Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'SciMathUS baan die weg na my MBA-studies'
Outeur: Modesty Lewis
Gepubliseer: 09/06/2021

Wat ʼn aangename reis was dit nie! Ek is gebore en getoë in Paarl en is die jongste van drie kinders. In my Graad 10 jaar het ek ʼn gesprek met my ouers gehad oor my toekomsplanne en het gou besef dat hul nie enigsins in staat sal wees om my finansieel te ondersteun tydens my studies nie en dit sou beteken dat ek baie hard moes werk om my ambisie om verder te studeer te verwesenlik.

Alhoewel die kompetisie onder my eweknieë groot was, het ek daarin geslaag om elke jaar een van die top 10 presteerders te wees in wiskunde; wiskunde was altyd my gunsteling. Toe ek uiteindelik in my matriekjaar kom, het ek gedink ek is gereed om in die wêreld uit te gaan en 'n meganiese ingenieur te word. Min het ek geweet dat ek glad nie toegerus was nie totdat ek die nasionale wiskunde-eksamenvraestel in die gesig gestaar het. Ek was so teleurgesteld toe ek besef dat ek nie sal kon bereik wat ek beplan het nie.

Alhoewel ek vroeër daardie jaar vir SciMathUS as 'n rugsteunplan aansoek gedoen het, het dit nooit by my opgekom dat ek dit nodig gehad het nie. Ek dank God vir die onderwyser wat my van hierdie oorbruggingskursus vertel het, want dit was die tweede kans wat ek nodig gehad het. Ek het so verlore gevoel toe my planne uitmekaar val; ek was beslis nie bereid om my visier op enigiets anders te rig as ingenieurswese nie. Dit was ook die begin van 'n nuwe reis in my lewe, ek het afskeid geneem van my hoërskoolloopbaan en ʼn nuwe ekspedisie met die SciMathUS-span begin.

My SciMathUS-jaar was waarskynlik die beste jaar van my tienerjare. Ek kon die kampuslewe ervaar en nuwe vriende maak van dwarsoor Suid-Afrika, terwyl ek aan my aangepaste doelwitte werk. Wat vir my uitgestaan het, is al die nuwe mense wat ek ontmoet het en die bou van nuwe verhoudings. Jy kon jou gedagtes uitspreek, klasmaats het mekaar respekteer, en jy kon weer vrae vra totdat jy dit verstaan het. Die fasiliteerders was baie ondersteunend en maklik om mee te werk. SciMathUS het beslis 'n deur in my kop oopgemaak  wat ek nie geweet het bestaan nie.

Die ander programme was ook tot ons voordeel, veral in my gekose rigting. Ons het 'n inleidende kursus in ingenieurstekeninge gedoen wat regtig gehelp het in my eerste jaar as ingenieurswese student. Die rekenaarkursus het my gehelp om die Universiteit se webwerf te navigeer, asook om e-posse, Excel en Word-programme onder die knie te kry. Die kommunikasie program het my vaardighede ontwikkel om verslae te skryf en behoorlike e-posse op te stel wat professionaliteit vertoon. Ons was regtig bederf met al hierdie vaardighede, en al wat ons moes doen was om op te daag en hard te werk.

SciMathUS het my blootstelling aan die kampuslewe gegee en ook die nodige ondersteuningstelsel voorsien wat nodig is om jouself toe te rus vir universiteitstudies. Die fasiliteerders het voldoende leiding gegee en ons nuwe en doeltreffender maniere geleer om te studeer wat ek kon gebruik as student.

Nadat ek my Meganiese Ingenieurswese graad behaal het, het ek begin werk as 'n junior ingenieur by GRW-ingenieurswese in Worcester. Hierdie jaar is ek nou al agt jaar by die maatskappy en ek is al verskeie kere bevorder. Tans is ek ʼn produkontwerpingenieur. Verder het my passie vir mense en leierskap daartoe gelei dat ek ʼn MBA aangepak het en my graad in 2020 behaal. Vir diegene wat dalk voel asof hulle 'n doodloopstraat bereik het of indien jy onseker is oor jou toekomstige studiekeuse, oorweeg gerus SciMathUS!

Al het jy net 'n rugsteunplan nodig, kan SciMathUS dit wees. 'n Oorbruggingskursus is nie 'n skande nie. Dit is bloot 'n alternatiewe roete om jou drome te verwesenlik, en ek is 'n suksesvolle bewys daarvan. SciMathUS het my lewe verander. Ek kon my punte aansienlik verbeter en het 'n universiteitsbeurs bekom wat my klasgelde gedek het. Na ʼn paar maande het ek egter ʼn volle beurs ontvang wat my studiekoste kon dek. Dit was beslis nie maklik om te kom waar ek vandag is nie. Ek moes hard werk en baie opofferings gemaak, maar uiteindelik was dit die moeite werd.