Die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het vroeër vanjaar ʼn aantal groot pryse toegeken en dr Willem Anker en prof Louise Viljoen van die Departement Afrikaans en Nederlands was onder die wenners.
Vir sy roman Buys: ʼn Grensroman is dr Willem Anker, skrywer en dosent in die Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfkunde, met die Hertzogprys bekroon. Die Hertzogprys, vernoem na generaal JBM Hertzog, is die vernaamste en mees prestigeryke prys in die Afrikaanse literêre wêreld. Die prys word spesifiek toegeken vir oorspronklike literêre werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde.
Buys is verlede jaar ook met die Universiteit van Johannesburg-prys vir beste kreatiewe werk, die kykNET-Rapport-boekprys vir fiksie en die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie bekroon. Dr Anker is ook in Maart vir sy toneelstuk Samsa-masjien met ʼn Fleur du Cap-toekenning in die kategorie Beste Nuwe Suid-Afrikaanse Dramateks bekroon. Samsa-masjien het ook toekennings ontvang in die kategorieë vir beste akteur (Gerben Kamper), beste oorspronklike musiek (Pierre-Henri Wicomb), beste stelontwerp (Jaco Bouwer) en beste regisseur (Jaco Bouwer). Die toneelstuk het al verskeie ander toekennings ontvang, onder andere ʼn Absa KKNK Kanna-toekenning vir Kopverskuiwende Werk en ʼn ATKV Woordveertjie vir Drama.
Prof Louise Viljoen, letterkundige en dosent in die Afrikaanse letterkunde, is deur die SA Akademie met die Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en letterkundige kritiek bekroon. Haar boek Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach word hoog aangeskryf in literêre kringe en is ʼn indrukwekkende toevoeging tot ʼn oeuvre wat op die Afrikaanse letterkunde en literêre figure fokus. Haar ander boeke sluit in Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog en ʼn biografie van Ingrid Jonker.