Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mening - Wie vind dan regtig baat?
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 30/06/2021

​In 'n onlangse meningsartikel in Rapport Weekliks bespreek mnr Calumet Links, 'n dosent in die Departement Ekonomie, die gebruik van hulpbronne teen die agtergrond van die taalkwessie en vra wie by Afrikaans as onderrigmedium baat. Die artikel het verskyn onder die titel "Wie vind dan regtig baat?" in Rapport Weekliks.

  • Lees die artikel hieronder

Wie se kruistog is dit regtig?

*Calumet Links

In 'n onlangse artikel in Rapport Weekliks met die opskrif “Fatale verraad" doen prof. Hermann Giliomee 'n aanval op die Universiteit Stellenbosch met kritiek op die bestuur van die US se besluite rakende die posisie van Afrikaans as die hoofmedium van onderwys.

By tye herinner sy artikel byna aan 'n kruistog vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die US – die laaste ware bewaarder van akademiese Afrikaans.

Dit herinner sterk aan die Reconquista op die Iberiese skiereiland waar koningin Isabella van Kastilie en koning Ferdinand van Aragon vurig geveg het om die Islamitiese More te verdryf ten einde Spanje as 'n uitsluitlik Katolieke staat te vestig. Tog het hierdie godsdienstige kruistogte dikwels baie ingewikkelde lae wat afgeskil moet word om die ware motiewe daaragter te verstaan.

Giliomee se kruistog namens Afrikaans aan die US stem in baie opsigte hiermee ooreen.

Voordat ek my analogie gaan my voortsit, dink ek dis nodig om my persoonlike agtergrond te skets.

Ek is 'n jong akademikus verbonde aan die universiteit. Ek is sogenaamd bruin – hoewel dit vir my moeilik is om my met 'n ras te vereenselwig wat deur die Wet op Bevolkingsregistrasie Wet 30 van 1950 geskep is.

Ek kom uit Namakwaland in die Noord-Kaap wat my ongetwyfeld in die kategorie van die mitiese Afrikaanse bruin persoon plaas waarna Giliomee verwys het in sy artikel. Ek was ook 'n student aan die US en het genoeg gesien om kennis hieroor te kan hê.

Op grond van hierdie praktiese gesag het ek dit goedgedink om my mening uit te spreek, aangesien dit lyk of ander “kruisvaarders" dit goed vind om die stryd vir “ons" aan te pak – die begunstigdes van die US se taalbeleid.

Dit is baie belangrik om daarop te let dat 'n groot deel van my gemeenskap (ek gebruik hierdie term vrylik) arm is en ondanks die feit dat hulle in Namakwaland 'n goeie gehalte hoërskoolopleiding ontvang, kan hulle dit nie bekostig om aan die US – wat steeds as 'n elite-instelling beskou word, te studeer nie. Die meerderheid bruin Afrikaanssprekendes wat wel matriek slaag, sal nooit die skoonheid van Victoriastraat in die herfs sien of vinnig 'n koffie in die Neelsie kry nie – hulle weet nie eens dat hierdie plekke bestaan nie.

Die feit is dat hoewel 71% van bruin leerlinge matrikuleer, gradueer minder as 10% van hierdie skoolverlaters.

Ek erken wel dat die getal bruin Afrikaanse studente aan die US die afgelope 20 jaar toegeneem het, maar die taalbeleid het eintlik baie min daarmee te doen om die sosio-ekonomiese gaping tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes te oorbrug.

Die oplossing val onder die vaandel van die ekonomie en die Suid-Afrikaanse regering – 'n kwessie wat ek nie nou gaan aanraak nie.

Laat ons eerlik wees, as my werk as 'n jong akademikus in 'n Afrikaanse vakkundige tydskrif verskyn, wie gaan my akademies aanhaal? As ek nie publiseer en aangehaal word nie, vergaan ek. Dit beteken uiteindelik dat my loopbaan as 'n aspirant ekonoom in elk geval tot stilstand sal kom.

Daarbenewens het studente self gekies om Engelse klasse by te woon – in so 'n mate dat ons byna geen studente in Afrikaanse klasgroepe het nie. Ek het al 'n hele paar keer in 'n Afrikaanse klaslokaal opgedaag en letterlik alleen daar gestaan vir die hele 50 minute lange sessie. Aangesien studente self hul taal vir akademiese onderrig kies, bestee ons baie hulpbronne aan vertalings wat slegs 15% tot 20% van die studente in werklikheid lees.

Uiteindelik moet Afrikaanse doseer personeel 'n groter las dra weens vertalings, ondanks die feit dat daar hulpbronne beskikbaar is. Vertalers se werk is ook ontoereikend omdat hulle dikwels nie die vakspesifieke taal onder die knie het nie.

Die vraag is dus: Vir wie is hierdie kruistog en is daar nie 'n beter manier om ons hulpbronne aan te wend nie?

Waarvoor probeer die kruisvaarders regtig veg?

Ek vra myself dan hierdie baie belangrike vraag af wat nie gevra word nie: As die Afrikaanse bruin persoon wat so gereeld in hierdie kruistog voorgehou word as die begunstigde van die US taalbeleid nie regtig daarby baat vind nie en Engels as onderrigtaal verkies, wie baat dan daarby?

Net soos die onwrikbare Isabella en Ferdinand se stryd eeue gelede, is dit 'n soort stryd om aansien of 'n onverstandige poging om 'n taal te vereer wat springlewendig in ons gemeenskappe is?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek respekteer Giliomee opreg as 'n akademikus. Net soos wat die Spaanse heersers van weleer vir wetenskaplike ontdekking gedoen het, is hy 'n baie produktiewe historikus. Ek kan egter nie net toekyk hoe ons hulpbronne gebruik om Afrikaans as onderrigtaal te behou terwyl ons juis hierdie geld kon gebruik het om die bruin en swart student, wat net daarvan kan droom om die US by te woon, die geleentheid te bied om dit te doen nie.

Vergewe my as dit kras klink, maar doen ons nie 'n taal wat ek liefhet 'n oneer aan nie en gebruik ons dit nie net om 'n ander verskuilde agenda te beskerm nie? 

*Calumet Links is 'n dosent in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch