Wanneer 'n mens aan masjienleer of die meer bekende kunsmatige intelligensie dink, dink jy onwillekeurig aan moorddadige robotte en Arnold Schwarzenegger se berugte sêding, “I'll be back" in die rolprent Terminator. Dieselfde kan beslis nie van Matiesmasjienleer (MML) gesê word nie.
Om die waarheid te sê, die hooforganiseerders van MML, Willie Brink en Herman Kamper, wil hê ons moet van al ons jou vooropgesette menings oor kunsmatige intelligensie ontslae raak. “Masjienleer gaan nie oor masjiene wat mense doodmaak en in voelende wesens verander nie. Alhoewel masjienleer 'n vorm van intelligensie is, is dit in wese kunsmatig. Masjienleer is 'n onderdeel van kunsmatige intelligensie, met die fokus op masjiene wat leer om algoritmes te skep en 'n rekenaar in staat stel om patrone of struktuur in data te vind, terwyl voorafkennis gebruik word om van nuwe situasies sin te maak," sê Kamper.
MML is 'n seminaarreeks en besprekingsforum wat Kamper en Brink 'n jaar gelede by die Universiteit Stellenbosch (US) tot stand gebring het. Die doel van die MML is om persone saam te snoer wat werk in verband met masjienleer doen. Die seminare word tweeweekliks op kampus aangebied en behels kort gesprekke oor persone se bestaande werk of ander masjienleer-verwante onderwerpe, gevolg deur oop gesprekke. Die idee is om mense in te lig oor die werk wat ander oor die onderwerp doen en om masjienleer-navorsing op Stellenbosch uit te brei.
“Toe ons besef daar is heelwat belangstelling en dit is oor die kampus versprei, het ons die Matiesmasjienleer-groep gestig, wat poog om al die verskillende partye byeen te bring. Almal is mense in die veld van fisika, statistiek, biomediese ingenieurswese, toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap en wyntegnologie wat in masjienleer belangstel," sê Brink.
Volgens Brink en Kamper kan enige veld wat met data werk en uit data moet sin maak, masjienleer gebruik.
Kamper is 'n dosent in Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, terwyl Brink 'n senior lektor in Toegepaste Wetenskap aan die US is. Albei is ewe entoesiasties oor masjienleer en wil hê mense moet hulle op masjienleer toespits as uitsonderlik innoverende tegnologie wat Afrika en die res van die wêreld ten goede kan beïnvloed.
“Die gemeenskap waarby ons betrokke is, het 'n baie positiewe ingesteldheid jeens masjienleer. Ons streef daarna om masjienleer verder te ontwikkel ten einde die wêreld 'n beter plek te maak, altans ten minste om Suid-Afrika en Afrika 'n beter plek te maak," verduidelik Brink.
Afgesien van die MML-seminare is Kamper en Brink ook betrokke by 'n ander inisiatief wat as die “Diepleer"-indaba bekend staan. Hierdie somerskoolinisiatief is daarop gemik om masjienleer in Afrika te verstewig. Vanjaar se Indaba is die tweede van sy soort in Afrika en word in September in die Endlersaal van die US aangebied. Die Indaba behels 'n aansoekproses wat reeds vir vanjaar gesluit het. Alhoewel meer as 1 300 hoofsaaklik nagraadse studente uit Afrika, Duitsland, Asië en die VSA vir die Indaba aansoek gedoen het, kon slegs ongeveer 500 gekies word om dit by te woon. Die hoof van Google se Kunsmatige Intelligensie-eenheid lewer die programrede by vanjaar se Indaba.
“Die vlak van deelname en opgewondenheid het ons verwagtinge oortref. Hierdie geleentheid is ook die tweede van sy soort; laas jaar was dit by Wits. Volgende jaar is dit in Nairobi. Ons wil die Indaba graag 'n Pan-Afrika-geleentheid maak. Ons wil ook hê die Universiteit Stellenbosch moet voordeel hieruit trek en die hub van masjienleer in Afrika word," sê Kamper en Brink.
Klik hier vir meer inligting oor MML en die Diepleer-indaba.
Anders kan jy in verbinding tree met:
- Willie Brink by wbrink@sun.ac.za
- Herman Kamper by kamperh@sun.ac.za