Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tygermaties wen vroue én mans Molassesêr-titels
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 14/05/2018

​Talent het geseëvier by die afgelope Molassesêr-kompetisie en studente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het weereens bewys hulle is nie net boekwurms nie.

Koshuise aan die Universiteit Stellenbosch ding jaarliks mee om die Molassesêr-titel.

Vanjaar se tema was “Video Killed the Radiostar" en die finaleronde is op 26 April by die Konservatorium Amfiteater op Stellenbosch gehou. Koshuise van die Tygerberg-kampus het met die dames- en mans-trofeë weggestap – die eerste keer dat dié geluk Tygerberg tref.

Huis Francie van Zijl en Hippokrates Mans het boaan die beoordelaars se puntekaart geëindig in hul onderskeie kategorieë.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Hippokrates Mans hul kategorie wen. “Sover ons kennis strek, is ons ook die eerste koshuis om dié trofee twee agtereenvolgende jare huis toe te bring, en ons gaan volgende jaar poog om dit drie in 'n ry te maak," sê Ruhann Botha, kultuur-HK en sêrleier van Hippokrates-mans. “Ons is baie trots op hoe goed ons gedoen het."

Vir Huis Francie was dit 'n tweejaarlange droom wat waar geword het. “Ons het nie in 2015 deelgeneem nie, en met ons terugkeer in 2016 het ons nie tot die finaleronde deurgedring nie. Verlede jaar het ons tweede gekom in die kompetisie, en natuurlik kon ons nie die saak so los nie. Vanjaar het ons dit weer aangepak met die doel om te wen, en om dit te kon bereik was ongelooflik! Baie ure se werk, krisisbestuur en beplanning was alles die moeite werd gewees," verduidelik Luné Smith, Huis Francie kultuur-HK. Sy was ook een van die vyf passievolle sêrleiers wat die Francie-vroue aangevuur het.

Volgens Botha is die wenresep dat almal dit moet geniet. “Ons oefen hard, maar op die einde van die dag maak jy vriende en jy geniet jou gate uit." Wat hul metodiek betref, sê Botha glo hulle daarin om eers die storielyn te skryf en dan die musiek te kies wat by die storie pas. “So vloei die vertoning en probeer jy dit nie forseer om by 'n spesifieke liedjie te pas nie." Hy glo hulle snaakse vertolkings van karakters soos Jacob Zuma, Nataniël en Simon Cowell gepaard met hul populêre liedjie-keuses, was sleutelbestanddele in hul sukses.

Smith sê Huis Francie se gees is beslis wat hulle laat uitstaan het. “Ons het met elke optrede kliphard gesing en voluit gedans. Ons het onsself skaamteloos geniet en die gehoor kon dit sien. Verder was ons kleurvolle hemde en gesigsverf baie opvallend en dit het bygedra tot die speelse atmosfeer van die optrede."

Botha sê hoewel hulle lojaal sal bly teenoor Hippokrates Dames en hoop om volgende jaar beide titels te kan wen, was Huis Francie se optrede “uitstekend". Op haar beurt se Smith weer sy was baie beiïndruk met Hippokrates Dames, Meerhoff (wat vir die eerste keer deelgeneem het), hoofkampus se Huis Ten Bosch en Wilgenhof, en natuurlik Hippokrates Mans.

“Hippokrates Mans het nog nooit teleurgestel in hul optredes nie. Dit was lekker om te sien dat hulle hul kakie en wit kostuums ingeruil het vir iets anders. Ek vergaap my altyd aan hoe gewillig die mans is om hulle name gat te maak ter wille van vermaak! Maar ek is bitter dankbaar daarvoor! Dis altyd lekker om te sien dat Tygermaties meer doen as net swot." 

Molassesêr vir leke - Luné Smith verduidelik:

Wat het jy nodig: “(1) Baie eerstejaarstudente, (2) senior-studente om leiding te neem, (3) verskriklik baie gees, (4) gesig-verf, (5) 'n goeie dromspeler en (6) 'n verskeidenheid choreografie en (7) musiek."

Hoe dit werk: “Die Molassesêr-kompetisie bestaan slegs uit twee rondes: die uitdunne en die finaal. Om aan die eerste ronde deel te neem verg slegs 'n inskrywing, maar om na die volgende ronde deur te gaan moet die groep ses optredes by ses verskillende koshuise hou, waar hulle by elke optrede beoordeel word. Die uitdaging om deur te dring tot die finaleronde, is om 'n hele aand lank Stellenbosch vol te hardloop met 'n groep van 60 studente terwyl hulle bene, stemme en gees moet by hou om elke keer hulle beste te kan lewer! Deursettingsvermoë is van kardinale belang in so 'n projek."

Wat gebeur na die finale ronde? “Die Molassesêr optredes eindig na finale kompetisie-aand. Elke jaar sal daar 'n nuwe groep wees wat aan molassesêr deelneem, hoofsaaklik eerstejaars, en elke jaar word nuwe leiers gekies."