Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch bied eerste IOSOT-konferensie in Afrika aan
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 02/09/2016

Die Internasionale Organisasie vir die Studie van die Ou Testament (IOSOT) se eerste konferensie op die Afrikavasteland vind van 4 tot 9 September 2016 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas. Dit is maar die tweede keer sedert die stigting van IOSOT in 1950 dat die konferensie buite Europa gehou word – in 1986 het dit in Jerusalem plaasgevind.

Volgens prof Johann Cook, buitengewone professor in die US se Departement Antieke Studie en die voorsitter van IOSOT, dien dié driejaarlikse konferensie as saamtrekpunt vir verskeie kenners om oor aspekte van die Hebreeuse Bybel/Ou Testament te besin.

"Hierdie eerste IOSOT-konferensie in Suid-Afrika en op die vasteland bied vakkundiges van Afrika nou die geleentheid om IOSOT die eerste keer persoonlik te beleef, want dit is duur om vir hierdie soort konferensies Europa en Amerika toe te reis. Daarom het ons ook voorsiening gemaak vir borgskappe sodat baie afgevaardigdes van Afrika aan die geleentheid kan deelneem," sê Cook.

IOSOT 2016 het finansiële bystand van die Suid-Afrikaanse Nasionale Navorsingstigting, die US, die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap in Suid-Afrika (OTWSA) sowel as die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse Studie (SAVNOS) ontvang.

Sowat 350 afgevaardigdes van Suid-Afrika en lande soos Duitsland, Amerika, Brittanje, Israel, Nederland, Japan, Brasilië, Ghana, Zimbabwe, Argentinië, Iran, Peru, die Filippyne en vele ander het reeds op Stellenbosch aangekom. 

"By die konferensie sal 15 gassprekers hoofreferate oor die Ou Testament lewer. Verskillende aspekte soos grammatiese, teologiese (onder meer met betrekking tot die boeke van Genesis, Job en Daniël), argeologiese en etiese beskouings sal bespreek word. Feministiese studies sal ook een van die temas wees. 'n Nuutjie by hierdie kongres is die aanbieding van seminare oor spesifieke onderwerpe. Daarbenewens sal etlike kortreferate ook gelewer word. Onder meer sal prof Sakkie Cornelius van die Departement Antieke Studie met ons kom gesels oor die waarde van antieke studie om ons die Hebreeuse Bybel te help verstaan," verduidelik Cook.

Altesaam 280 aanbiedings sal gedurende die geleentheid gelewer word.

Op die vraag oor die waarde van dié konferensie in die moderne tyd sê Cook: "Die Hebreeuse Bybel en die Nuwe Testament vervul steeds 'n rol in die moderne samelewing. Dít geld ook vir die verskillende weergawes van die Hebreeuse Bybel. Wat tyd betref, is hierdie vertalings gedoen baie na aan die Hebreeus wat destyds gebruik is. Dus kan ons verwag om belangrike teologiese insigte daaruit te put."

Volgens Cook beteken die deelname van vakkundiges van die Afrikavasteland en ander streke van oor die hele wêreld dat 'n wye verskeidenheid standpunte by die konferensie gestel sal word. "Europa en Amerika is voorlopers wat nuwe ontwikkelings op die vakgebied van die Hebreeuse Bybel betref. Tog is die Afrika-invloed op daardie vastelande sowel as op die Bybel baie belangrik. Waar anders ter wêreld kry jy Kontekstuele Afrikateologie? Dit is maar net een voorbeeld van die unieke bydraes wat vakkundiges op die Afrikavasteland tot hierdie navorsingsgebied lewer."

Volgens gebruik sal die kongresse van die Internasionale Organisasie vir Septuagint- en Verwante Studie (IOSCS), die Internasionale Organisasie vir Targoemstudie (IOTS) en dié vir Siriese Studie weer in samehang met die IOSOT-konferensie plaasvind. Dit geld ook vir 'n aantal Suid-Afrikaanse akademiese verenigings. Die gasheerinstellings het die konferensieprogram in samewerking met SAVNOS gereël, terwyl prof Louis Jonker van die dissiplinegroep Ou en Nuwe Testament in die Fakulteit Teologie as konferensiesekretaris vir IOSOT 2016 optree. Die geleentheid sal in die Lettere en Sosiale Wetenskappe- sowel as die Wilcocks-gebou plaasvind.

"Natuurlik sal ons nie nét werk nie," skerts Cook, "ons beplan ook om ons gaste op uitstappies na Khayelitsha, Franschhoek en die Waterfront te neem sodat hulle die diverse aard van Suid-Afrika kan beleef."

Vir meer inligting oor IOSOT, gaan na www.iosot2016.co.za.