Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beurse om studente met uitstaande skuld in staat te stel om te registreer

​Beste studente

Dit is met groot dankbaarheid dat die Universiteit Stellenbosch (US) kan aankondig dat ons befondsing vir beurse kon bekom wat aan studente toegeken sal word wat weens uitstaande skuld nog nie kon registreer nie.

Hierdie beurse sal alle terugkerende voorgraadse en nagraadse studente help wat voorheen met behulp van NSFAS-toekennings gestudeer het en nou uitstaande skuld het wat hulle verhoed om te registreer.

Die US kan met hierdie beurse op twee groot uitdagings reageer wat ons aan die begin van die 2021-akademiese jaar in die gesig gestaar het:

  1. Die uitwerking van die COVID-19-pandemie in 2020 op studente se vermoë om akademies optimaal te funksioneer, en die Universiteit se besluit om hulle nie uit te sluit nie; asook
  2. Die vernietigende uitwerking wat die pandemie op die ekonomie en die huishoudelike inkomste van studente gehad het weens werksverliese, salarisverminderings en ander vorme van swaarkry.

Die toekenning van die beurse sal eenmalige verligting in die lig van die gegewe omstandighede bied en moenie die verwagting vir 'n presedent in komende jare skep nie.

Die Universiteit bly daartoe verbind om saam met die hoëronderwyssektor te werk om sistemiese en volhoubare oplossings vir die heersende finansiële krisis te vind wat universiteite en toegang tot hoër onderwys vir ons studente affekteer.

Sodra die beursgelde in die onderskeie studenterekenings inbetaal is, sal hierdie studente kan registreer – hetsy aanlyn of per e-pos of in persoon in Admin A. Ons hoop om dit Vrydag, 19 Maart teen sluitingstyd te kan bewerkstellig.

Selfregistrasie kan vanaf enige rekenaar met toegang tot die internet op www.maties.com gedoen word. Vir meer inligting, gaan na die skakel vir registrasie op www.sun.ac.za of klik hier.

Studente wat enige probleme met die aanlyn registrasieproses ondervind, kan die toepaslike fakulteitsadministrateur/beampte kontak. Klik hier en volg die skakel na die Registrasiegids vir kontakbesonderhede vir fakulteit- of programspesifieke inligting en dienste.

Individuele studente sal mettertyd kommunikasie oor hul beurstoekenning vir 2021 ontvang.

Vriendelike groete

Dr Ronel Retief
Registrateur