Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die gebruik van plaaslike entomopatogene vir die beheer van die Mediterreense vrugtevlieg
Outeur: Monique James
Gepubliseer: 10/01/2018

'n Onlangse studie by die Universiteit van Stellenbosch was gemik daarop om by te dra tot die bestaande kennis van biologiese beheermiddels soos entomopatogeniese nematodes (EPNs) en entomopatogeniese fungi (EPF) van Suid-Afrika, wat gebruik kan word teen die Mediterreense vrugtevlieg in samewewerking met bestaande bestuursmetodes.

Die Mediterreense vrugtevlieg (Medvlieg), Ceratitis capitata (Wiedemann), is 'n bekende pes wat oorspronklik kom van sub-Saharaanse Afrika, maar mettertyd gevestig geraak het in vele tropiese en warm, gematigde gebiede regoor die wêreld. Dit is 'n algemene pes in groot dele van Suid-Afrika en is die dominante vrugtevlieg spesie in die Wes-Kaap provinsie. Medvlieë gebruik vrugte as gashere vir hul larwes, wat dan voed op en ontwikkel in die vrug om dit later te verlaat as 'n derde vervellingstadium larwe en in die grond 'n papie te vorm. Hierdie lewenssiklus van die Medvlieg veroorsaak grootskaalse skade en verlies aan gewasse en lei daartoe dat produsente moet gebruik maak van duur kontrole en na-oes behandelings. Dit het ook al gelei tot beperkings in uitvoer markte. Huidige beheermaatreëls is grootliks gefokus op die beheer van die volwasse lewensfase, maar behels gewoonlik die gebruik van chemikalieë wat skadelik is vir mense en die omgewing. Daar word dus 'n meer omgewingsvriendelike, volhoubare en doeltreffende alternatief benodig vir die beheer van hierdie pes, in 'n Geïntegreerde Pes Bestuur ('IPM') strategie.

Entomopatogene is organismes wat patogenies is teen insekte. EPNs en EPF maak albei gebruik van geskikte insek gashere om te voed en voort te plant. Die vrylewende stadia van EPNs staan bekend as infektiewe larwes (of ILs) en hierdie organismes is draers van simbiotiese bakterieë wat noodsaaklik is vir die doodmaak van hul gasheer. EPF spore is volop in die grond en alhoewel dit nie beweeglik is nie, het dit die vermoë om die vel van 'n geskikte gasheer binne te dring en hom mettertyd dood te maak.  Die grondlewende lewensstadia van die Medvlieg (derde vervellingstadia larwes, papies en volwassenes wat verskyn uit die papies) kan dus geteiken word deur EPNs en EPF en die gebruik van hierdie natuurlike vyande kan 'n moontlike biologiese beheer metode van die Medvlieg wees. A recent study conducted by Stellenbosch University, aimed to contribute to the knowledge on biological control agents, such as EPNs and EPF, present in South Africa, which could be used against the Mediterranean fruit fly and be incorporated into current management practices.

 

Om plaaslike EPN en EPF spesies te vind, was grond versamel van verskillende vrugteboorde in areas wat bekend is vir vrugtevlieg probleme. Entomopatogene was geïsoleer van die grond deur hoogs vatbare wasmot larwes en meelwurms, sowel as Medvlieg larwes in houers te plaas as lokmiddel. Lokvalle met Medvlieg larwes was gebruik om gasheer-spesifieke EPNs en EPF direk te isoleer wat teenwoordig kon wees in die grond. Spesies was later geïdentifiseer met gebruik van morfologiese en molekulêre hulpmiddels.

Om moontlike beheermiddels te identifiseer, was die vermoë van verskeie geïsoleerde entomopatogene om Medvlieg te infekteer en dood te maak, getoets. Vyf verskillende plaaslike EPNs (Heterorhabditis zealandica, H. noenieputensis, H. bacteriophora, H. indica, Steinernema yirgalemense) was getoets in die laboratorium deur individuele derde vervellingstadia larwes bloot te stel aan 50 en 100 ILs in 'n afgesonderde houer en die infektiwiteit en mortaliteit te assesseer na twee weke. EPF wat versamel is uit die grond (Metarhizium robertsii en Beauveria bassiana), asook kommersiële EPF produkte (EcoBb®, Broadband® en Meta69) was op 'n soortgelyke manier getoets deur die larwes te doop in 'n swam suspensie (konsentrasie = 1 x 107 conidia/ml) en dan elke larwe in 'n aparte houer te plaas. Na twee weke was enige dooie insekte geplaas op agar plate om swamgroei te fasiliteer en sodoende vas te stel of die dood van die insek veroorsaak is deur 'n swam infeksie (mikose). Die patogenisiteit van sekere entomopatogene was verder getoets in 'n meer natuurlike omgewing deur derde vervellingstadia larwes by houers te voeg met steriele grond, geïnokuleer met die EPNs of EPF.

 

Alle EPN spesies wat getoets was, het die vermoë gehad om die Medvlieg larwes te infekteer en dood te maak. In die grond biotoetse het die inheemse EPN, H. noenieputensis, meer as 92% mortaliteit veroorsaak. Meeste van die blootgestelde larwes het doodgegaan as papies, wat beteken dat H. noenieputensis die finale vervellingstadia larwes kon vind en infekteer sodra hul die grond ingegaan het, en sodoende voorkom het dat hul verskyn as volwassenes. 'n Ander spesie, S. yirgalemense, wat in die proses is om ontwikkel te word as 'n kommersiële produk, het mortaliteit veroorsaak van 34-53%. Sy vermoë om Medvlieg gedeeltelik te beheer, asook ander belangerike peste soos valskodlingmot en kodlingmot, sal moontlik daartoe lei dat die kommersiële produk makliker aanvaar en gebruik sal word deur produsente.

 

Beide die kommersiële EPF produkte en die EPF wat uit die grond geïsoleer was, kon die Medvlieg infekteer en dood maak. Die patogenisiteit van die kommersieel beskikbare EPF produkte teen die Medvlieg, behoort die gebruik van sulke alternatiewe beheermetodes aan te moedig vir die bestryding van landbou peste, insluitend die Medvlieg. Hierdie studie het gevind dat die plaaslike Metarhizium robertsii stam MJ06, wat plaaslik geïsoleer is uit die grond met 'n Medvlieg larwe as lokmiddel, die vermoë het om 'n hoë vlak van beheer te bied teen beide papies en volwassenes. Wanneer larwes blootgestel was aan sand wat geïnokuleer was met die twee nie-kommersiële spesies, was hoë vlakke van volwasse mikose aangeteken. Mikose van die volwassenes het getoon dat grond behandelings kan help met die beheer van vrugtevlieë, maar beklemtoon ook die potensiaal vir die gebruik van hierdie twee nie-kommersiële spesies vir die beheer van volwasse Medvlieë. Hul kan getoets word vir gebruik in lokval sproeie of self-inokuleringslokvalle waar volwassenes gelok, geïnfekteer en doodgemaak word deur die EPF.

 

Die gevolgtrekking van die studie was dat die vermoë van entomopatogeniese nematodes en fungi om die grondlewende lewensfases van die Medvlieg natuurlik te infekteer en dood te maak, hul nuttige natuurlike vyande maak. Die integrasie van sulke EPNs en EPF, op hul eie of saam, in 'n geïntegreerde pes bestuur (IPM) sisteem, kan 'n volhoubare en effektiewe beheer metode van die teiken pes wees en toekomstige navorsing moet fokus op die kandidate genoem in hierdie studie. Hierdie navorsing het dus die nodige basis en inligting verskaf vir die ontwikkeling van potensiële biologiese beheermiddels vir die beheer van die Mediterreense vrugtevlieg in Suid-Afrika.

Die studie was aangebied as 'n MSc tesis van die student, Monique James, uitgevoer by die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie van die Universiteit van Stellenbosch onder die toesig van Prof. Antoinette P. Malan, Dr Pia Addison en Dr Minette Karsten. HortGro en die Nasionale Navorsingstigting het befondsing verskaf (NNS verwysing: SFH150706123538).