Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch verower internasionale prys vir volhoubaarheids-inisiatiewe
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 27/07/2023

​Die werk van die Universiteit Stellenbosch (US) se kantoor vir volhoubare ontwikkelingsimpak, die DVO/2063 Impak Hub, is as die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO)-inisiatief van die jaar in Afrika aangewys by die Akkreditasieraad vir Ondernemende- en Betrokke Universiteite (ACEEU) se Triple E-toekennings wat onlangs in Barcelona oorhandig is.

Die Triple E-toekennings gee wêreldwye erkenning aan ondernemerskap en betrokkenheid in hoër onderwys.

Die US het teen Noordwes-Universiteit, Euromed-Universiteit van Fes in Marokko en die Duitse Universiteit in Kaïro, asook die Amerikaanse Universiteit in Kaïro om die eerste plek in Afrika meegeding.

Die Universiteit het ook erkenning in die Mense-se-keuse-toekennings (algeheel) ontvang vir sy DVO-inisiatiewe. Verder was die US ook een van die vyf finaliste in die Ondernemersuniversiteit van die Jaar-afdeling met Innovuswat die tweede plek behaal het met sy inskrywing, “Making Stellenbosch University Innovation Matter!" (“Laat Universiteit Stellenbosch-innovasie saak maak").

Die programbestuurder van die DVO/2063 Impak Hub, Corina du Toit, sê hierdie toekenning is 'n bewys van die goeie vordering wat al by die US gemaak is om volhoubaarheid by die instelling vas te lê en bewustheid oor die US se bydraes tot die 2030 Agenda en die DVO'e daarvan te skep, asook die Afrika-unie se Agenda 2063 vir 'n vreedsame en welvarende Afrika. “Dit beklemtoon ook hoe goed die tydsberekening is vir bewusmaking oor die US se bydraes tot die Volhoubare Ontwikkelingsagendas op die vasteland en in die res van die wêreld. Daar is 'n magdom inisiatiewe waaroor daar verslag gedoen kan word."

Die toekenning gee erkenning aan die vordering wat die US maak om sy visie te realiseer om deur onderrig, leer, navorsing en impak een van die voorste navorsingsintensiewe universiteite te word. Die US se inskrywing, getiteld “Sustainable Development Progress for the Africa we want" (“Volhoubare Ontwikkelingsvordering vir die Afrika wat ons begeer", het die sleuteldoelwitte van die Hub – wat in die Sentrum vir Samewerking in Afrika gesetel is – beklemtoon. Dit sluit bewusmaking oor bestaande DVO/2063-verwante werksaamhede, voorspraak vir die sigbare begrip vir volhoubaarheid in navorsing, onderrig en bedryfsaktiwiteite, die sluit van vennootskappe deur internasionale medewerking, asook die insameling van data, meting van impak en die konsolidering van hulpbronne wat met volhoubaarheidsdoelwitte verband hou, in.

Die DVO/2063 Impak Hub is laat 2021 op die been gebring om die Universiteit te help om sistemies meer volhoubaar te word en die US se bydraes tot die twee Agendas te beklemtoon. Die hub het die US se bydraes tot volhoubare ontwikkeling op 'n streeks- en internasionale skaal uitgestippel en gedokumenteer.

“Die belangrikheid van die spesifieke fokus van die Universiteit Stellenbosch DVO/2063 Impak om ook ons aktiwiteite ten opsigte van die Afrika-unie se Agenda 2063-doelwitte uit te lig, moenie onderskat word nie," voeg dr Nico Elema, Direkteur van die Sentrum vir Samewerking In Afrika​ by. “Terwyl dit vir alle universiteite belangrik is om volhoubaarheid in ooreenstemming met die VN se DVO'e te verseker, moet ons as Afrika-universiteite die bykomende stap doen om ons aktiwiteite binne ons Afrika-konteks te verwoord. In hierdie opsig bied die AU se Agenda 2063 vir ons 'n rigtinggewende raamwerk."

Een van die hub se hoogtepunte die afgelope twee jaar was die stigting van die Afrikastreeksforum oor Klimaatsverandering saam met 23 ander hoëronderwysinrigtings wat Cop27 in 2022 voorafgegaan het.

Die Universiteit het in sy voorlegging vir die Triple E-toekennings daarop gewys dat beleggings regoor die Universiteit op alle vlakke nodig is om ware verandering te weeg te bring. Die Hub is dus die dryfveer agter 'n werkgroep om alle aspekte van navorsing, onderwys, uitreiking en rentmeesterskap te inkorporeer.