Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gewilde M-program lok honderde studente vanoor Afrika
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 26/04/2017

​Op 14 Maart het Victoria Ndarukwa, ʼn mediese laboratoriumwetenskaplike van Zimbabwe, die 100ste Matie geword wat in minder as ʼn dekade ʼn MSc in Kliniese Epidemiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. 

MClinEpi.jpgDie sogenaamde M KlinEpi-program is in 2008 van stapel gestuur en het sedertdien gereeld elke jaar graduandi van oor die kontinent heen opgelewer. Die akademiese leierskap word verskaf deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS) aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die US.

Hierdie gewilde nagraadse program help die vaardighede uitbou van gesondheidspersoneel wat in 'n kliniese omgewing werk. "Bewysgebaseerde praktyk is die sleutel," verduidelik prof Taryn Young, direkteur van die SBGS.

"Die program versterk die vermoë van gesondheidspersoneel om op ʼn bewysgebaseerde manier te praktiseer. Dit help hulle ook om goeie navorsing te doen om beste praktyke te ontwikkel." Volgens Young help bewysgebaseerde beste praktyke om skaars gesondheidsorghulpbronne ten beste te benut.

Die M KlinEpi bied strawwe metodologiese opleiding vir beroepslui met ʼn agtergrond en ervaring in enige gesondheisverwante dissipline en word deur verskeie departemente binne en buite die FGGW ondersteun.

In die nege jaar sedert dit tot stand gebring is, het 190 studente uit 16 Afrika-lande ingeskryf (sien grafiek). "Ons ontvang jaarliks meer as 100 aansoeke sonder dat ons enigsins formeel adverteer," sê Young. "Die program word deur persoonlike reklame geadverteer."

Die M KlinEpi is ʼn deeltydse program oor twee jaar en bied ʼn mengsel van aangesig-tot-aangesig kontaksessies, e-leer en selfstudie. Daar word van verskeie vernuwende metodes gebruik gemaak, onder meer ʼn mentorskapprogram en ʼn stelsel van onderwys-assistentskap wat steun aan die studente én die sameroepers van die program bied.

Dit is een van vyf soortgelyke kursussse wat in Afrika aangebied word. In ʼn onlangse navorsingsartikel deur Young en kollegas wat die onderskeie programme vergelyk, is bevind gegradueerdes het die verskeidenheid van modules geniet, ʼn mengsel van onderrigmetodes verkies en die assessering as regverdig beskou.

"Ons M KlinEpi-program bied modules wat nie elders beskikbaar is nie. Dit is die enigste program wat spesifieke modules oor kliniese riglyne, sistematiese evaluerings en meta-analise, verewekansigde kontrole-proewe en diagnose en sifting aanbied," sê Young.

Tot dusver het 39 deelnemers aan die program hul navorsing in vaktydskrifte gepubliseer, met inbegrip van hoog aangeskrewe publikasies soos die Cochrane-databasis vir sistematiese evaluering en PLOS One.

"Ons is dankbaar jeens al die akademiese, administratiewe en ondersteuningspersoneel, sonder wie se harde werk en voortgesette toewyding hierdie prestasies nie moontlik sou wees nie," sê Young.

Besoek www.sun.ac.za/clinepi vir meer inligting oor die M KlinEpi-program en www.sun.ac.za/cebhc vir meer inligting oor die SBGS.

Onderskrif: MSc-graduandi in Kliniese Epidemiologie steek honderdtal verby

 

MAP.jpg