Prof Thuli Madonsela, bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid se navorsingsleerstoel in sosiale geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch, is deur die Franse President, mnr Emmanuel Macron, aangestel as Chevalier (Kavalier) in die Franse Nasionale Orde van die Erelegioen, oftewel die Ordre national de la Légion d'honneur.
Die Orde vier die prestasies van vooraanstaande individue, ongeag sosiale stand of nasionaliteit. Dit word beskou as die hoogste eerbewys in Frankryk en is in 1802 deur Napoleon Bonaparte in die lewe geroep.
Die Orde word in vyf klasse toegeken: Chevalier (Kavalier), Officier (Offisier), Commandeur (Kommandant), Grand Officier (Hoofoffisier) en Grand-Croix (Hoofkruis). Die voormalige president, mnr Nelson Mandela, was in 1994 'n ontvanger van die klas Hoofkruis.
Vorige ontvangers van die klas Kavalier sluit in Nadine Gordimer, Ahmed Kathrada, Desmond Tutu, Mamphela Ramphele, Miriam Makeba, André P. Brink en Zanele Muholi.
Macron het die Orde op 20 November 2020 aan Madonsela toegeken. Die amptelike geleentheid om die insignia aan Madonsela te oorhandig sal plaasvind sodra die COVID-19 situasie verbeter het – soos ooreengekom tussen die Franse Ambassadeur, Aurelien Lechevallier, en Madonsela. 'n Aankondiging hieroor volg.
In sy skrywe aan Madonsela het Lechevallier gesê dat Madonsela vereer word vir haar merkwaardige prestasies wat betref die oppergesag van die reg en die stryd teen korrupsie in Suid-Afrika.
Volgens Madonsela kan sy nie die regte woorde vind om die diepte van haar dankbaarheid aan die president en die inwoners van Frankryk vir hierdie ongelooflike eer te betuig nie. “Soos in die geval van my vorige toekennings, doen ek my werk om waarde toe te voeg tot die mensdom uit liefde en waardering wat aan my bewys is in die navolging van my taak. Erkenning van hierdie omvang ontlok egter 'n geweldige dankbaarheid by my soos wat dit my werk oor sosiale geregtigheid, die oppergesag van die reg en etiese regering belig. Ek glo dat dit kom vanuit 'n plek van waardering vir ons onderlinge verbondenheid as die mensdom ongeag hoe ons geskei word deur oseane en grense."
Madonsela het bygevoeg dat sy die eerbewys namens die Openbare Beskermerspan, wat sewe jaar lank saam met haar gewerk het in die strewe na 'n etiese en verantwoordbare regering, aanvaar. “Ek aanvaar ook die toekenning namens my kollegas aan die Universiteit Stellenbosch wat saam met my baanbrekerswerk doen op die gebied van navorsing, beleidshervorming en burgerlike mobilisering oor sosiale geregtigheid – met die hoop om vordering te maak om armoede te beëindig en strukturele ongelykheid teen 2030 te verminder, in ooreenstemming met die wêreldwye volhoubare Ontwikkelingsdoelstellings (SDG's). Ek aanvaar dit ook namens my Thuma-stigting-kollegas, wat meestal vrywilligers is wat hul tyd en middele gee om demokrasie vir almal te laat werk deur middel van demokrasie-leierskap en geletterdheid. "