Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Hans Strijdom en sy span se werk help om hartsiekte te voorkom
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 16/08/2023

Prof Hans Strijdom, hoof van die Afdeling vir Geneeskundige Fisiologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch, het Dinsdag 15 Augustus 2023 sy intreerede gelewer. Die titel van sy rede was “Die vaskulêre boom van 'n akademiese loopbaan: gekronkel, turbulent en disfunksioneel, met salige oomblikke van laminêre vloei tussenin".

Strijdom, wat ook die adjunkdirekteur van die Sentrum vir Kardiometaboliese Navorsing in Afrika by die FGGW is, het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe sy navorsingspan se werk oor die binneste voering van bloedvate ten doel het om hartsiekte te voorkom.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

My oorkoepelende navorsingsbelangstelling is op gebied van kardiovaskulêre fisiologie, patofisiologie, (die bestudering van abnormale veranderinge in liggaamsfunksies wat siekteprosesse veroorsaak of tot gevolg het) en siekte. Sedert 2014 het ek op vaskulêre biologie begin fokus – dit is die bestudering van bloedvate en vaskulêre endoteel (die binneste voering van bloedvate), asook die interaksie tussen MIV-infeksie en kardiometaboliese siekte. My belangstelling in hierdie vakgebied is aan die een kant te danke aan my kliniese agtergrond en ondervinding nadat ek so baie pasiënte gesien het wie se leefstylsiektes moontlik omgekeer kan word. Aan die ander kant het die feit dat die vaskulêre stelsel die geboorteplek van die meeste algemene kardiovaskulêre siektetoestande is, ook daartoe aanleiding gegee.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Ek en my navorsingspan strewe uiteindelik daarna om tot die skepping van nuwe en die uitbreiding van bestaande kennis oor kardiometaboliese siekte in die Suid-Afrikaanse konteks en in Afrika suid van die Sahara by te dra. Ongelukkig is bestaande epidemiologiese en meganistiese (fundamentele biomediese navorsing) kardiovaskulêre data hoofsaaklik van Europese en Noord-Amerikaanse navorsingstudies afkomstig wat nie altyd op ons konteks van toepassing is nie. Hierdie gaping moet aangespreek word sodat toepaslike en relevante siektebestuur- en behandelingstrategieë ontwikkel kan word.Strijdom and team.jpg

Hoe help jou navorsing oor die verswakte funksionering van selle wat in die binneste voering van bloedvate geleë is om kardiovaskulêre siekte te voorkom?

Die laag selle wat die binneste voering van bloedvate uitmaak (wat endoteelselle genoem word) vorm saam die liggaam se grootste biologiese versperring tussen die bloed en alles (goed en sleg) wat van die res van ons liggaam in die bloed vervoer word. Hoewel dit oor die algemeen veerkragtig is, word endoteelselle kwesbaar vir besering wanneer dit chronies aan skadelike middels en risikofaktore blootgestel word. Die selle word wanfunksioneel en die versperring wat hulle verskaf, begin lek. Indien dit nie omgekeer word nie, ontwikkel die bloedvate inflammasie, bloedklonte vorm en aterosklerose (verdikking of verharding van slagare) ontwikkel.

Ons aanvanklike navorsing in die vroeë 2000's het die rol van onderliggende meganismes van endoteel-wanfunksie in proefselmodelle bestudeer met 'n spesifieke fokus op stikstofmonoksied, 'n beskermende gasagtige molekule wat deur endoteelselle vrygestel word. Ons was in staat om 'n in vitro-model van endotele wanfunksie te bepaal wat ons in staat gestel het om 'n aantal sellulêre paaie te ontwar wat by die oorgang na wanfunksie betrokke is. Van daar af het ons na dierlike modelle van vaskulêre wanfunksie beweeg wat deur vetsug veroorsaak is. Ons het onder meer die uitwerking van blootstelling aan nikotien en die omkeer van wanfunksie met behulp van Rooibos-behandeling getoets. Sedert 2014 is ons besig met menslike navorsingstudies op mense wat saam met MIV en daarsonder leef, waar ons endotele funksie met ultraklankbeeldvorming geassesseer het.

Hierdie studies verskaf saam data wat ons help om onderliggende meganismes van endotele wanfunksie in selle, diere en mense beter te verstaan. En gegewe die rol daarvan as 'n vroeë stap in die ontwikkeling van kardiovaskulêre siekte, dra ons bevindings daartoe by om meganismes en risikofaktore van endotele wanfunksie te identifiseer wat kan help om toekomstige hartsiekte te voorspel en te voorkom. 

Op grond van jou werk, waarom is dit ook belangrik om op die wisselwerking tussen MIV en kardiometaboliese veranderings te fokus by mense wat met die virus saamleef?

Ons land en vasteland staar 'n veelvoudige siektelas in die gesig met die hoë voorkoms van MIV en kardiometaboliese siekte. Daarby word MIV opsigself nou as 'n belangrike kardiovaskulêre risikofaktor beskou – mense wat met MIV saamleef, se risiko om hartsiekte te ontwikkel is inderdaad twee maal hoër as dié van die algemene bevolking. Ons moet nog uitwerk wat die presiese risikoprofiel van mense in Afrika suid van die Sahara is. Ons is ook nie seker of dieselfde meganismes 'n rol in bevolkings in Afrika suid van die Sahara speel nie. Indien ons nie dringend meer en groter bevolkingstudies oor die wisselwerking tussen MIV en kardiometaboliese siekte doen nie, kan ons 'n groter openbare gesondheidskrisis in die gesig staar, aangesien mense wat met MIV saamleef, langer lewe danksy antiretrovirale terapie.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

My studente! Beide die voorgraadse én die nagraadse studente met wie ek daagliks in óf die lesingkamer óf die laboratorium in aanraking kom, maak alles die moeite werd.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek is die voorsitter van die internasionale raad van 'n jeuguitruilorganisasie (genaamd Youth for Understanding) wat in meer as 40 lande wêreldwyd kantore het. Ons organisasie fasiliteer elke jaar die uitruiling van sowat 2 500–3 000 hoërskoolleerders regoor die wêreld, wat leerders insluit wat ná Suid-Afrika kom, asook Suid-Afrikaanse leerders wat vir 'n semester of 'n jaar lank oorsee gaan.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek bring tyd tuis deur in my pragtige tuin saam met my twee honde. Ek is lief vir reis. En ek spandeer 'n aansienlike deel van my vrye tyd aan my vrywillige werk by Youth for Understanding. (O, en ek moet erken ek kettingkyk graag programme op Netflix!)

  • Hooffoto: Prof Hans Strijdom
  • Foto 1: Prof Hans Strijdom en sy navorsingspan