Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Daniel Barrish is SA se skaakkampioen
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 05/02/2020

Wanneer dit kom by lewensdoelwitte, is daar niks beskroomd aan die Maties Sport-skaakspeler en heersende Suid-Afrikaanse nasionale skaakkampioen Daniel Barrish nie.

En hoekom sou jy terughoudend wees as jy kan sê jy het gelykop gespeel teen die skaaklegende Garry Kasparov toe jy net 11 jaar oud was?

Barrish het die SA kampioen geword toe hy in Desember 2019 die SA Nasionale skaakkampioenskap gewen het. In 2020 is sy doelwitte om goed te presteer in die Skaakolimpiade, te streef na 'n Internasionale Meester-titel, en onderskeidings te behaal in die Rekenaarwetenskap- en Statistiek-module van sy graad.

Dié 19-jarige Matie was een van 12 spelers wat om die titel meegeding het. Suid-Afrika se enigste Grootmeester (GM) Kenny Solomon het ook deelgeneem. Die intense stryd tussen hierdie twee was 'n hoogtepunt van die kompetisie. Barrish het uiteindelik met 'n halwe punt gewen.

“Dit beteken baie om my eerste SA senior titel te wen," sê Barrish. “Dit is iets wat ek nog altyd wou bereik het – en dit was my hoofdoelwit verlede jaar."

Naas die Afrika Individuele Kampioenskap in Mei, 'n wêreldgraderingdoelwit vir die Spanwêreldkampioenskap in Augustus en goeie akademiese prestasie, het Barrish een ander item op sy doenlysie vir die jaar…

“Ek wil weer gereeld in die gimnasium begin oefen. Dit is amper onmoontlik om 'n goeie gimnasiumroetine te ontwikkel terwyl 'n mens van een skaaktoernooi na 'n ander reis."

Wanneer jy hom oor sy liefde vir skaak uitvra, is Barrish vinnig om te verduidelik dat hy nie noodwendig lief is vir skaak nie. “Maar ek hou daarvan om deel te neem, myself uit te daag, te verbeter en (wanneer dinge uitwerk) te wen. Ek geniet skaak, aangesien dit hierdie elemente bied.

“Ek het aan skaaktoernooie begin deelneem toe ek ses jaar oud was, en dit is iets waarmee ek volgehou het. In die afgelope jaar het ek dit baie meer begin geniet en hard daaraan gewerk – waarskynlik omdat ek nou meer tyd beskikbaar het."

Barrish werk ook vir 'n gewilde skaakwebwerf (chessable.com) om sy reise na oorsese toernooie te finansier.

Naas sy SA titel in 2019, het Barrish ook groot sukses beleef by 'n toernooi in Griekeland.

“Ek het 'n Internasionale Meester- (IM-) norm behaal. Om die IM-titel te kry, het jy drie norme en 'n sekere skaakgradering nodig en daarom is hierdie eerste norm 'n belangrike eerste stap in die poging 'n IM-titel te verdien."

Sy mees noemenswaardige skaakherinnering is die dag tot hy teen Garry Kasparov gespeel het. Hy was net 11 jaar oud en het gelyktydig saam met 25 ander teen die Rus gespeel.

“Ek speel al langer as 'n dekade toernooiskaak en het al verskeie nasionale kampioenskappe gewen, maar een van die oomblikke wat my die naaste aan die hart lê, is my gelykopuitslag teen Kasparov in 2012," sê hy.