Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US onder die wêreld se beste in uitnemende navorsing en innovasie
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 02/09/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) word plaaslik en in die buiteland erken vir sy uitnemende navorsing en innovasie. Dit is weer eens bevestig in die jongste Times Higher Education (THE)-wêreldranglys vir universiteite vir 2021, wat vandag (Woensdag, 2 September 2020 – embargo 13:00) vrygestel is.

Die Universiteit verskyn in die kategorie 251–300 en beklee die derde plek onder Suid-Afrika se voorste universiteite. Altesame 1 527 instellings uit 93 lande verskyn op die ranglys.

As 'n gesaghebbende ranglys van die wêreld se beste universiteite, is die THE-wêreldranglys vir universiteite die enigste wêreldwye prestasievoorranglys wat navorsingsintensiewe universiteite dwarsoor al hul kerndoelwitte, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale uitkyk, beoordeel.

Prof Hester Klopper, die US se Viserektor vir Strategie en Internasionalisering, het in reaksie op die instelling se jongste prestasie gesê die US se gevestigde plek op die ranglys is 'n bewys van die US se wêreldwye navorsingsimpak en die aansien wat die gehalte en statuur van sy navorsers geniet. “Om in die 251-300-katgorie te verskyn, beteken die US het ver bo die meerderheid universiteite wêreldwyd wat deelgeneem het, presteer. Hoewel die Universiteit bewus is van die belangrike rol wat ranglyste in die algehele beskouing van 'n instelling se akademiese en navorsingsreputasie speel, bly ons gefokus op akademiese en navorsingsuitnemendheid wat die wêreld 'n beter plek vir almal sal maak. Dit is egter baie bevredigend om internasionale erkenning te ontvang in ons strewe om Afrika se voorste navorsingsintensiewe te word wat wêreldwyd erken word as 'n plek van uitnemendheid en innovasie waar kennis tot diens van die samelewing bevorder word."

Aanwysers  

Die US het weer vanjaar in die aanwysers Bedryfsinkomste (kennisoordrag en 'n universiteit se vermoë om befondsing uit die handelsmark te lok), Navorsing (aantal akademiese artikels wat verskyn het, reputasie vir navorsingsuitnemendheid en inkomste) en Sitasies (aantal kere wat gepubliseerde werk van die universiteit wêreldwyd deur vakkundiges aangehaal word) verbeter.

Die belangrikste verbetering was die bedryfsinkomstetelling* van die vorige (2020) telling van 59,1 tot 73,1 op die 2021 THE-wêreldranglys (verbetering van 23,7%). Hierdie telling van 73,1 en die 152ste plek uit 1 527 universiteite wat vir die 2021 THE-wêreldranglys beoordeel is, beteken die US het ver bo die oorgrote meerderheid universiteite wêreldwyd wat aan hierdie beoordeling deelgeneem het, presteer. Die middelwaardetelling vir alle universiteite wat op grond van hierdie aanwysers beoordeel is, is 38,5, terwyl die derde kwartiel teen 50 bereken is en die boonste punt is 72,8, wat beteken 'n telling van 73,1 is 'n top-uitskietertelling. 

Die US het ook verlede maand onder die voorste universiteite op die 2020 Academic Ranking of World Universities (ARWU), ook bekend as die Shanghai-ranglys, verskyn.

*Die THE-wêreldranglys vir universiteite beskryf die bedryfsaanwyser soos volg: “'n Universiteit se vermoë om bedrywe en industrieë te help met innovasie, ontdekkings en konsultasie het 'n kerndoelwit vir die moderne wêreldwye akademie geword. Hierdie kategorie poog om hierdie aktiwiteit van kennisoordrag te beoordeel deur te kyk na hoeveel navorsingsinkomste 'n instelling uit bedrywe en industrieë (aangepas vir PPP) verdien teenoor die aantal akademiese personeel wat die universiteit in diens het. Hierdie kategorie dui die omvang aan van sakeondernemings se bereidheid om vir navorsing te betaal, asook 'n universiteit se vermoë om befondsing uit die handelsmark te lok – nuttige aanwysers vir institusionele gehalte."