Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch se kohort van navorsers met A-gradering groei
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking; Research Development / Navorsingsontwikkeling
Gepubliseer: 31/03/2022

Die Nasionale Navorsingstigting (NNS) is tans besig om die uitslae van die laaste rondte NNS-graderings bekend te maak. Hoewel nog nie al die uitslae al vrygestel is nie, wil die Universiteit Stellenbosch (US) so lank erkenning gee aan die feit dat die US met 'n rekordgetal navorsers met 'n nuwe A-gradering kan spog.

Die volgende navorsers het 'n A-gradering ontvang: Proff Sandy Liebenberg (Departement Publiekreg en bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte); Andre Weideman (Afdeling Toegepaste Wiskunde; Departement Wiskundige Wetenskappe); Johan Cilliers (Departement Praktiese Teologie en Missiologie); Len Barbour (Departement Chemie en Polimeerwetenskap); Willem Visser (Afdeling Rekenaarwetenskap; Departement Wiskundige Wetenskappe), Robin Warren (Molekulêre Biologie en Mensgenetika) en Mark Cotton (Departement Pediatrie en Kindergesondheid). Liebenberg, Weideman, Warren en Cilliers het hul eerste A-gradering ontvang, Visser en Cotton hul tweede, en Barbour sy vierde.

Navorsers met A-graderings word onomwonde deur hul eweknieë as voorstaande internasionale kundiges op hul onderskeie gebiede erken vir die hoë gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette.

Die NNS se graderingstelsel is 'n standaarstellingstelsel waardeur individue wat die hoogste standaarde in navorsing stel, asook diegene wat baie potensiaal as navorsers toon, deur 'n uitgebreide netwerk Suid-Afrikaanse en internasionale eweknie-beoordelaars geïdentifiseer word. Graderings is gegrond op die gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette (oor 'n tydperk van agt jaar).

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie aan die US, het in reaksie gesê die NNS-graderingsproses is steeds 'n belangrike aanwyser van die internasionale erkenning wat US-navorsers geniet. “Met nog wat gaan kom, getuig ons groeiende poel A-gegradeerde navorsers van die reusebydrae wat ons navorsers tot die US se visie lewer om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. Ons salueer en vier hulle!"

Die Universiteit het tans 477 NNS-gegradeerde navorsers waarvan 16 A-graderings is.

  • Klik hier vir 'n volledige lys van die US se navorsers met NNS-graderings.