intensiewe Laserwetenskap aan die LRI toegeken.

Vanaf 2005 tot 2011, het die ILN ses kortkursusse vir ALS-studente en -navorsers aangebied waar hulle net eers met lasers en veiligheid begin het, waarop 'n kennismaking met lasers gevolg het. Teen 2012 het die formaat van die kursusse verander na spesialiswerkswinkels wat velde soos femtosekondelasers en sy toepassings, laserspektroskopie, lasergebaseerde beelding, lasermikroskopie en -beelding, laser-weefsel-interaksie en laserbeelding.

Ten einde samewerking te bevorder en kapasiteit by Afrika-instellings te bou, was die ILN sedert 2008, nege van die 12 keer die gasheer van die ALS-werkswinkels vir studente wat elk deur gemiddeld 40 studente bygewoon is. Deelnemers het oor die jare van regoor Afrika gekom: Algerië, Nigerië, Ghana, Zimbabwe, Madagaskar, Marokko, Kenia, Uganda, Kameroen, Tanzanië, Tunisië, Egipte, Ethiopië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burkina Faso, Gaboen, Soedan en Namibië.

Dit het gelei tot verskeie gesamentlike projekte en samewerkings, soos dié tussen die ILN en Prof Mourad Zghal van die Tunis Ingenieursskool vir Kommunikasie  by die Universiteit van Kartago in Tunisië; met Dr P Baricholo van die Nasionale Universiteit van Wetenskap en Tegnologie in Zimbabwe; en Prof Paul Buah-Bassuah van die Universiteit van die Kaapse Kus in Ghana.

Volgens Prof Rohwer het die sukses van hierdie werkswinkels en kortkursusse uiteindelik gelei tot medeborgskappe deur internasionale instellings soos die Duitse uitruilprogram DAAD, die Duitse BMBF (Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing), die Verenigde Koninkryk se Newton Fonds, SPIE en OPTICA. Dit het die ILN in staat gestel om meer internasionale kundiges te trek en studente en navorsers bloot te stel aan leiers op die gebied van fotonika, wat onder meer Prof Tony Parker, hoof van Lasers vir Wetenskap by die Rutherford Appleton Laboratoriums in die VK, asook Prof Rudolf Steiner wat deur BMF in Duitsland ondersteun word, ingesluit het (om maar net twee te noem!).

Prof Rohwer sê die meeste van hierdie bekende navorsers het deel van die Afrika- en ILN-netwerk geword en het lank na die eerste besoeke steeds voortgegaan om bydraes hier te lewer: “Verskeie van hierdie fisici het besoekende professore aan die US geword en is nog steeds betrokke as medestudieleiers van nagraadse studente, of deur nadoktorale genootskappe by hul instansies aan te bied. Ons sou nie vandag tot op hierdie vlak kon gevorder het as dit nie was vir ons internasionale ondersteuningsnetwerk nie."  

Om van nuuts af laserbronne te bou

Prof Rohwer bly vandag steeds getrou aan sy oortuiging dat dit veral in die Afrika-konteks, beter is om spreekwoordelik te raap en skraap ten einde jou eie laserbronne en infrastruktuur te bou as om bloot bestaande tegnologieë toe te pas wat elders ontwikkel is.

“Nie net is dit goedkoper om jou eie lasers en instrumentasie te ontwikkel nie, maar dit is boonop ook 'n manier om jouself deeglik te vergewis van die fundamentele konsepte en beginsels wat betrokke is," verduidelik hy.                                                                                             

'n Verstelbare VUV-laserbron wat in 1999 deur Prof Rohwer se eerste MSc-student ontwikkel is, kan byvoorbeeld steeds aangewend word om nuwe areas in hoëresolusie spektroskopie te ondersoek. Vandag is die einste eertydse student, Dr Christine Steenkamp, een van slegs twee vrouefisici in die departement. Op 'n soortgelyke wyse was die netwerk van internasionale kundiges wat oor die jare bande met die ILN gehad het, ook instrumenteel in die ontwikkeling van kapasiteit en infrastruktuur.

Deesdae baat lasernavorsingsgroepe in Suid-Afrika grootliks van die NLS se verhuringspoelprogram, 'n toerustingondersteuningsprogram wat deur die Departement van Wetenskap en Innovasie gefinansier word en lasergebaseerde toepassings aan navorsers verskaf.  

Alhoewel mense van hierdie generasie geen ander keuse gehad het as om dinge reg te maak as hulle breek nie, gee hy toe dat hy as wetenskaplike gedryf word deur 'n sterk kreatiewe drang en nie deur toekennings en pryse nie.

“Ek is dalk nie een van die wêreld se topwetenskaplikes nie," sê hy grappenderwys, “maar dít is nie die dryfveer tot my werk as wetenskaplike nie. Dit is eerder die eenvoudige genot wat ek put uit my betrokkendheid by die lewe en deur dinge vir myself uit te pluis − hoe klein of groot dit ook al mag wees," sluit hy af.