Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leerders verken die wêreld van uitsaaiwese en tegnologie
Outeur: Korporatiewe Bemarking/Corporate Marketing
Gepubliseer: 23/12/2014

​Vyftig leerders tussen die ouderdomme van 16 en 18 jaar, almal met 'n passie vir die media, het onlangs gratis media opleiding ontvang en die geleentheid gekry om te sien wat agter-die-skerms by 'n radiostasie gebeur. 

​Die leerders van Stellenbosch en omliggende areas het vanaf 15 tot 19 Desember 'n voorsmakie gekry van die wêreld van tegnologie en uitsaaiwese tydens die jeug radiostasie MFM se eerste somerskool wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Leertegnologieë asook Eduloan gehou is. 

"Die einddoel van hierdie program was om die leerders met waardevolle vaardighede toe te rus. Hiermee kry hulle ‘n voorsprong om hul drome en 'n loopbaan in radio te volg," het Charita van der Berg, MFM se stasiebestuurder, gesê. 

Die aspirant media persoonlikhede het tyd by MFM spandeer waar hulle geleer is hoe om 'n omroeper op die lug te wees, produksiewerk te doen, nuuslees, bemarking, sosiale media, verkope, finansies sowel as voor-en agter die skerms televisie opleiding. 

By die Sentrum vir Leertegnologieë en Telematiese studios het die leerders voor en agter die kamera gewerk. Onder leiding van personeel by die Sentrum, kon die leerders onderhoude op kamera met mekaar voer. Dié onderhoude is opgeneem en as 'n DVD verpak wat hulle huis toe kon neem.

O'Ryan Samuels, 'n leerder by Charlston Hill Sekondêre Skool, was baie opgewonde om te sien wat in die beheerkamer van die studio gebeur, maar het gesê hy is gretig om "eendag voor die kameras te werk". Hulle het ook die wêreld van aanlyn-uitsendings en streaming verken via programme soos Google Hangouts-en YouTube. "Ek het 'n liefde vir radio, maar het nooit geweet hoe baie werk ingaan in die vervaardiging van die finale produk nie," het Sinesipho Mvotyo van Desmond Tutu Mphilo Sekondêre Skool gesê.

Twee van die vele dienste wat deur die Sentrum aangebied word is grafiese ontwerp en video-redigering. Die somerskool leerders het 'n les in freeware tools ontvang, hoe om hul eie films te maak en na 'n foto-redigering demonstrasie gekyk. Kelsey Roberts van La Rochelle Girls Sekondêre Skool het gesê sy is gretig om haar nuwe vaardighede in 'n blog te inkorporeer wat ander kan help om hul gedagtes te verbreed.

"Hierdie projek is gebore uit 'n passie om mense op te lei en vir ons as MFM om meer betrokke te kan raak by ons gemeenskap. Ons is baie trots op die somerskool-projek. Dit is iets wat ons definitief sal volhou in die toekoms. Alles is bereik wat ons wou hê. Vriendskappe is gevorm en die jeug is geïnspireer," het Van der Berg bygevoeg.

Op die web: