Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Institusionele COVID-19-inentingsreël
Outeur: Prof Wim de Villiers Rector and Vice-Chancellor/ Rektor en Visekanselier
Gepubliseer: 30/11/2021

Beste kollegas en studente 

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die verpligte risikobepaling soos voorgeskryf deur die Gekonsolideerde Voorskrifte vir Beroepsgesondheid en -veiligheid in Sekere Werkplekke (Staatskennisgewing R 499 in Staatskoerant 44700 van 11 Junie 2021) onderneem om onder meer die risiko van COVID-19-oordrag en die risiko van ernstige koronavirussiekte by die Universiteit te bepaal.

Met die spesifieke omstandighede en die bedryfsvereistes van die Universiteit in gedagte, het die risikobepaling bevind dat daar 'n hoë risiko vir oordrag en vir ernstige COVID-19 by die Universiteit is. Dit is onder meer weens die feit dat die US as 'n residensiële universiteit vereis dat personeel, studente en diensverskaffers fisies op kampus moet wees vir akademiese, navorsings-, sosiale, administratiewe en ondersteuningsdienste.

Gegewe die risiko's wat in die risikobepaling geïdentifiseer is, en ná regsadvies ingewin is, het die US-bestuur tot die gevolgtrekking gekom dat 'n COVID-19-inentingsreël vir personeel, studente en ander bepaalde persone ingestel moet word. Die US het 'n regsverpligting teenoor sy personeel om 'n veilige werkomgewing te bied, en teenoor sy studente om 'n veilige leeromgewing daar te stel.

President Cyril Ramaphosa het in sy nasionale toespraak op 28 November 2021 Suid- Afrikaners daaraan herinner dat in die stryd teen die pandemie “die eerste en kragtigste instrument wat ons het, inenting is" en het bygevoeg dat die regering 'n taakspan aangestel het om te beraadslaag oor “om inenting verpligtend te maak vir spesifieke aktiwiteite en plekke". Die US-bestuur glo 'n residensiële universiteit se kampusse is sulke plekke waar aktiwiteite 'n inentingsreël vereis.

Die US beplan dus om 'n inentingsreël te publiseer wat vereis dat studente en personeel bewys van inenting lewer as 'n voorwaarde vir registrasie en om as student geregistreer te bly, en om die indiensneming van personeellede te bestuur. Die reël sal ook vereis dat bepaalde ander persone bewys van inenting moet lewer ten einde op kampus en by US-lokale toegelaat te word.

'n Konsepreël oor inenting word tans deur die US-bestuur oorweeg, waarna 'n interne en openbare konsultasieproses sal volg. By voltooiing van die interne en openbare konsultasieproses sal die konsepreël – wat hersien is soos nodig – vir oorweging en goedkeuring aan die toepaslike institusionele liggame van die US en uiteindelik die Raad voorgelê word.

Gegewe die tyd wat benodig word vir die openbare oorlegpleging en om almal die geleentheid te gee om ten volle ingeënt te word, sal die reël, indien die Raad dit goedkeur, in alle waarskynlikheid aan die begin van die tweede kwartaal van 2022 in werking tree.

Terugkerende en nuwe studente moet kennis neem van hierdie voorneme, aangesien die voorgenome reël, indien goedgekeur deur die US Raad, hul registrasiestatus vanaf die tweede kwartaal van 2022 sal beïnvloed.

Die US doen 'n dringende beroep op alle personeel en studente om so gou moontlik ingeënt te word, en om nie te wag totdat die reël in werking tree nie. Inentings is beskikbaar by die US se Lentelus-inentingsentrum in Hammanshandweg, Stellenbosch of by enige ander inentingsentrum nader aan jou tuiste.

Raadpleeg asseblief die Universiteit se tuisblad vir die jongste nuus en aankondigings, insluitende 'n toegewyde COVID-19-webblad en 'n COVID-19-intentingswebblad met 'n afdeling wat antwoorde op gereelde vrae verskaf.

Vriendelike groete,

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier​