Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Voornemende Studente

 

Sosio-ekonomiese faktore en onvoldoende akademiese voorbereiding vir universiteitstudie is die twee grootste uitdagings vir skoolverlaters wat verder wil studeer.

  • Die US ken werwingsbeurse, merietebeurse en sportbeurse toe aan talentvolle en behoeftige studente. In 2013 is R40.2 miljoen vir werwingsbeurse bewillig, terwyl addisionele fondse van R21.9 miljoen vir behoeftige studente beskikbaar gestel is.
  • Benewens die toekenning van beurse, help die die Sentrum vir Voornemende Studente om diversiteit te bevorder deur in samewerking met Thuthuka, ʼn transformasie-inisiatief van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters, die US Thuthuka-program vir swart studente aan te bied.
  • Sedert 2001 word die die Universiteit Stellenbosch se  Wetenskap- en Wiskunde-oorbruggingsprogram (SciMathUS) aangebied wat vir studente van opvoedkundig-benadeelde gemeenskappe die geleentheid gee om toegang tot hoër onderwys te verkry. Die program word oor ʼn jaar aangebied en studente kan tussen wiskunde en fisiese wetenskappe, of wiskunde en rekeningkunde kies.  Die program rus studente ook toe met die vaardighede om sukses te behaal met hul universiteitstudies. Talle SchiMathUS-studente het al danksy harde werk en toewyding as mediese doktors, ingenieurs en onderwysers gekwalifiseer nadat hulle matriekpunte aanvanklik te swak was om universiteitstoelating te verkry. In 2013 is die SchiMathUS-program ook na die Worcester-kampus uitgebrei met 'n eerste inname van 50 skoolverlaters.
  • Studente uit onderwys-benadeelde skole word ook gewerf deur middel van ʼn spesiale werwingsinisiatief, die Rachel's Angels, onder leiding van prof Rachel Jafta van die US se Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Dit word in samewerking met Media24 aangebied.
  • Mentors van die Universiteit help om Graad 11- en 12-leerders deur middel van verskeie programme vir tersiêre opleiding voor te berei. Uit hierdie groep registreer ʼn noemenswaardige getal Afrikaanssprekende swart studente jaarliks aan die US.
  • Careers@Maties is 'n inisiatief waardeur akademiese toppresteerders in Graad 11 gratis loopbaanassessering- en voorligting ontvang. Onderwysers en skoolhoofde van deelnemende skole besoek die Universiteit en tree in gesprek oor wyses waarop daar verder aan die spesifieke behoeftes in verskillende skoolgemeenskap voldoen kan word.
  • Visit@Maties-projek behels ʼn driedaagse, ten volle betaalde kampusbesoek vir ʼn groep Graad 12-leerders van reg oor die land wat op grond van akademiese meriete gekies word. Dié leerders is ook almal US-werwingsbeurshouers.
  • Hope@Maties is 'n strategiese, institusionele projek wat gesamentlik deur die US se Sentrum vir Onderwysleierskap en Bestuur (SELEBOUS) in die Fakulteit Opvoedkunde, die Sentrum vir Voornemende Studente en die Afdeling Gemeenskapsinteraksie gedryf word. Graad 12-leerders word tydens Saterdae- en vakansieskole deur middel van 'n gratis tutor- en loopbaanvoorligtingsprogram ondersteun. Gekwalifiseerde en ervare opvoeders word gekontrakteer om klasse in sleutelvakke soos Wiskunde, Lewenswetenskappe, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde aan te bied. Leerders word ook aan verskillende vak-opsies by die Universiteit blootgestel sowel as aan loopbaankeuses wat ooreenstem met hul vakke.
  • Die jaarlikse Universiteit Stellenbosch–JIP Matrikulant van die Jaar-kompetisie gee erkenning aan graad 12-leerders wat op skool presteer, betrokke is by hul gemeenskap en leiereienskappe toon. Hierdie leerders ontvang beurse om aan die US te studeer.
  • Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe bied jaarliks 'n werwings- en uitreikprogram aan - Imbewu-Gesog! –  gemik op studente vanuit histories benadeelde gemeenksappe.  Dit maak 'n integrale deel uit van die fakulteit se werwing van studente in die geneeskunde en verwante gesondheidswetenskappe. Die program het ten opsigte van werwing  'n 50%-sukseskoers.