Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Stias vier sy silwerjubileum in styl
Outeur: Desmond Thompson: Freelance Journalist
Gepubliseer: 19/03/2025

​Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) het sy silwerjubileum gedenk met ʼn grootse viering van 25 jaar se baanbrekersnavorsing, intellektuele uitruiling en wêreldwye samewerking. Tydens dié geleentheid op 10 Maart 2025 is ʼn nuwe uitbreiding van die STIAS Wallenberg-navorsingsentrum ook ingewy, wat die Instituut se voortgesette groei en impak sal versterk.

Mylpaal bereik

In sy verwelkoming van die 220 gaste het prof Edward Kirumira, Direkteur van Stias, erkenning verleen aan die vertroue en toewyding wat Stias die afgelope kwarteeu gerugsteun het.

“Vandag vier ons fees met die wete dat Stias in sy eerste 25 jaar werklik ʼn kreatiewe ruimte vir die gees was," het hy met verwysing na die Instituut se slagspreuk gesê.

Hy het hulde aan sy voorgangers gebring en hul rol beklemtoon in die ontwikkeling van Stias tot ʼn instelling wat meer as 900 genote, insluitend Nobelpryswenners, verwelkom het. Prof Bernard Lategan was die stigtersdirekteur, prof Hendrik Geyer het hom in 2008 opgevolg en Kirumira het in 2019 oorgeneem.

“Wees verseker dat die idee wat geplant is, ontkiem het en nou eksponensieel groei," het Kirumira gesê.

Hy het verwys na die Instituut se impak op die res van Afrika, veral deur sy Iso Lomso-program (“die oog van môre" in isiXhosa), wat opkomende kundiges oor die vasteland heen ondersteun en genote van 16 lande huisves.

“Ons is ʼn trotse Afrika-instituut wat organies tot ʼn instelling van wêreldwye statuur ontwikkel het," het hy gesê.

Versterking van die kennis-ekosisteem

In sy toespraak het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), die besluit in 1999 om Stias tot stand te bring geprys en dit “ʼn juweel in die kroon van US-verwante inisiatiewe" genoem.

Stias is geskep “om ʼn genootskap-program te bied wat kruisdissiplinêre navorsing op die hoogste vlak bevorder," lui die jubileumpamflet.

“Toonaangewende navorsers en intellektuele van oor die wêreld heen word ondersteun om innoverend te dink en volhoubare strategieë vir die wêreld na te streef, met die fokus op Afrika."

In 2007 het die US se Raad ʼn voorstel goedgekeur om Stias onafhanklik te maak. Maar terwyl Stias sy eie, duidelike identiteit bevorder het, is nou bande met die US behou.

“Stias het ontwikkel tot ʼn onafhanklike kragbron van intellektuele navosing, terwyl ʼn diepgaande en betekenisvolle vennootskap met die Universiteit gehandhaaf word. Ons verbintenis met Stias is van onskatbare waarde. Die Instituut verbeter ons navorsingslandskap, versterk ons wêreldwye reputasie en koester die volgende generasie kundiges," het De Villiers gesê.

Visie verwesenlik

Kirumira het die Wallenberg-stigtings, die US-raad en ander skenkers, insluitend die Riksbankens Jubileumsfond, die Donald Gordan-stigting en die Suid-Afrikaanse regering deur die Toekomstige Professore-program, vir hul ondersteuning deur die jare bedank. (Klik hier vir ʼn volledige lys van skenkers.)

Vir Peter Wallenberg jr. was die viering ʼn geleentheid om sy familie se blywende ondersteuning van Stias te eer. Die Wallenberg-stigtings van Swede was instrumenteel in die finansiering van die Instituut sedert sy ontstaan en beskou dit as ʼn manier om terug te gee aan Afrika – ʼn vasteland wat ʼn diepgaande indruk op sy oorlede pa, Peter Wallenberg sr., gelaat het.

Wallenberg jr het in sy toespraak oor Stias se globale aansien en sy groeiende invloed besin.

Stias is in 2018 genooi om by ʼn uitgelese groep van nege soortgelyke liggame aan te sluit, bekend onder die akroniem Sias (Some Institutes for Advanced Study). Dit beteken dat Stias die eerste instelling van sy soort in Afrika en die suidelike halfrond geword het om deel te word van dié konsortium, wat institute by Princeton, Stanford en Harvard insluit, asook in Nederland, Duitsland en Frankryk.

“Stias is uniek. Julle moet trots wees dat julle nou die Nobelsimposium aanbied –die eerste keer dat dit buite Skandinawië gebeur het," het Wallenberg gesê.

Stias bied sedert 2022 die Nobel in Afrika-inisiatief in vennootskap met die US en onder die vaandel van die Nobel-stigting en die Koninklike Sweedse Akademie van Wetenskappe aan.

Fisika, chemie, ekonomie en geneeskunde/fisiologie is tot dusver gedek, met ʼn literatuursimposium wat vir November 2025 beplan word. Hierdie gesogte byeenkomste bied ʼn internasionale forum om hoëvlak-wetenskap te deel, asook om die breër publiek betrek.

ʼn Ruimte vir groei en innovasie

Bykomend tot Stias se intellektuele bydraes het die instelling ook nou fisies uitgebrei. Die nuwe uitbreiding bied bykomende vergaderings- en interaksieruimtes, wat die Instituut se rol as ʼn platform vir globale diskoers versterk.

Kirumira het groot lof gehad dat die konstruksiespan die beplande spertyd van 12 maande vir die nuwe vleuel gehaal het.  Dr Morné du Plessis, voorsitter van Stias se raad van direkteure, het die lint geknip om die nuwe vleuel formeel in te wy. Hy het ʼn heildronk voorgestel: “Kom ons neem waar hoe Stias kennis vir ʼn beter en vriendeliker wêreld genereer."

ʼn Heildronk op kreatiwiteit

As deel van die viering was gaste ook getuies van die onthulling van ʼn beeldhouwerk wat vir Stias se silwerjubileum bestel is, naamlik ʼn gesamentlike werk deur die beeldhouers Rose Namubiru Kirumira en Kobus la Grange.

Dit is geskep uit ʼn eeu-oue denneboom op die terrein wat tydens ʼn storm in 2024 ontwortel is. Die werk, getiteld “Guardians of Knowledge", simboliseer die belangrikheid van die beskerming en koestering van kennis.

Na afloop van die formele verrigtinge kon gaste die Stias-fasiliteite bekyk, insluitend die historiese Mostertsdrift-herehuis en -tuine, voordat hulle ʼn skemerkelkie-onthaal geniet en Aliquid Novi Pinotage geproe het.

Dié wyn word gemaak van druiwe wat in die Stias-wingerd geoes is. Dit is in 2006 geplant ter ere van Abraham Izak Perold (1880–1941), die eerste professor in wynkunde aan die US en die skepper van pinotage. Die wyn se naam is afgelei van ʼn gesegde van Plinius die ouere, ʼn eerste-eeuse Romeinse filosoof: Ex Africa semper aliquid novi (“Uit Afrika, altyd iets nuuts").

ʼn Blik op die toekoms

Soos wat STIAS wasdom bereik, fokus sy leierskorps op die bevordering van wetenskap en vakkundigheid oor dissiplines heen, tot voordeel van Afrika en die res van die wêreld.

Kirumira het die Instituut se verbintenis tot gehalte en volhoubaarheid opnuut bevestig om te verseker dat Stias voortgaan om ʼn positiewe impak op die samelewing te maak.

“Ons het ons visier daarop gerig om ons voetspoor op die Afrika-kontinent uit te brei deur wedersyds voordelige gesprekke met topdenkers regoor die wêreld te voer," het hy gesê en bygevoeg dat Stias nou ook met die African Academy of Sciences (AAS) en die Academy of Sciences of South Africa (Assaf) saamwerk.

Wallenberg jr. het die Wallenberg-stigtings se voortgesette ondersteuning opnuut bevestig: “Ons ondersteun Stias reeds 25 jaar lank en hoop om dit minstens nog 25 jaar in samewerking met die US te doen, om mee te begin."

Vir die US en sy vennote is Stias ʼn baken van uitnemendheid, sprekend van die krag van intellektuele nuuskierigheid en ʼn model vir kruisdissiplinêre navorsing wat beide Afrika en die wêreld dien.

Tekening: ʼn Kunstenaarsindruk van die Stias Wallenberg-navorsingsentrum, met die nuwe uitbreiding aan die linkerkant. Foto: VKDB Architects.​​

* Artikel d​eur Desmond Thompson (vryskut-joernalis)