Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US lei nuwe gender-transformerende seksuele- en reproduktiewe gesondheidsintervensiestudie
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Anina Visser
Gepubliseer: 20/04/2021

​Prof Sarah Skeen van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het onlangs ʼn navorsingstoekenning ter waarde van £638 050 (R12,5 miljoen) van die Verenigde Koninkryk se Mediese Navorsingsraad ontvang. Skeen, die mededirekteur van die Instituut vir Lewensgang Gesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid, sal ʼn optimalisasie- en uitvoerbaarheid-proef genaamd 'If I Were Thabo' doen. 

'If I Were Thabo' is ʼn gender-transformerende seksuele- en reproduktiewe gesondheidsintervensie wat gemik is op jong adolessente in Khayelitsha, Suid-Afrika, en Maseru, Lesotho. Dit is ʼn gesamentlike onderneming tussen die Universiteit Stellenbosch en Queens Universiteit Belfast, en sal onderskeidelik deur Skeen en Dr Aine Aventin gelei word. 

“Die projek is ʼn verwerking en uitvoerbaarheidstudie van die program, 'If I Were Jack', wat in die Verenigde Koninkryk ontwikkel is," verduidelik Skeen. “Die oorspronklike program sluit ʼn kultureel-sensitiewe film in oor ʼn adolessent wat uitvind dat sy meisie onverwags swanger is, en ʼn geleide gesprek oor hoe deelnemers sou voel en reageer in sy posisie." 

Wat dit ʼn unieke program maak is die skuif van fokus van adolessente se seksuele en reproduktiewe gesondheid na seuns en jong mans en dit gebruik ʼn gender-transformerende benadering. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, spreek gender-transformerende seksuele- en reproduktiewe gesondheidsintervensies die grondoorsaak van gender-gebaseerde ongelykhede in gesondheid deur intervensies wat skadelike en ongelyke gender-norms regstel wat mans bo vroue bevoorreg. “Daar is ook gevind dat gender-transformerende benaderings die faktore ontwrig wat aanleiding gee tot swak gesondheiduitkomste, en MIV-infeksie en tienerswangerskap dryf," sê Skeen.

Wêreldwyd is daar ʼn paar intervensies wat met mans en seuns skakel om gendergelykheid te bevorder, maar die getalle is klein. ʼn Onlangse oorsig wat in die British Medical Journal gepubliseer is toon dat slegs 8,4% van seksuele- en reproduktiewe gesondheidintervensies wat op adolessente seuns gemik is, gender-transformerend is. Tog is daar genoeg bewyse wat aandui dat hierdie benaderings seksuele en reproduktiewe gesondheidsverwante gedrag verbeter.

In Suid-Afrika is genderongelykheid ʼn dringende menseregte- en ontwikkelingkwessie. Volgens Skeens het ongelyke gender-norme ʼn negatiewe impak op seksuele- en reproduktiewe-gesondheid en hou verband met ʼn toename in geslagsgeweld en beperk dit vrou se beheer oor gesondheidsverwante besluitneming. Die ontwikkeling en instelling van ʼn program soos 'If I were Thabo' sal hopelik meer gelykheid in hierdie opsig teweeg bring.

Die vormende werk om die huidige projek in te lig is gedoen deur die opinies van adolessente en andere in te win oor die intervensie-inhoud en die veranderinge wat gemaak moet word. Vir Skeen en haar span is die volgende stap om die programmateriaal aan te pas vir gebruik in Suid-Afrika en Lesotho. In samewerking met ondermeer adolessente, onderwysers en versorgers, sal die navorsingspan nuwe films by elke perseel ontwikkel en ander intervensiemateriaal aanpas. “Sodra die proses voltooi is, sal ons ʼn loodsproef van die program doen om te bepaal of die intervensie implementasie en evaluasie ontwerk uitvoerbaar is in albei lande," verduidelik Skeen.

Iets wat uitstaan van hierdie studie is die aantal projekvennote wat betrokke is, insluitend die Universiteit Stellenbosch; Queens Universiteit Belfast; die Nasionale Universiteit van Lesotho; Suid-Afrika en Lesotho se regerings; en Promundo en Sonke Gender Justice, twee globale organisasies wat daarop gemik is met mans te skakel om gender-gelykheid te bevorder. Skeen sê dit is baie belonend om by ʼn projek betrokke te wees wat so nou saamwerk met adolessente en wat gedryf word deur hulle prioriteite en voorkeure. Dit is ook opwindend om terselfdertyd op twee persele te werk. “Ons het voorheen op ʼn baie suksesvolle intervensieprojek in Lesotho gewerk en ek sien baie uit daarna om saam met die toegewyde en bekwame kollegas te werk wat ons daar het."

Vir verdere inligting oor 'If I were Thabo', kontak Prof Sarah Skeen by skeen@sun.ac.za