Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit verwelkom nuwelingstudente
Outeur: Ronel Beukes
Gepubliseer: 30/01/2018

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe verwelkom vanjaar sowat 1 500 nuwelingstudente, van wie 'n rekordgetal van 86% aanlyn geregistreer het.

Onder hulle is die eerste groep van 22 studente wat ingeskryf het vir die nuwe voorgraadse Diploma in Volhoubare Ontwikkeling wat deur die Skool vir Publieke Leierskap aangebied word.

Dié diploma is 'n multidissiplinêre program wat studente met die vaardighede en kennis toerus om entrepreneuriese geleenthede in die breёr veld van volhoubare ontwikkeling te benut. Dit is die Fakulteit se eerste voorgraadse diploma en is 'n drie jaar lange nie-residensiёle program wat met ervaringsgebaseerde leer aangevul word. Klasse word by die Volhoubaarheidsinstituut te Lynedoch naby Stellenbosch aangebied.

Die gewildste van die Fakulteit se 14 voorgraadse programme is die rekeningkundeprogramme – BRekeningkunde, BCom (Bestuursrekeningkunde) en BCom (Finansiёle Rekeningkunde) – en die 4-jaar BCom-graad in Internasionale Besigheid. Laasgenoemde is 'n baanbreker in voorgraadse besigheidsopleiding en sluit 'n uitruiltydperk van ses maande by 'n universiteit in die buiteland in. Dit is 'n unieke program in Suid-Afrikan en net 30 studente per jaar word toegelaat.

Die Fakulteit se verwelkomingsprogram het op Donderdag, 25 Januarie afgeskop toe studente se ouers die geleentheid gehad het om die dekaan, prof Johan Malan, te ontmoet. Daar was verder 'n inligtingsessie vir al die Fakulteit se eerstejaars, terwyl oriёnteringsessies by die JS Gericke Biblioteek, akademiese en rekenaarregistrasie ook op die program is.

  • Banierfoto's:
    Regs:
     Studente se ouers luister aandagtig na die dekaan, prof Prof Johan Malan, in die Coetzenburg Sentrum.
    Links: Al die Fakulteit se eerstejaarstudente het 'n inligtingsessie in die Kruiskerk bygewoon. 
  • Foto hiernaas: Uitgelese professor Mark Swilling van die Skool vir Openbare Leierskap spreek studente van die Diploma in Volhoubare Ontwikkeling toe.

 

ProfMarkSwilling.jpg