Die Universiteit Stellenbosch (US) doen 'n beroep op alle Maties (en vriende van Maties) wat vanjaar aan die Comrades-marathon deelneem om by die #Move4Maties-gemeenskap aan te sluit en fondse in te samel vir studente in finansiële nood.
Volgens Alwin Mabuza, fondswerwer by die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge en koördineerder van #Move4Maties, word daar verwag dat meer as 50 US-personeellede, studente en alumni op 8 Junie aan die veeleisende 90 km-wedloop van Durban na Pietermaritzburg gaan deelneem. Soos vorige jare word deelnemers aangemoedig om by die #Move4Maties-span aan te sluit en hul Comrades-reis te gebruik om fondse in te samel vir die US se #CaughtInTheMiddle-veldtog. Hierdie veldtog ondersteun "verlore middel"-studente – diegene wat nie kwalifiseer vir hulp van die regering se Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie, maar wat ook nie hul studiegeld kan bekostig nie.
"Ons beoog om R100 000 in te samel, wat 'n betekenisvolle verskil in die lewens van verskeie studente kan maak. Deur by die #Move4Maties-gemeenskap aan te sluit, kan hardlopers 'n dieper betekenis aan hul reis gee – om studente te ondersteun terwyl hulle self 'n persoonlike uitdaging aanpak," sê Mabuza.
Zoleka Keva, Finansiële Beampte: Skuldinvordering by die US, sê dit sal die tweede keer wees dat sy aan die Comrades deelneem om geld vir hierdie US-inisiatief in te samel.
“Ek het besluit om as 'n fondswerwer te registreer omdat ek besef dat ek my passie kan gebruik om 'n blywende impak te maak. Wanneer jy ure op die pad deurbring, het jy tyd om na te dink oor wat werklik saak maak. Om ander deur hierdie platform te help, voel soos die perfekte manier om my wedloop 'n dieper betekenis te gee. Die gevoel van sukses wanneer jy deel is van iets groter as jouself, gekombineer met die wonderlike ondersteuning wat jy van die gemeenskap kry, is baie bevredigend."
Sy moedig Maties wat aan die Comrades deelneem, maar nog nie as fondswerwers ingeskryf is nie, aan om dit te doen.
“Aan my mede-Maties: julle het reeds ongelooflik baie moeite en toewyding daarin belê om aan die Comrades deel te neem. Waarom nie daardie toewyding ʼn stap verder vat nie? Om 'n fondswerwer te word, gee nog 'n dimensie aan jou wedloopdag-ervaring. En vir dié wat die veldtog wil ondersteun deur 'n donasie te maak – julle kan letterlik lewens verander. Jy word deel van ons Comrades-reis, en saam kan ons iets besonders bereik."
US-alumnus Siboniso Zungu, wat aan sy agtste Comrades gaan deelneem, sê hy het as 'n fondswerwer ingeskryf omdat "die bietjie wat ek kan bydra, kan help om die lewe te red van iemand wat dit dalk oorweeg om selfmoord te pleeg weens depressie wat deur finansiële probleme veroorsaak word".
Zungu, wat tans in diens is van die Stad uMhlathuze in Richardsbaai as 'n senior ingenieur in beheer van sleutelinfrastruktuurprojekte onder water- en sanitasiedienste, moedig ook sy mede-Matie-hardlopers aan om as fondwerwers in te skryf of geld gaan die veldtog te skenk.
“Laat ons daarna streef om die verandering te wees wat die samelewing nodig het en laat ons help waar ons kan. In Zoeloe is daar 'n gesegde 'Izandla Ziyagezana' wat beteken 'die een hand was die ander'. Laat ons dus saamwerk om behoeftiges te help."
Zareena Badsha, wat in 2021 'n nagraadse diploma in Strategiese Menslike Hulpbronbestuur aan die US verwerf het en tans as menslikehulpbronbestuurder by 'n kollektiewe bestuursorganisasie werk, sê sy neem vir die vierde keer aan die Comrades deel as fondswerwer omdat sy aanklank vind by die #CaughtInTheMiddle-veldtog.
“Ek en my ouers het in hierdie kategorie geval en nou, as 'n werkende volwassene, val ek steeds in hierdie kategorie. Dit sal dus vir my baie beteken as ek net een student se lewe kan raak en dit vir hulle 'n bietjie makliker kan maak. Ek is ook geseënd dat ek kwalifikasies aan verskeie Suid-Afrikaanse universiteite kon verwerf en sal daarom altyd wil teruggee."
Sy voeg by: “Ek wil net my mede-Matie-hardlopers daaraan herinner dat die toewyding, vasberadenheid en veerkragtigheid wat ons toon om vir die Comrades voor te berei, dieselfde eienskappe is wat hierdie studente daagliks in hul studies toon. Deur fondse vir hulle in te samel, maak ons dit vir hulle 'n bietjie makliker om te volhard en hul studies te voltooi. Dit op sigself is net so lonend en lewensveranderend soos om 'n Comrades-marathon te voltooi."
Maties Comrades-deelnemers wat die #CaughtInTheMiddle-veldtog wil ondersteun, word aangemoedig om teen 31 Mei 2025 in te skryf. Hier is hoe jy betrokke kan raak:
Fotograwe:
Yvette Harris
Action Photo SA
Siboniso Zungu