Maskers en isolasie is al amper vergete in Suid-Afrikaanse skole, tog het die COVID-19-pandemie probleme in die onderwysstelsel na vore gebring wat nie vergeet kan word nie en waaraan gewerk moet word.
Prof Michael le Cordeur, Visedekaan Onderrig en Leer by Fakulteit Opvoedkunde, se nuutste boek 'COVID, krisis en geleenthede vir die Onderwys' is onlangs vrygestel. Dit vertel van die nuwe geleenthede wat die pandemie vir onderwys gebied het.
Vrae soos of die onderrig wat aangebied word van so 'n gehalte is dat dit kinders vir 'n lewe na skool voorberei en of kinders beklee word met waardes en vaardighede sodat hulle 'n wesenlike bydrae tot die land se ekonomie kan maak deur selfversorgend te wees, word ondersoek.
Le Cordeur is die skrywer van verskeie boeke en sy waardevolle ervaring as onderwyser, dosent en navorser dra by tot sy besondere insig in onderwys. Die boek is gemik op onderwysdosente en onderwysers en verskaf riglyne oor hoe onderwys in die toekoms hanteer kan word. Dit is ook 'n historiese samevatting van die impak van die pandemie op onderwys in Suid-Afrika en is in Afrikaans en Engels beskikbaar by Naledi-uitgewers.