Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Digitale gesprek bekyk impak van COVID-19 op gemarginaliseerde groepe
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 07/05/2020

​Die uitwerking van die wêreldwye COVID-19-pandemie op histories-benadeelde groepe het onlangs onder die soeklig gekom in 'n tweeledige interaktiewe digitale gesprek wat daarop gemik was om die regering te help om reaksies op COVID-19 te formuleer.

Die rondetafelgesprekke rondom COVID-19 is aangebied deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Madonsela het gesê kommer oor die wêreldwye gesondheidsbedreiging wat COVID-19 inhou en die implikasies van die pandemie en beleidsreaksies daarop vir sosiale geregtigheid – soos gereflekteer in die gelyke genieting van alle regte en vryhede, die oppergesag van die reg en vrede – het aanleiding tot die intervensie gegee.

Die gesprek het gehelp om die beleidsreaksies op die COVID-19-pandemie te identifiseer, deur te kyk en te beoordeel. Daar is kennis geneem van wat gewerk het en wat nie gewerk het nie, en waarom, en op die ou einde is daar met voorstelle vorendag gekom wat daarop gemik was om sleutelsektore in die samelewing by meer sosiaal regverdige reaksies en uitkomste te betrek.

Die besprekings rondom die COVID-19-pandemie het afgeskop met gesprekke oor die interverbindings van kwessies rondom die pandemie. Kwessies wat uitgelig is, het die uitwerking van die algehele inperking en sosiale afstandskepping op arm en gemarginaliseerde groepe ingesluit en hoe die regering bygestaan kon word in die opstel van reaksies op die pandemie.

“Die regering moet in die ontwerp van reaksies op COVID-19 en in hul beplanning bewus wees van die spesifieke uitwerking van die virus op kwetsbare en gemarginaliseerde groepe. Hulle moet verseker dat hul planne en strategieë rekening hou met die behoeftes en ondervindings van hierdie groepe," het Madonsela gesê.

Sy het bygevoeg hulle besef streng maatreëls is nodig om die verspreiding van COVID-19 te bekamp, maar beleidsreaksies sal stellig 'n ongelyke uitwerking regoor diverse kontekste hê, en weens voorafbestaande sosio-ekonomiese foutlyne was die verergering van armoede en ongelykheid onafwendbaar tensy dit doelbewus aangespreek sou word.

Die tweede gesprek, wat op 23 April 2020 gehou is, het op die finalisering van 'n algemene verklaring gefokus wat aan die regering oorhandig sou word in 'n poging om meer inklusief te wees en weer van die beperkings te heroorweeg, eerder as om 'n benadering te volg wat almal oor dieselfde kam skeer.

Madonsela het gesê krisisse het 'n neiging om mense uitmekaar te dryf, en dit word dikwels deur leierskap bepaal. Sy het egter die Suid-Afrikaanse regering en die land se president geloof vir die manier waarop die landsburgers verenig is en hoe almal aan die uitdaging op hande herinner is.

“Ons erken met diepe dankbaarheid en lof die regering, handel, burgerlike samelewing en die internasionale gemeenskap se vinnige beleids- en hulplenigingreaksies op COVID-19 en neem kennis van die onderliggende welwillendheid," het sy gesê.

“Ons moet die regering loof vir die reaksie en hul pogings in hierdie moeilike tyd, maar ons kan nie onsself blind staar teen die gapings wat nuwe sosiale ongeregtighede kan veroorsaak nie," het sy bygevoeg.

Die algemene verklaring wat beleidsveranderinge voorstel was die eindresultaat van sewe werksgroepe op gebiede soos Ekonomie en Ekonomiese Regte, Voedselsekerheid en Ander Maatskaplike Regte, Onderwys, Armoedekartering en Data, Gesondheid en Geestesgesondheid, Oppergesag van die Reg en Beleidsnavolging, en Geslag – Dwarssnede-kwessies.

Fasiliteerders van die digitale gespreke het Marna Lourens, projekbestuurder by die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg; prof Sandra Fredman, regsprofessor by Oxford-universiteit; dr Pali Lehohla, die voormalige statistikus-generaal; aantekenaar van die geleefde ervarings van swart vroue, Nokwanda Sihlali; prof Jason Bantjies, verbonde aan die departement Sielkunde by die US; en Motsoari Nthunya, 'n studente-aktivis, ingesluit.

Om die volledige verklaring te lees, klik hier.

Foto: Unsplash