Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die kykNET Fiëstas-wenners voorspel ’n wonderlike Woordfees
Outeur: US Woordfees/SU Woordfees
Gepubliseer: 15/02/2019

Vir Woordfeesgangers beloof vanjaar se Fiëstas-wenners 'n ryk feeservaring. Al die groot wenners wat gisteraand by die 9de Fiëstas in die Kunstekaap-teater bekroon is, in Stellenbosch op die planke wees.

Die kykNET Fiëstas vereer jaarliks werk wat by kunstefeeste dwarsoor die land te sien was. Die ses vervaardigende feeste wat vir die Fiësta-toekennings 2019 in aanmerking kom, is die US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop. Die beoordelaarspaneel moes vanjaar om die 230 debuutproduksies in ag neem.

Die US Woordfees het 'n hand in die befondsing en ontwikkeling van produksies gehad wat altesaam 39 Fiësta-benoemings ontvang het. Die vier produksies wat in die gesogte Beste aanbieding-kategorie benoem is – Babbelagtig, GodgOdgoD, Klippe wat val en Toutjies & Ferreira – is almal oor twee weke by die Woordfees te sien. Hierdie produksies het dan ook gisteraand 'n rits Fiësta-wenners opgelewer.

Toutjies & Ferreira het met vier toekennings vanjaar die meeste Fiëstas opgeraap. Dié stuk het Beste aanbieding, Beste aktrise (Joanie Combrink), Beste regie (Nicole Holm & Wolf Britz) en Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks (Saartjie Botha) gewen.

Klippe wat val, met teks en regie deur Philip Rademeyer, het die Fiëstas vir Beste akteur (Wilhelm van der Walt) en Beste manlike byspeler (Dean John Smith) ontvang.

Babbelagtig het in die Beste duo of ensemble-kategorie geseëvier en Ilana Cilliers en Wolf Britz het die Beste teaterontwerp-Fiësta met GodgOdgoD verower.

Anoecha Krüger is vir haar spel in Raak as Beste opkomende kunstenaar aangewys en dié stuk kom eweneens Woordfees toe.

Die Woordfeesdirekteur Saartjie Botha is ook in die Beste vertaling of verwerking van 'n bestaande werk -kategorie bekroon vir haar verwerking van Karel Schoeman se Hertzogpryswenner-roman, Hierdie lewe. Vir haar spel in dié stuk, wat verlede jaar by die Woordfees gedebuteer het, het Antoinette Kellermann die prys vir Beste spel in 'n solo-vertoning ontvang.  

Volgens Botha was die Fiëstas “ 'n viering van kreatiwiteit en kunstenaars, en net soveel die bevestiging van die rol van die kunste in sosiale kohesie en die skep van 'n gesonder gemeenskap. Die uitdaging bly steeds om werk te skep wat resoneer met 'n diverse gehoor."

Die 20ste US Woordfees vind van 1 tot 10 Maart 2019 op Stellenbosch plaas. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.