Die vergadering van die Raad van die Universiteit Stellenbosch op Maandag 28 September 2015 het by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op Tygerbergkampus plaasgevind. Raadslede is op uitnodiging van die Afdeling Fasiliteitsbestuur op 'n kampustoer geneem. Die Raad het in 2010 altesaam R250 miljoen bestem vir noodsaaklike instandhoudings- en bouwerk sowel as die verbetering van infrastruktuur in die Fakulteit. 'n Beduidende gedeelte van die werk is afgehandel en Raadslede kon onder meer na die opgeknapte lesingsale en die studentekoshuis Huis Ubuntu gaan kyk. Nóg 'n koshuis sal vroeg in 2016 voltooi wees.
Die kommunikasie uit die Raad sluit ook sleutelsake in vanuit die verslae deur die Rektor en die Viserektor: Leer en Onderrig. Lees meer oor die raadsbesluite en dié verslae.
AANSTELLINGS
Die Raad het op aanbeveling van sy Menslike Hulpbronnekomitee besluit om die aanstellingsproses vir twee viserektore aan te voor. Die nuwe pos van Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisasie, wat die Raad reeds goedgekeur het, sowel as dié van Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel (voorheen Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel), wat prof Nico Koopman tans in 'n waarnemende hoedanigheid beklee, sal binnekort geadverteer word.
Lede van die Raad het ook kennis geneem van die Menslike Hulpbronnekomitee se verslag oor die aanstelling van me P Mmope as Senior Direkteur: Korporatiewe Bemarking en dr B Schreiber as Senior Direkteur: Studentesake. Daarbenewens het die Menslike Hulpbronnekomitee verslag gedoen oor die onmiddellike verandering van die posbenaming 'Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel' na 'Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel'. Die titel 'Viserektor: Navorsing en Innovasie' verander op sy beurt na 'Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie'.
Laastens het die Raad kennis geneem van die Gesamentlike Aanstellingskomitee se verslag oor die heraanstelling van prof Jimmy Volmink as Dekaan: Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wie se tweede ampstermyn van 1 Januarie 2016 tot 31 Desember 2020 sal strek.
MOSIES
Die Universiteitsraad het verskeie mosies aanvaar:
Taalbeleid
Die Raad het sy steun toegesê aan die aanbeveling deur die Rektor se Bestuurspan dat die woord "safeguard" in verband met Afrikaans as akademiese taal uit die aanhef en die res van die (Engelse) Taalbeleid geskrap word. Kwalifiseerders soos "oordeelkundig" en "waar doenlik" met betrekking tot die ontwikkeling van Xhosa as akademiese taal sal ook uit die inleiding verwyder word. Hierdie aanbevelings het gevolg nadat taakgroepe ondersoek ingestel het na verskeie studenteliggame se voorstelle in memorandums wat teen die einde van die eerste semester aan die Universiteitsbestuur oorhandig is. Soos wat die Universiteit se Statuut bepaal, sal die voorgestelde wysigings aan die Taalbeleid by die Raadsvergadering in November 2015 ter tafel gelê word, ná oorlegpleging met die Institusionele Forum en met die instemming van die Senaat.
Ondersteuning vir Rektor en Bestuurspan
Die Raad het 'n mosie van steun vir die Rektor en sy Bestuurspan aanvaar, bepaald vir hoe hulle die verskeie komplekse gesprekke en twis oor transformasie aan die Universiteit die afgelope tyd bestuur het en stééds bestuur. Daar is ook 'n beroep op die Universiteitsbestuur gedoen om koers te hou, openlike en kritiese gesprekvoering te bevorder, op transformasieuitdagings te reageer, en proaktief omstandighede te skep vir verskillende vorme van studente- en personeelaktivisme om die waardes, beginsels en regte in die Grondwet te verwesenlik.
Toewyding aan transformasie
Die Raad het sy volgehoue en vasberade steun bevestig vir die dokument Institusionele Voorneme en Strategie, wat in April 2013 aanvaar en onder leiding van wyle prof Russel Botman opgestel is, sowel as vir die Institusionele Plan, wat die Raad in Desember 2014 goedgekeur het. Hierdie dokumente toon die Raad en die Universiteitsbestuur se toewyding aan die strewe na transformasie.
Daar is kennis geneem van mnr Piet le Roux ('n lid van die Raad) se optrede en uitlatings oor universiteite in Suid-Afrika en die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, en dat hierdie optrede en uitlatings teen transformasie indruis.
Hoewel mnr Le Roux se grondwetlike reg op sy eie mening erken word, distansieer die Raad hom geheel en al van dié lid se openbare uitlatings, wat uit pas is met die Raad se amptelike standpunt. Die Raad keur die Universiteitsbestuur se hantering van die transformasieproses goed, en herbevestig sy volle steun vir en vertroue in die bestuur.
Komitee om optrede en uitlatings te ondersoek
Die Raad het 'n komitee van vyf lede saamgestel om mnr Piet le Roux se beweerde optrede en uitlatings aan die hand van wetgewing en die gedragskode vir lede van die Raad te ondersoek. Die komitee het opdrag ontvang om oor die proses met mnr Le Roux ooreen te kom, advies en leiding van senior regsadviseurs te bekom, en hulle bevindinge en aanbevelings drie weke voor die volgende Raadsvergadering van 30 November 2015 aan die Raad bekend te maak.
Lees meer