Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel veldvaardighedekursus in hidrogeologie bekend
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 26/07/2022

Die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n Hidrogeologieveldvaardighedekursus ingestel om aan die dringende behoefte aan praktiese vaardighede te voldoen wat benodig word vir die grootskaalse ontwikkeling en bestuur van grondwaterhulpbronne in Suid-Afrika. 

Volgens Dr Reynold Chow, dosent in hidrogeologie in die Departement Aardwetenskappe, is die dringende behoefte aan hidrogeologiese veldvaardighede gedurende 2015-2018 se droogte in die Wes-Kaap uitgelig, asook die nasleep wat veroorsaak is deur die tekort aan kundige bestuurders. 

“Grondwater is 'n krities belangrike alternatiewe waterbron wat die veerkragtigheid van ons watervoorsieningstelsel verhoog, maar dit moet behoorlik bestuur word," verduidelik hy. 

Die eerste groep HonneursBSc-studente wat in geo-omgewingswetenskap spesialiseer, het onlangs 'n twee week lange veldkursus by die US se Mariendahl Proefplaas − aangrensend tot die Elsenburg Proefplaas − bygewoon, waar hulle voordeel getrek het uit die US se reeds bestaande infrastruktuur in die vorm van boorgate en 'n gondwatersuiweringsaanleg. Die departement het ook voorpunttoerusting bekom vir die aanbied van die veldkursus, soos boorgatkameras vir boorgatmonitering, watervlakmeters vir volgehoue meting van grondwatervlakke, en verskeie hidrogeologiese toerusting.

Gedurende die twee weke wat gestrek het van 4 tot 15 Julie 2022, het die studente eerstehandse opleiding in fundamentele hidrogeologiese veldvaardighede soos grondwatereksplorasie  en boorgatplasing, die dokumentering van geologiese kernmonsters, die installering en ontwikkeling van putte, die meet van watervlakke, hidroliese puttoetsing en die karakterisering van die waterdraer bekom.

Volgens Dr Chow, is die veldkursus 'n goeie voorbeeld van hoe samewerking tussen akademia en die industrie, studente met die nuutste vaardighede wat vereis word deur 'n vinnig groeiende industrie, kan toerus. In hierdie verband het Mnr Reuben Lazarus, 'n hidrogeoloog van die plaaslike grondwaterkonsultasiemaatskappy  GEOSS South Africa en US-alumnus, 'n waardevolle bydrae gelewer tot die kursus deur middel van sy toegewyde beplanning, onderrig en mentorskap aan studente. Ander industrievennote is Van Walt, Alveo Water, en Ingerop South Africa

Die eerste kohort studente was baie positief oor hulle eerstehandse opleiding. Een student het opgemerk dat “ek het die eerstehandse ondervinding, die feit dat ek die teorie wat ons in die klas geleer het kon toepas, baie geniet." Die kursus sal voortaan ook beskikbaar wees vir studente van ander fakulteite en universteite, en ook vir professionele persone uit die industrie.  

Die ontwikkeling van die kursus is moontlik gemaak deur ondersteuning van die Universiteit Stellenbosch Strategiese Fonds, die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Departement Aardwetenskappe.

Vir meer inligting, e-pos Dr Reynold Chow by rchow@sun.ac.za

IMG_20220708_131710_971.jpg

BSc Honneurs-studente in geo-omgewingswetenskap het onlangs die eerste veldvaardigheidskursus in geohidrologie voltooi, aangebied deur die US se Departement Aardwetenskappe in samewerking met verskeie industrie-spesialiste. Van links na regs is Brynn Hunink (demi) en studente Kereemang Gaoaaga, Kira Cobbold, Yamkela Mapetshana, Zara Samsodien, Ezelna Germeshuisen, Ongeziwe Gege, en Jandré de Beer van die grondwaterkonsultasiemaatskappy GEOSS. Foto: Reynold Chow