Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteite in Afrika kan ware impak op vasteland maak — Prof Wim de Villiers
Outeur: Wim de Villiers
Gepubliseer: 23/11/2022

Universiteite in Afrika het al die nodige vermoëns en vaardighede om 'n ware impak op die vasteland te maak. Só skryf prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, in ʼn meningsartikel wat die Sunday Times op 22 November 2022 aanlyn gepubliseer het.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die opiniestuk soos geplaas.

Wim de Villiers*

“Niemand is ryk genoeg om gister te koop nie. Maar as jy hard werk, kan môre aan jou behoort." Met Afrika-universiteitedag wat in November regoor ons vasteland gevier word, hou hierdie diepsinnige woorde van Afrika se eerste Nobelpryswenner vir literatuur, Wole Soyinka, 'n betekenisvolle boodskap in vir hoëronderwysinrigtings in Afrika.

Navorsers en denkleiers van ons vasteland het die afgelope dekades met kragtige hale vorentoe gebeur om 'n vashouplek in die globale akademiese wêreld te vind en om hulle stemme te laat opklink. Maar hulle harde werk is beloon … en die wending het gekom.

Afrika was onlangs die gasheer vir gewigtige wetenskaplike gebeurtenisse wat nie net die internasionale erkenning vir denkleierskap uit Afrika beklemtoon nie, maar belangriker ook transkontinentale medewerking in die wetenskap vir ontwikkeling bevorder met die doel om beter oor te bou ná die Covid-19-pandemie, en om kennis en kundigheid oor van die wêreld se langdurigste uitdagings uit te ruil: 

  • Die Nobel-simposia in Afrika (in vennootskap met die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) en die Universiteit Stellenbosch (US) is 'n eerste vir Afrika. Dit het ten doel om die wetenskap en deurbrake met die navorsers en vakkundiges in Suid-Afrika en die res van Afrika, asook die openbare en private sektore te deel terwyl daar met internasionaal-erkende en gevierde wetenskaplikes en wêreldfigure in gesprek getree word.
  • Die Europese Gilde van Navorsingsintensiewe Universiteite (European Guild of Research Intensive Universities' engagement with Africa Research Universities Alliance) se betrokkenheid met Afrika Navorsingsuniversiteite Alliansie (ARUA) om gesamentlik te versoek om €1 miljard per jaar te belê in Afrika-navorsingsuniversiteite deur die Afrika-unie (AU) en die Europese Unie (EU), is ʼn progressiewe stap in die rigting van die hernieude Afrika-EU-vennootskap. Die werk wat hier gedoen word, is nodig om die diepgaande demografiese, sosiale en omgewingsveranderings wat beide vastelande in die gesig staar, aan te spreek. Om in navorsing en innovasie te belê sal ʼn betekenisvolle impak hê om hierdie uitdagings in beide vastelande aan te spreek.
  • COP27 in Egipte, wat onlangs plaasgevind het, is ʼn VN-Inisiatief oor klimaatsverandering wat fokus op hoe die wêreld se agt miljard mense teen 2030 by klimaatsverandering moet aanpas. Afrika-navorsingsleiers speel ʼn belangrike rol. Die Skool vir Klimaatstudies aan die US het byvoorbeeld groot vordering gemaak in samewerking met die 'Global Alliance of Universities on Climate' (GAUC) en vooraanstaande Afrika-navorsers en -beleidsmakers oor kwessies in Afrika wat met klimaatsverandering verband hou; en die bou van die wetenskaplike intellektuele kapasiteit om die skool toe te laat om leiding te gee op die gebied van koolsuurgasverwydering en klimaatsbestuur.
  • Dit volg op die hakke van Afrika-wetenskaplikes wat die voortou neem in die waarneming van patogeengenomika. Die werk van prof Tulio de Oliveira by die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en -innovasie (SERI) is gefokus op verbeterde biomediese ontdekking, verbeterde behandeling en diagnose en beter entstofontwikkeling om menslike siektes te voorkom. Prof. De Oliveira se werk het ook die potensiaal om wêreldwye navorsing op hierdie vakgebied te lei en beduidende ekonomiese geleenthede vir Afrika te skep. SERI en die Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is daarop ingestel om Afrika-wetenskaplikes op te lei in voorpuntgenomika, bio-informatika, groot data en kunsmatige intelligensie-tegnieke om Afrika se wetenskaplike vooruitgang te ondersteun.

     

Met die ontdekking van die Omnicron-variant het ons reeds vir die wêreld gewys dat Afrika in staat is om wêreldklaswetenskap te beoefen.

Wat nou nodig is, is nasionale, internasionale en transkontinentale samewerking oor instellings heen, met Afrika-navorsingsgerigte instellings wat ʼn deurslaggewende rol speel as betroubare wetenskapvennote. Navorsingsamewerking het internasionaal ʼn belangrike komponent van wetenskap, tegnologie en innovasie geword en aansienlike hulpbronne word deur regerings (bv Suid-Afrika, die Europese Kommissie en die VSA) vir hierdie doelwit toegewys.

Dit behoort aangemoedig te word deur die uitruil van kennis en oop wetenskap. Oop wetenskap is die beweging om navorsing en die verspreiding daarvan, gratis toeganklik te maak vir alle lede van die samelewing. Die deel en gemak van toegang verhoog doeltreffendheid en gehalte van navorsing, maak voorsiening vir ʼn uitbreiding van innovasie en laat samewerking toeneem. My siening is egter dat dit met die doel om Afrika-universiteite in te sluit as gelyke vennote met gelyke vakkundigheid, vaardighede en vermoëns beoefen moet word. Ons gaan soek te dikwels na die antwoorde by ons Europese en Amerikaanse vennote nog voordat ons binne ons eie grense kyk vir oplossings. Hoewel ek nie sê dat ons nie internasionale ondersteuning nodig het nie, glo ek ons moet daardie ondersteuning soek deur medewerking in vennootskap eerder as deur samewerking.

Goeie voorbeelde van hoe kennis tans meewerkend gedeel word en reeds ʼn positiewe uitwerking het, kan uit die instelling van sentrums van uitnemendheid by die US (en elders by vooraanstaande universiteite in Afrika) verkry word.

Die bekendstelling van die vyf sentrums van uitnemendheid wat deur die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap (AUDA-NEPAD) gevestig is en wat in verskillende interverbonde temas spesialiseer: 1. Klimaatsveerkragtigheid; 2. Landelike Hulpbronne en Voedselstelsels; 3. Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (WTI); 4. Menslike Kapitaal en Instellings; en 5. Voorsieningsketting en Logistiek.

Ander vennote is die Afrika-unie se ontwikkelingsagenskap (AUDA-NEPAD), en Suid-Afrika se Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR). Hoewel dit nuut is, doen die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in WTI reeds opwindende werk met betrekking tot die implementering van werklike wêreldverandering, veral ten opsigte vangesondheidsorg en die huidige COVID-19-pandemie.

Die Afrika Navorsingsuniversiteite Alliansie (ARUA) Sentrums van Uitnemendheid is bedoel om fokuspunte te wees vir die samevoeging van wêreldklasnavorsers van liduniversiteite om samewerkende navorsing te onderneem op gebiede van tematiese prioriteit, terwyl dit aan gegradueerde studente van die streek en elders geleenthede bied om saam met die navorsers te werk. Die sentrum van uitnemendheid is dus ʼn vergaderplek vir goeie en toegewyde navorsers en studente wat baanbrekerswerk wil doen.

Hulle dien as praktiese voorbeelde van die deel van kennis om Afrika op te hef en oplossings vir die uitdagings van Afrika te bied.

Tog, hoewel ons nou begin opgang maak danksy die gejaag om ons regmatige plek in die wêreldwye arenas van denkleierskap en die wetenskap in te neem, moet ons bewus bly van die werklike gewoel wat ons in staat stel om môre te besit (om danksy ons wetenskaplike programme die oplossing vir werkloosheid, armoede, ongelykheid en ongebreidelde korrupsie te vind; en om die groot jeugteenwoordigheid in Afrika van ʼn demografiese las in ʼn menslike hulpbrondividend te omskep).

Volgens navorsing wat deur die Wêreldbank gedoen is, kan ʼn kind wat in ʼn land suid van die Sahara gebore is, in 2020 verwag om slegs 40% van sy/haar toekomstige produktiwiteit te bereik indien hulle volledige onderwys en goeie gesondheid sou geniet. Om te verhoed dat ʼn afhanklikheidsverhouding met buitestaanders ontstaan, sal kapasiteitsbou binne ons plaaslike gemeenskappe mense aanmoedig om self plaaslike kwessies aan te spreek. Kapasiteitsbou bevorder ʼn gevoel van eienaarskap en bemagtiging, sodat gemeenskapsvennote meer beheer oor hulle eie toekomstige ontwikkeling verkry. Dieselfde denke behoort op hoëronderwysinstellings toegepas te word.

Wat is die geleenthede en uitdagings in hierdie verband?

Deur die uitsette van akademiese navorsing te gebruik, kan ons entrepreneurskap, innovasie, die skep van nuwe werksgeleenthede en nuwe produkte en dienste bevorder wat die behoeftes van al Afrika se burgers aanspreek.

Net so moet regerings dinkskrums se aanbevelings ernstig oorweeg. Hulle is soms die tuiste van  sommige van die grootste denkers wat baie tyd aan navorsing bestee het om sommige van die ingewikkeldste  probleme te verstaan en dan voorstelle vir implementering tot voordeel van die samelewing uit te dink.

Aangesien universiteite neutrale instellings is wat oor ʼn geweldige aantal spesialiste – oud en jonk – beskik wat tot die oplossing van ontwikkelingsprobleme in Afrika kan bydra, is universiteite in ʼn unieke posisie, in vergelyking met ander instellings, om die rol van ʼn ontwikkelingsvennoot en probleemoplosser op die vasteland van Afrika te vervul.

Bevindings deur die Verenigde Nasies voorspel dat Afrika teen 2050 die tuiste van ʼn kwart van die wêreld se arbeidsmag sal wees. As ons op kapasiteitsbou fokus, bied tegnologie, innovasie, intra-Afrikahandel, vervaardiging, volhoubaarheid en entrepreneurskap opwindende geleenthede waaruit ons kan munt slaan om ons ekonomieë te laat groei en ʼn blink toekoms vir die vasteland te verseker.

Dus, ten slotte: As universiteite op die vasteland meewerk, deel en strategiese vennootskappe vir menslike ontwikkeling sluit, sal môre die moeite werd wees om voor te woeker.

*Prof Wim de Villiers is die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.