Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kapasiteitsbou vir die monitering van plaagdoderbesoedeling in Wes-Kaapse riviere
Outeur: Wiida Fourie-Basson, Faculty of Science (media)
Gepubliseer: 05/12/2022

​Geo-omgewingswetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) werk saam met die Swiss Federal Institute of Aquatic Research (Eawag) in Switserland om plaaslik kapasiteit te ontwikkel ten einde plaagdoderbesoedeling van water te kan monitor.  

Dr. Reynold Chow, 'n hidrogeoloog in die Departement Aardwetenskappe by die US, sê Suid-Afrika is die grootste gebruiker van plaagdoders in Afrika suid van die Sahara. Maar as gevolg van die kundigheid wat benodig word vir, en koste verbonde aan hierdie tipe monitoring, beskik die meeste van die ontwikkelende lande oor beperkte data oor die stand van plaagdoderbesoedeling.

Om hierdie gaping te help oorbrug, het Eawag 'n stel chemiese standaarde aan die Massaspektrometrielaboratorium in die US se Sentrale Analitiese Fasiliteite (SAF) geskenk. Hierdie chemiese standaarde wat baie duur is, word gebruik om die chemiese analitiese metodes te ontwikkel om hierdie skadelike verbindings in omgewingsmonsters op te spoor en te kwantifiseer.

Dr. Chow sê ons moet net so bekommerd wees oor plaagdoderbesoedeling in die omgewing as wat ons is oor die reste daarvan wat op uitvoerprodukte voorkom: “Terwyl daar streng regulasies is oor die vlak van plaagdoderreste op uitvoerprodukte, is daar geen regulasies in Suid-Afrika om die vlak van plaagdoderbesoedeling in die omgewing te beperk, veral  in water nie. Dit is nie net 'n omgewingsprobleem nie, maar ook vir landelike gemeenskappe in Suid-Afrika wat staatmaak op grondwater as drinkwater.

“Met ander woorde: óns moet met die gevolge van plaagdoderbesoedeling in ons plaaslike ekosisteme saamleef, terwyl lande wat Suid-Afrikaanse varsprodukte invoer, nié hoef nie. Dit beteken dat hulle letterlik die omgewingsimpak van plaagdoderbesoedeling na Suid-Afrikaners eksternaliseer," waarsku hy.

In 'n onlangse studie het dr. Chow saam met wetenskaplikes van Eawag, die Swiss Tropical and Public Health Institute, die Universiteit van Basel, en die Sentrum vir Omgewings- en Beroepsgesondheidnavorsing by die Universiteit van Kaapstad gewerk. Hulle het die vlak  van plaagdoderbesoedeling van water in drie landbou-intensiewe rivieropvangsgebiede in die Wes-Kaap gemonitor: naamlik Grabouw, die Hexriviervallei, en Piketberg. Hierdie gebiede is bekend vir hulle koring-, sagtevrugte-, wyn- en sitrusproduksie.

Oor 'n proefnemingstydperk van meer as 'n jaar waartydens hulle vir 101 plaagdoders getoets het,  het die oppervlakwater van al drie opvangsgebiede positief getoets vir minstens drie plaagdoders, terwyl die meerderheid watermonsters (83%) vyf of meer plaagdoders bevat het. Hierdie ontledings is by Eawag gedoen.

Daar heers kommer oor twee van die drie opvangsgebiede naamlik die Hexriviervallei en Piketberg, weens die voorkoms van hoë konsentrasies van sekere plaagdoders oor lang tydperke. Die analise van monsters van die Hexriviervallei  het vir 22 weke lank die teenwoordigheid van terbutielasien en imidaklopried getoon, terwyl terbutielasien en metsulfuron-metiel vier weke lank in die Piketberg-opvangsgebied voorgekom het.

Terbutielasien is 'n onkruiddoder vir die beheer van 'n breë spektrum van eenjarige onkruide in appelboorde, wingerde en sitrusboorde.  Metsulfuron-metiel is 'n onkruiddoder wat breëblaaronkruid en sommige eenjarige grasse doodmaak. Imidaklopried is 'n insekdoder wat nikotien wat natuurlik in baie plante voorkom, naboots en giftig is vir insekte. Dit word sedert 2013 in die Europese Unie verbied en bestempel as  'n plaagdoder wat kommer wek , aangesien dit wêreldwyd in heuning gevind is en as insekdoder moontlik vir die afname in heuningbypopulasies verantwoordelik is.  

Dr. Chow sê die mening is tans dat die plaagdoders wat in die riviere gevind word, nie met landboubespuitings verband hou nie (in die geval van terbutielasien en imidaklopried): “Dit is moontlik dat dit van ander bronne buite die landbou soos bosbou of stedelike gebiede afkomstig is,  of hierdie plaagdoders lek in die grondwater in waar dit geleidelik en reg deur die jaar na die riviere vervoer word.

Ten einde die potensiële omgewingsrisiko's en menslike gesondheidrisiko's beter te begryp, stel hulle deurlopende en volgehoue moniteringsprogramme vir plaagdoderbesoedeling in landbou-intensiewe opvangsgebiede voor. Dit moet gepaardgaan met 'n rekordhoudingstelsel van boere se  plaagdodergebruik. “Slegs dan sal ons in staat wees om konteksspesifieke risikodrempels en volhoubare landboupraktyke te ontwikkel waarby die omgewing, sowel as die ekonomie sal baat," sluit hy af.

Die studie getiteld “Seasonal drivers and risks of aquatic pesticide pollution in drought and post-drought conditions in three Mediterranean watersheds", is onlangs in die vaktydskrif Science of the Total Environment gepubliseer. Dit is aanlyn beskikbaar by: https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S004896972206884X

​Op die foto bo: MSc-student Emma Davies is tans besig met 'n internskap by Eawag waar sy opgelei word in die metodologie van plaagdoderanalise. Hier is sy in die laboratorium saam met haar medestudieleier, dr Christian Stamm.