Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lees in laerskool moet nasionale prioriteit wees – opvoedkunde-kenner
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/08/2018

Die probleem van laerskoolleerders wat nie kan lees nie moet as 'n nasionale krisis verklaar word én  behoort 'n nasionale prioriteit te wees wat ook beduidende hulpbronne benodig.

Só het dr Nic Spaull van die navorsingsgroep vir Sosio-ekonomiese Beleid  (ReSEP) in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch op Dinsdag (31 Julie 2018), gesê.

Hy was die spreker by die tweede Stellenbosch Forum-lesing van 2018. Die Stellenbosch Forum-lesingsreeks bied gereelde geleenthede aan personeel en studente aan die US, sowel as belangstellendes uit die publiek, om meer uit te vind oor die relevante wêreldklasnavorsing wat by die US gedoen word.

Spaull het die erns van die situasie rakend leerders se leesvaardighede beklemtoon deur daarop te wys dat “78% van Graad 4-leerders in Suid-Afrika nie in enige taal vir betekenis kan lees nie."

“Die feit dat kinders aan die einde van Graad 3 nie in staat is om in enige taal vir betekenis te lees nie, is 'n probleem vir die ekonomie, vir burgerlike betrokkenheid; dit is 'n probleem vir enigiets wat jy moontlik kan aan dink  ̶  gesondheidsorg, toegang, om 'n ingeligte burger te wees, en dies meer."

“As jy nie in die eerste drie jaar van die skool in enige taal vir betekenis kan lees nie, raak jy letterlik verder agter by die kurrikulum."

Spaull het ook gewys op nuwe navorsing wat toon dat 45% van Graad 4-klasse in Suid-Afrikaanse skole nie 'n enkele leerder het wat kan lees of basiese afleidings kan maak nie.

Hy het gesê dit gebeur ten spyte van die feit dat die kurrikulum op so 'n manier saamgestel is dat die eerste drie jaar van skool op leer-vir-lees gefokus is en vanaf Graad 4 en verder die lees-tot-leerfase is waar leerders die vaardigheid van lees om nuwe inligting te bekom.

Spaull het na die skole waar Graad 4-leerders nie kan lees as nie as “kognitiewe afvalsones" verwys.

Hy meen intensiewe en radikale beleidsintervensies in hierdie skole is nodig om leerders se leesvaardighede te verbeter.

“Elke kind behoort teen die ouderdom van 10 vir betekenis te kan lees. Dit is nie 'n besonder ambisieuse doelwit nie en is beslis realiseerbaar en meetbaar."

“Die huidige trajek waarop ons is, die huidige ewewig in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, is nie die enigste nie; daar is dié wat meer billik en regverdig is," het Spaull bygevoeg.

  • ​Foto: Dr Nic Spaull lewer die tweede Stellenbosch Forum-lesing.