ʼn Blink toekoms wink vir dr Lungiswa Nkonki, 'n senior dosent in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat gekies is om aan die “Future Professors Programme" (FPP) deel te neem.
Die FPP – ʼn nasionale kapasiteitsbou-program – het ten doel om senior navorsers/dosente in ʼn korter tydperk as normaalweg die pad na adjunk- en volle professor te laat stap. Dit bied ʼn gestruktureerde kurrikulum wat intensiewe seminare en internasionale plasings insluit.
“Ek is baie opgewonde. Dit is baie goeie nuus om die jaar mee af te skop, en op ʼn manier ook erkenning vir die werk wat ek tot dusver gedoen het," het Nkonki (38) gesê.
Nominasies is deur al 26 universiteite ingedien vir die eerste fase van die program, wat in Januarie vanjaar afgeskop het. Net 29 was uiteindelik suksesvol.
Dr Naledi Pandor, voormalige Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, was die inisieerder van die program, met prof Jonathan Jansen van die Fakulteit Opvoedkunde aan die US wat nou aan die hoof daarvan staan.
“Hierdie mentorskop is baie belangrik," het Nkonki gesê. “Ek glo dat jy op jou reis moet loop langs diegene wat soortgelyke opleiding as jy ondergaan het. Prof Jansen is ʼn gerekende akademikus wat ʼn betekenisvolle bydrae in Suid-Afrika gelewer het. Ek het bewondering daarvoor. Dit is werklik ʼn voorreg en ʼn eer om hom, en enigiemand anders wat hy aan boord bring, as mentor te hê.
Jansen het vroeër verduidelik dat die program daarop fokus om gedugte navorsingsprofessore op te lewer. Omdat dit transformasie ten doel het, is die teiken vroue en swart akademici. Die evalueringstelsel van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) word ingespan vir die identifisering van kandidate met bewese sukses wat publikasie in gerekende joernale betref.
Nkonki is in Port Elizabeth gebore en woon tans in Claremont, Kaapstad. Sy het ʼn graad in Mediese Biowetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal, gevolg deur ʼn BSc-honneurs.
Haar belangstelling in openbare gesondheid het vlamgevat tydens haar internskap by die Health Systems Trust.
Nadat sy ʼn meestersgraad in Openbare Gesondheid aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, met die klem op Gesondheidsekonomie, het sy ʼn MSc in Ekonomie aan die Universiteit van Sussex in Groot-Brittanje behaal. In 2012 het sy haar PhD in Gesondheidsekonomie aan die Universiteit van Bergen in Noorweë voltooi.
Nkonki, ʼn senior dosent in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het in 2012 by die US begin werk. Sy het ʼn Y-evaluering van die NNS en haar wetenskaplike bydrae sluit in 21 eweknie-geëvalueerde publikasies, waarvan agt as eerste outeur.
In 2014 is sy as paneellid aangestel vir die Mededingingskommissie se markondersoek na private gesondheidsorg. Dit was die eerste bewysgebaseerde proses in Suid-Afrika waartydens bewyse noukeurig ingesamel en die private gesondheidsmark bestudeer is. Die finale verslag is in September verlede jaar uitgereik.
“Ek is bly dat Suid-Afrika ʼn reis in die rigting van algemene gesondheidsdekking onderneem het," sê sy. “My visie is ʼn bydrae tot ʼn uitstekende gesondheidsekonomie en gesondheidsnavorsing wat werklik sal help dat Suid-Afrika se gesondheidsorgvoorsiening en ook gesondheidsuitkomste sal verbeter."
Foto-erkenning: Stefan Els