Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe gryswaterstelsel verminder waterverbruik met 35%
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 19/11/2019

​Studente wat in die Universiteit Stellenbosch (US) se koshuise woon, is die eerstes om voordeel te trek uit 'n nuwe innoverende geoutomatiseerde gryswaterstelsel.

Die US het behulp van sy Afdeling Fasiliteitsbestuur die geoutomatiseerde gryswaterstelsel in werking gestel. Die stelsel versamel stortwater by die koshuise op die kampus, behandel dit en plaas dit dan terug in die stelsel om vir die spoel van toilette gebruik te word.

Die stelsel is eerste by die koshuise geïnstalleer en sal ook later by akademiese geboue op die Stellenbosse kampus in werking gestel word.

Die gryswateraanleg is nou 'n maand in werking en het reeds 'n vermindering van 35% in waterverbruik, asook 'n vermindering in energiegebruik vir waterverwarming vir storte, tot gevolg gehad.

Volgens Nadeem Gafieldien, Direkteur van Eiendomsdienste by die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur, het hulle ook begin om grondwater by die US-biblioteek te versamel, wat na die aanleg gepomp en herbruik sal word.

“In die verlede het ons hierdie water net gedreineer en weggegooi, maar nou verplaas ons dit na die aanleg, waar dit behandel word vir gebruik in die koshuise," sê hy.

Gafieldien sê 'n soortgelyke stelsel word tans by die US se Tygerbergkampus ontwikkel en sal hopelik teen die einde van die jaar in gebruik geneem kan word.

Hoewel die projekbeplanning reeds in 2015 begin het, het dit hulle 'n jaar geneem om die werk te voltooi. “Dit is iets nuuts vir die munisipaliteit en soos verwag kan word, was daar 'n paar geldige bekommernisse wat daartoe gelei het dat die proses langer geneem het as wat verwag is."

Gafieldien voeg by dat van die kwessies tot gevolg gehad het dat hulle 'n nuwe kleur pyp moes kry sodat daar tussen die vars drinkwaterstelsel en die herwinde afvalwater wat vir die spoel van toilette gebruik word, onderskei kon word. Hy sê die nuwe kleur pyp wat vir die gryswater gekies is, is pers en die herwinde afvalwater self is blou sodat mense sal weet om dit nie te drink nie.

Ryno Lochner, 'n data-ontleder by US Nutsdienste, sê die volgende fase van die projek sal op die akademiese gebou fokus. Die nuwe Leer-en-Onderrig-gebou sal die eerste gebou wees om by die gryswaterstelsel te baat.