Die Wellingtonse krisanteskou is 'n belangrike gebeurtenis op die kultuurkalender van die dorp sedert die eerste skou in 1916 in die Pauw Gedenk Laerskool gehou is. Wat aanvanklik as 'n stokperdjie begin is, het ontaard in 'n ernstige besigheid en die kweker wat die kampioenblom kweek, ontvang 'n ere-plek in die Krisantevereniging se geskiedenis. Die afgelope 105 is die skou slegs op twee geleenthede nie aangebied nie: albei onder abnormale omstandighede. Dit was in 1947 tydens die Tweede Wereldoorlog en verlede jaar (2020) weens die Covid-19 pandemie.
Maar vir die res van die 103 jaar is die Krisanteskou in die eerste week van Mei aangebied. Daar was al droogtes, en oorloë, apartheid en kolonialisme. Maar die krisantekwekers slaag daarin om elke jaar gemiddeld 500 blomme van skougehalte uit te stal. Die krisant staan nie verniet bekend as die koningin van die Herfs nie. Vanjaar kon die volgelinge nie wag vir Saterdag 1 Mei se 105de jaarlikse skou nie. Weens die Covid-inperking is die gaste beperk tot 100 en weens die verslapping in die Covid-regulasies is die kwekers toegelaat om 'n eeue-oue tradisie voort te sit.
Die burgermeester van die Kaapse Wynland, dr. Elna von Slicht was die gasspreker en het die kwekers aangemoedig om die geskiedkundige tradisie te laat voortleef ongeag uitdagings soos droogtes, waterbeperkings en die Covid-pandemie. Daarna het sy die wenner aangekondig.
Die algehele wenner van vanjaar se krisanteskou was prof. Michael le Cordeur, voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie by die Opvoedkunde Fakulteit en jarelange inwoner van Wellington wat reeds die afgelope 30 jaar krisante kweek. Hy het die kuns van krisante kweek by sy pa, Michael le Cordeur, Senior (86) geleer, wat self al langer as 60 jaar krisante kweek en op 83 jaar ook as die kampioenkweker aangewys is. Michael senior is tans die Lewenslange president van die vereniging terwyl Michael Junior 'n voormalige voorsitter is.
“Dit is n tradisie wat van geslag tot geslag oorgedra word", vertel prof Michael. Le Cordeur het weggestap met 14 trofees. “Mens hoop mos diep in jou hart jy sal iets wen, maar nie in my wildste drome sou ek kon dink dat ek soveel pryse wen nie," vertel hy oor sy groot. Le Cordeur het die volgende pryse gewen:
Beste 3 Enhonoo-blomme, beste Louisa Pocket, beste Alfred Simpson, beste Refleks-blom (Jessie Hapgood), beste ligte blom (Kinnzanne), beste donkerblom (Enhonoo), beste intermediêre blom (B) (Racoon), beste intermediêre blom (A) (Kocka Shishi), beste medium blom (Stokes Eclipse), beste groot blom (Enhonoo), skild vir die meeste punte, die Freddie Cyster trofee vir die beste Aristokrat-spinnekopblom, kampioen Spinnekopblom (bronsmedalje) (Bon Voyage) en die kampioenblom (Mount Shasta) (silwer medalje van die Nasionale Krisante Vereniging). Daar was ook kleiner pryse.
Wat die geleentheid ekstra spesiaal gemaak het, was dat die Kwela Televisiespan van KykNet, die skou opgeneem het, wat op Sondag 30 Mei op nasionale TV uitgesaai is. “Nou het ek 'n fantastiese opname van my spesiale dag wat ek in die toekoms met my geliefdes en vriende kan deel", het Le Cordeur na die tyd gesê.
Vir diegene wat dink dit is net plant en water gee, het hy nuus: “Dit verg baie , baie meer as dit om 'n kampioenkrisant te kweek. Dit duur presies 9 maande vandat jy die plantjie geplant het, voordat die baba gebore word en jy die blom in jou tuin kan besigtig. Dit vra vir die regte grondsamestelling, gereelde en 'n intensiewe voedings- en spuitprogram. Die krisant het vanaf Japan en China via Engeland by ons aangekom het. Heelwat van die blomme is – soos hulle name aandui – ingevoer uit Japan.
Hy doen al baie lank navorsing oor die regte grond- en voedingsprogram. Dit vra 'n gebalanseerde program wat hy oor die jare voortdurend moes aanpas om by Wellington se warm klimaat waar dit in die somer gereeld 40 grade C word. Omdat die krisant uitheems is, het die blom baie natuurlike vyande waarteen die plant en die blom beskerm moet word. Tans gebruik hy slegs organiese middels en voedingstowwe omdat jy ook aan die behoud van jou grond moet dink. Hy maak sy eie kompos en elke groenteblaar, eierdop en vrugteskil word met sorg deur sy vrou, Sonia, bymekaar gemaak. Niks word weggegooi nie. Sy navorsing dui ook daarop dat reënwater die beste resultate lewer. Gevolglik het hy reeds drie watertenke geïnstalleer met 'n waterpomp.
“Elke krisis bring iets goed na vore", sê hy. Die droogte het ons geleer om nie afhanklik te wees van kraanwater nie, en die Korona-virus het ons gedwing om meer tyd tuis in jou tuin deur te bring. Dit het ook gesorg dat hy meer navorsing kon doen wat tot beter resultate gelei het.
Le Cordeur is meer bekend as 'n navorser en skrywer oor taal en die opvoedkunde en is 'n gereelde kommentator in die media oor taalverwante sake en opvoedkundige kwessies. Hy behartig sy eie tweeweeklikse rubriek in die plaaslike dagblad, Die Burger en skryf ook vir die Daily Maverick. Hy is onder andere al aangewys as een van die US se media-denkleiers (2018). In 2014 ontvang hy die universiteit se kanselierstoekenning en in 2020 die Neville Alexander-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans.
“Die kweek van krisante is iets wat ek sal aanbeveel vir elkeen. Die tyd wat ek in die tuin met my blomme deurbring is werklik terapeuties. Na 'n lang dag op kantoor en in die klas, kan ek hier kom stoom afblaas en my lot bekla teenoor my blomme". Elke blom het 'n naam en hy ken elke plant se swakhede en sterkpunte. Hy knipoog as hy vertel hoe hy met sy blomme gesels en hul,aanmoedig om uit te blink. “Die beste van alles is: hulle praat nooit terug nie!"
Hy teken al sy navorsing sorgvuldig op en is van voorneme om sy dit saam met sy resultate in 'n botaniese tydskryf te publiseer waarna hy 'n boek wil skryf oor die kweek van krisante.
Foto: Le Cordeur in sy krisante-kweekhuis.