Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US volgens ranglys beste in Landbou en Bosbou, Teologie in SA; onder top 100 wêreldwyd
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Naude van der Merwe)
Gepubliseer: 11/04/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy reputasie as een van Afrika se voorste universiteite gestand gedoen met die onlangse vrystelling van die 2022 Quacquarelli Symonds- (QS) Wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied. 

Volgens 'n verklaring bepaal die QS-wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied “die rangorde van die wêreld se topuniversiteite in 51 individuele vakgebiede". 

Die Universiteit het in die breë vakgebied-kategorie sedert verlede jaar van 269ste tot 265ste plek in Lewenswetenskappe en Geneeskunde in die wêreld gestyg. In meer spesifieke kategorieë is die US bo-aan die lys vir Suid-Afrikaanse universiteite in Landbou en Bosbou (76ste plek in die wêreld), asook in Teologie, Godgeleerdheid en Godsdienstige Studies (onder die top-100 wêreldwyd). 

Die US is ook steeds onder die top-350 in die wêreld in Lettere en Geesteswetenskappe, top-400 in Sosiale Wetenskappe en Bestuur, en onder die top-500 in die breë vakgebied-kategorie Natuurwetenskappe. 

“Die Universiteit Stellenbosch se volgehoue goeie vertoning op verskeie internasionale ranglyste getuig van die instelling se visie om 'Afrika se voorste navorsingintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder'," sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake. “Dit is ook 'n bewys van die Universiteit Stellenbosch se vermoë om uitstekende toppresteerders as studente te lok om vir hul loopbane voor te berei." 

Die Universiteit Stellenbosch se navorsingsakademici van wêreldgehalte blink ook steeds uit. 'n Rekordgetal nuwe A-gegradeerde navorsers​ van die US verskyn ook in die graderingstatistiek van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) wat onlangs vrygestel is. Navorsers met A-graderings word onomwonde deur hul eweknieë as voorstaande internasionale kundiges op hul onderskeie gebiede erken vir die hoë gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette. Die US het tans 477 NNS-gegradeerde navorsers waarvan 16 A-graderings is. 

Hoewel die Universiteit Stellenbosch nie aktief aan die QS-ranglys deelneem nie, verskaf die vakgebied-ranglyste 'n oorsig van die posisionering in elk van die vakgebiede. Die QS gebruik vyf aanwysers vir hul ranglys, naamlik: 

  • akademiese reputasie op grond van persepsies;
  • werknemer-reputasie;
  • navorsingsitasies per artikel;
  • H-indeks; en 
  • die bygevoegde Internasionale Navorsingsnetwerk. 

Aangesien navorsingskulture en publikasiekoerse aansienlik oor akademiese vakgebiede heen verskil, gebruik die QS-wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied verskillende gewigte van bogenoemde aanwysers in elke vak. 

Vir meer inligting oor die onlangse ranglys, klik hier.