Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op Prof Pumla Gobodo-Madikizela
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/08/2017

Die bekroonde skrywer en gesiene navorser, prof Pumla Gobodo-Madikizela wat die navorsingsleerstoel in Studies oor Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US) beklee, het baanbrekersnavorsing oor trauma, herinnering, versoening en vergifnis gedoen en haarself as ʼn voorste kenner oor hierdie temas gevestig. Gobodo-Madikizela het ook erkenning van die Nasionale Navorsingstiging ontvang as ʼn navorser wat internasionaal deur haar eweknieë gereken word.

As deel van die US se Vrouemaand-vieringe, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met Gobodo-Madikizela oor haar navorsing gepraat.

Jy het redelik baie oor trauma, herinnering en vergifnis geskryf. Kan jy ons meer oor jou navorsingsveld vertel?

Na afloop van my doktorsgraad, het ek navorsing gedoen oor temas soos berou, empatie en vergifnis. Dit het daartoe gelei dat ek begin kyk het na die rol van dialoog tussen slagoffers, oortreders en begunstigdes van growwe mensregteskendings wat soms as bure saam in ʼn land moet woon. Onlangs het ek hierdie werk uitgebrei om in meer diepte na die begrip empatie te kyk vanuit 'n perspektief wat die Afrika-verskynsel van inimba  ̶  ʼn isiXhosa-woord wat losweg as “naelstring" vertaal kan word  ̶  as vertrekpunt neem en dit met die verhoudings- en psigoanalitiese konsep van intersubjektiwiteit integreer. Die doel is om 'n ryker, dieper en meer komplekse verstaan van empatie te vind wat rekening hou met bestaande Afrika-kennis.

Waar het jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin?

My belangstelling in hierdie area het begin toe ek op die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) se Komitee vir Menseregteskendings gedien het. My eerste direkte kennismaking met die trauma van geweld was deur menseregte-prokureurs van jong anti-apartheidsaktiviste wat “halsbandmoorde" gepleeg het. Ek het gesien hoe slagoffers dade wat in gesaghebbende werke soos dié van die Duits-Amerikaans gebore politieke filosoof Hannah Arendt as onvergeeflik beskou word, kon vergewe. In al die werke wat ek tydens my besoek aan Harvard Universiteit gelees het was daar geen bespreking van vergifnis nie en min – indien enige  ̶  van berou. Toe die WVK-proses kenners verkeerd bewys het dat die “banaliteit van boosheid" – om Arendt se woorde te gebruik  ̶  vergewe kan word, het ek die fokus van my PhD verander om navorsing oor die tema van vergifnis te doen. My doel was nie soseer om “vergifnis" as sodanig te bevorder nie, maar eerder om ʼn bydrae te lewer tot dit wat ek gesien het as ʼn kanon van kennis oor wat moontlik is in die nadraai van die historiese trauma van massageweld.

Wat geniet jy die meeste van navorser-wees?

Ek geniet dit om voortdurend die vraag van relevansie van gevestigde werke te vra en nuwe ondersoekmetodes te verken.

Wat beteken sukses vir jou?

Ek dink baie selde aan myself in terme van “sukses." Elke dag is vir my ʼn uitgdaging om meer te doen, om beter te wees. Maar daar was oomblikke in my loopbaan toe ek 'n intense gevoel van waardering beleef het vir die erkenning wat my werk ontvang het. Drie oomblikke van erkenning staan uit: Die Eleanor Roosevelt-toekenning in 2007 en die Christopher-toekenning in New York in 2003 vir my boek A Human Being Died that Night: A Story of Forgiveness. Dit was wonderlik om in die daaropvolgende jaar in Suid-Afrika met die Alan Paton-toekenning vir hierdie boek vereer te word. Die Rhodes-universiteit se toekenning vir Sosiale Verandering in 2010 was nog 'n erkenning wat my hart warm laat klop het. Natuurlik voel ʼn mens bly, maar ek voel altyd hierdie is gawes wat ek nie as vanselfsprekend kan aanvaar nie omdat baie harde werk nog gedoen moet word in terme van die begeleiding van jong navorsers en my betrokkendheid as burger en akademikus by ons land wat moeilike tye beleef.

Kan jy drie mense in die geskiedenis noem wat jy bewonder?

Die drie wat vir my uitstaan, is Noor Inayat Khan, Rosa Parks en Beyers Naudé. Ek het die eerste keer oor Noor Inayat Khan gelees in die private en afgeslote gedeelte van ons skoolbiblioteek (by Inanda Seminarium, 'n privaatskool vir Afrika-meisies gedurende die apartheidsjare) waar boeke wat deur die Suid-Afrikaanse regering verban is, gehou is. Sy was 'n pasifis wat tydens die Tweede Wêreldoorlog na Nazi-besette Frankryk gestuur is om as Britse spioen met die Franse Weerstandsbeweging te werk. Sy is later gevang en net voor die einde van oorlog na die Dachau-konsentrasiekamp gestuur. Na bewering was haar laaste woorde toe sy tereggestel is “Liberté!"

Ek bewonder Rosa Parks vir haar moed tydens die Amerikaanse burgerregte-beweging en Beyers Naudé vir sy ontembare gees, en omdat hy apartheid se doppie help klink het. Toe ek my eerste boek geskryf het, was sy storie 'n groot inspirasie vir my nadenke oor hoe die individuele en kollektiewe gewete stilgemaak kan word - en hoe dit wakker gemaak kan word.

Het jy enige boodskap vir die volgende generasie vroue-navorsers?

Moenie bang wees om die onbekende aan te pak nie. Die langtermyn-waarde van jou betrokkenheid by navorsing is sy kapasiteit om nuwe metodes van ondersoek te verken. Streef daarna om navorsing te doen wat sosiaal relevant is. Werk hard, lees, neem deel aan debatte met jou kollegas en mik vir goeie uitslae.