Suid-Afrika se heel eerste werksessie ooit oor Google Earth Engine is onlangs deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Geografie en Omgewingstudies gehou. Die twee-dag kursus, aangebied deur dr David Gibson van Google en dr Madhu Mysore van die Indiese Natuurbewaringstigting, is van 25–26 Junie op die Stellenbosse kampus gehou.
Die werksessie het meer as 50 navorsers afkomstig van universiteite en navorsinginstellings regoor Suider-Afrika byeen gebring om meer te leer oor die Google Earth Engine. Dit is in samewerking met die Rhodes-universiteit gereël en deur die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk (SAEON) geborg.
Google Earth Engine kombineer satellietbeelding met planetêre skaal analisevermoëns wat dit vir wetenskaplikes, navorsers en ontwikkelaars moontlik maak om veranderinge te bespeur, tendense aan te teken en verskille op die Aarde se oppervlak te kwantifiseer. Ten einde die belangrikheid van die werksessie uit te lig, het Gibson beklemtoon dat Google Earth Engine 'n produk is wat wetenskaplikes kan gebruik. “Die wetenskaplikes wat hierdie werksessie bywoon, bestudeer veranderinge in landskappe waarvoor hulle miljoene satellietbeelde benodig. Satelliete verskaf elke dag nuwe beelde en baie van hulle is al dekades daar bo. Ons het hierdie werksessie gehou omdat ons die navorsingsgemeenskap in Suid-Afrika met nuwe gereedskap wil toerus om verskynsels te verstaan, veranderinge te monitor en aksies te rig," het Gibson gesê.
Alta de Vos, 'n senior dosent by Rhodes-universiteit se Departement Omgewingswetenskappe en een van die hooforganiseerders van die werksessie, het gesê: “Die ware voordeel van Google Earth Engine is dat jy nou analises op 'n gewone rekenaar kan doen waarvoor jy voorheen omvattende hardeware en duur sagteware benodig het. Hoewel feitlik enigeen toegang tot Google Earth Engine kan verkry, benodig jy seker tegniese vaardighede om dit produktief aan te wend. Die werksessie is 'n poging om wetenskaplikes en praktisyns te help om van hierdie tegniese vaardighede te ontwikkel sodat hulle Google Earth Engine doeltreffend kan aanwend om werklike probleme te verstaan en op te los. Ons wil ook 'n band bou tussen plaaslike Google Earth Engine-gebruikers.
“Hierdie werksessie is werklik 'n samewerkingspoging tussen Google, Rhodes-universiteit, die WNNR, die Universiteit Stellenbosch, wat baie van die reëlings getref het, en SAEON, wat ook die geld vir die plaaslike onkostes van die werksessie verskaf het," het sy bygevoeg.
Liezl Vermeulen, 'n MSc-student in Geografiese Informasietegnologie aan die US wat ook 'n groot rol in die reël van die werksessie gespeel het, het dit beaam en die geleentheid as praktiese opleiding vir die Google Earth Engine-platform beskryf. “Dit is 'n geografiese werktuig wat vir verskeie toepassings aangewend kan word.
“Dit is 'n multidissiplinêre werksessie. Ons het navorsers wat in ekologie, hidrologie, indringerbiologie, ekonomie, bewaring, rekenaarwetenskap, geografie en statistieke spesialiseer. Elke keer as iemand vra waar iets gebeur het, kan Google Earth Engine help."
Die Suid-Afrikaanse Omgewingswaarnemingsnetwerk (SAEON), wat deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie befonds word om omgewingsverandering te monitor en te ontleed, het 'n sleutelrol in die sukses van die werksessie gespeel. “Ons het die organiseerders ondersteun en SAEON het geld vir die werksessie verskaf," het Glenn Moncrieff, 'n datawetenskaplike by SAEON, gesê.
“Ons het só baie by hierdie werksessie geleer en bande met ander Suid-Afrikaanse Earth Engine-gebruikers gesmee. Dit was ongelooflik om die volle omvang van wat die platform alles kan bereik, te sien. Dit bied ons vinnige toegang tot en stel ons in staat om groot hoeveelhede waarnemingsdata van die Aarde te ontleed en dit selfs op interaktiewe aanlyn toepassings te publiseer," het Jasper Slingsby, 'n wetenskaplike by SAEON, bygevoeg.
Google Earth Engine [https://earthengine.google.com] is 'n gratis Google-produk wat deur die Google Earth Outreach-program ondersteun word. Al die werksessie se aanbiedinge is aanlyn beskikbaar by [https://sites.google.com/view/saearthenginetraining/agenda].