Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pandemie tref kinders hard
Outeur: Mark Tomlinson, Linda Richter & Wiedaad Slemming
Gepubliseer: 18/02/2021

Die COVID-19-pandemie het ʼn impak op ons almal gehad, maar veral kinders hard getref. Hoewel hulle die kleinste risiko vir die ernstige direkte gevolge van die virus het, is hulle egter die groep met die hoogste risiko van alle ouderdomsgroepe vir die indirekte nadelige nagevolge van die pandemie en die pogings om dit te bekamp. Só meen prof Mark Tomlinson (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing), en prof Linda Richter en dr Wiedaad Slemming (beide van die Universiteit van die Witwatersrand) in ʼn meningsartikel vir News24 (17 Februarie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Mark Tomlinson, Linda Richter en Wiedaad Slemming*

Binne die verloop van 12 maande het ons baie vinnig gevorder van 'n veraf bekommernis oor 'n virus in 'n vars mark in 'n stad in China waarvan die meeste van ons nog nie eens gehoor het nie, tot 108 153 741 bevestigde gevalle van COVID-19 (soos op 14 Februarie 2021), insluitende 2 381 295 sterftes; meer as 600 nuwe variante van die virus; vier entstowwe wat ten volle goedgekeur is en nog ses in 'n vroeë of beperkte stadium van gebruik, en nog 87 entstowwe in verskeie stadiums van ontwikkeling.

Ons kan almal goed saamgesels oor baie van die wetenskap en hoe ouderdom, onderliggende siektetoestande en ongelykheid alles saamwerk om 'n toksiese mengsel vir sommige groepe meer as vir ander te skep. Een ouderdomsgroep – kinders (0–18 jaar) – die groep wat die kleinste risiko het vir die ernstige direkte gevolge van die virus, naamlik siekte en sterfte – is egter die selfde groep met die hoogste risiko van alle ouderdomsgroepe vir die indirekte nadelige nagevolge van die pandemie en die pogings om dit te bekamp.

In 'n land soos Suid-Afrika wat steeds sukkel om twee ander epidemies – HIV en TB – te beteuel wat veroorsaak het dat baie kinders hul ouers verloor, het ons nou 'n pandemie waar meer as 20% van alle sterftes onder mense ouer as 65 jaar voorkom. Dit beteken kinders verloor grootouers wat in baie gevalle hul primêre versorger en bron van finansiële ondersteuning is. Siekte, afsondering en kwarantyn mag tot gevolg hê dat pasgebore babas en jong kinders van hul ma's geskei word – 'n ondervinding wat ons weet baie negatief vir baba- en kinderontwikkeling is.

Suid-Afrika se eerste tydperk van algehele inperking het 'n katastrofiese uitwerking op inkomste en voedselveiligheid gehad, en is verder vererger deurdat honderdeduisende kinders nie etes by die skool ontvang het nie. Die uitwerking van voedselonsekerheid op kinders se groeibelemmering en latere ontwikkeling regdeur hul lewens is alombekend, maar dit het ook tot vrees en paniek, angs en depressie en veranderings in gesins- en sosiale verhoudings gelei.

Daar word wêreldwyd voorspel dat daar meer as 'n miljoen voorkombare kindersterftes gaan wees, tesame met 'n toename in wanvoeding en groeibelemmering. Sowat 1,5 miljard kinders baat nie by deurlopende skoolopleiding nie weens die voortslepende inperkings wêreldwyd, met die moontlikheid dat baie kinders nooit sal teruggaan skool toe nie. Regoor die wêreld en in Suid-Afrika is daar baie gesinne en kinders sonder digitale toestelle of internetverbindings en arm kinders gaan agterraak in die opvoedkundige stelsel omdat hulle nie toegang tot 'tuisonderrig' het nie.

Ons gebruik die term grootmaaksorg om na dít te verwys waarvoor kinders van alle ouderdomme op ouers en gesinne staatmaak ten opsigte van gesondheidsorg, voedsame voedsel, beskerming, leergeleenthede en liefde en toegeneentheid. Alle gesinne, maar veral arm gesinne, se vermoë om grootmaaksorg aan hul kinders te verskaf, hang in 'n groot mate af van instaatstellende omgewings. 'n Instaatstellende omgewing is 'n omgewing waar ordentlike werk, behuising, gesondheidsorg, maatskaplike sekuriteit en wette beskikbaar is wat hulle ondersteun. Namate kinders ouer word, brei belangrike bronne van grootmaaksorg uit om die breër familienetwerk, kinderversorgers, onderwysers, gemeenskapslede en veral belangrik, vriende en maats van dieselfde ouderdom in te sluit.

Grootmaaksorg kan skipbreuk ly wanneer instaatstellende omgewings ontwrig word, soos byvoorbeeld gedurende 'n inperkingstydperk. 'n Verlies aan inkomste en onderbreking in gesondheidsorg hou 'n direkte bedreiging vir kinders se gesondheid en welstand in. Ouers wat hul eie angs en geestesgesondheidbedreigings ondervind, sal dit al hoe moeiliker vind om hul kinders van die vrees wat deur die media, gesprekke rondom hulle, versorging van siek familie en vriende en die afsterwe van mense na aan hulle, te beskerm. Stresvolle situasies beïnvloed mense op verskillende maniere, met sommige wat onttrek en emosioneel afwesig word – wat veral skadelik vir jong kinders is. Ander mag dalk maklik kwaad word en dit dan verbaal en fisiek op ander, insluitende kinders, uithaal. Herhaalde geweld is veral skadelik vir jong kinders.

Ondersteunende volwassenes buite die huishouding, soos byvoorbeeld uitgebreide familie en opvoeders, is baie belangrik vir kinders. Isolasie wat deur die inperkings veroorsaak is, het die gewone balans van negatiewe en beskermende ervarings wat kinders in staat stel om op 'n daaglikse grondslag dinge te hanteer, ontwrig. Selfs wanneer kinders toegang tot digitale hulpbronne het en tuis skoolgaan, het die inperking die uiters belangrike informele leer ontwrig wat plaasvind wanneer kinders met onderwysers, afrigters, mentors en vriende omgaan. Netwerke van vriende is veral belangrik vir adolessente. Wanneer adolessente tuis “vasgevang" is saam met ouers wat hul eie vrese en bekommernisse het, is hulle al hoe meer geneig om te ontplof of om te onttrek.

Die eeue-oue wetenskap van kinderontwikkeling getuig van die skadelike uitwerking wat dit op babas het om van hul ma's geskei te word gedurende hul eerste maande ná geboorte; op kinders wat onbeheerbare vrees ervaar sonder die bemiddelende versekering van selfversekerde volwassenes; en van uitwerking van fisieke, emosionele en seksuele misbruik op kinders. Skade wat tydens kinderjare opgedoen word, manifesteer regdeur die kind se lewe op verskeie maniere: swak skolastiese prestasie, 'n gebrek aan gesonde en bevredigende verhoudings, onstabiele geestesgesondheid, laer vlakke van werksproduktiwiteit en minder sosiale stabiliteit.

Maar vir alles is daar 'n keersy. Wanneer kinders die koesterende sorg van familie en vriende ervaar en in omgewings woon wat aan hul basiese behoeftes voorsien, kan hulle ongelooflik veerkragtig wees. Dit moet ook in gedagte gehou word dat kinders en adolessente gesondheid op 'n kragtige manier kan bevorder. Kyk maar na kind-tot-kind-veldtogte. Hulle is dikwels meer gewillig as hul ouers en volwassenes rondom hulle om reëls en riglyne te aanvaar om hulself en ander te beskerm. Van die aktiefste ondersteuners tans van openbare gesondheidsbenaderings om die pandemie te hanteer, is kinders en adolessente.

Die grondslag van menslike welstand word gedurende kinderjare gele. As ons nie vandag en deur die verloop van die lewe instaatstellende omgewings en versorgendende, koesterende sorg vir ons kinders skep en verskaf nie, sal die toekomstige welstand van die wêreld in die weegskaal wees. Indien ons hierdie pandemie se verreikende implikasies op ons kinders ignoreer, sal Suid-Afrika nie floreer nie. Ons kan nie bekostig om ons kinders en adolessente aan 'n magdom kumulatiewe risiko's regdeur hul leeftyd oor te lewer, bloot net omdat hulle die laagste risiko loop om aan te steek nie. Ons moet dadelik en dringend optree.

*Prof Mark Tomlinson is mededirekteur van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch. Prof Linda Richter is direkteur van die DWI-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Menslike Ontwikkeling aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dr Wiedaad Slemming is 'n senior dosent in die afdeling vir Gemeenskapspediatrie in die departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hierdie artikel ten nouste gegrond op hul onlangse navorsingartikel, 'What the science of child and adolescent development contributes to understanding the impacts of COVID-19' wat in die South African Journal of Science verskyn het.