Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Planne om terug te keer kampus toe
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 06/10/2021

Beste kollegas en studente

Ek bied graag terugvoer oor die besluite wat op Maandag 4 Oktober 2021 by die mees onlangse vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) geneem is, waar ons ook die pas verkose Studenteraadsvoorsitter, me Viwe Kobokana, vir die eerste keer verwelkom het.

Ons belangrikste besluite sluit in dat die Universiteit Stellenbosch (US) van plan is om volgende jaar na kontakonderrig en -leer terug te keer, mits COVID-19 dit toelaat, en dat personeellede se terugkeer kampus toe ingefaseer word. Dit sal op so ʼn manier gedoen word dat risiko’s steeds bestuur word en dat regulasies en gesondheidsprotokolle steeds gevolg word.

Lees gerus verder vir nóg inligting oor hierdie en ander kwessies.

Stand van die pandemie

In haar gebruiklike inligtingsessie vir die IKBV het prof Juliet Pulliam van SACEMA (die Suid-Afrikaanse Sentrum van Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Ontleding) gewaarsku dat hoewel die derde vlaag amptelik verby is, ’n hernude styging in infeksies steeds moontlik is.

Daarom was een van haar kernboodskappe dat “die US moet voortgaan om die inenting van studente en personeellede te fasiliteer, en gedrag aan te moedig wat oordrag verminder, soos om maskers te dra, ’n afstand te handhaaf, hande te was, en te self-isoleer as jy siek is”.

Inentings

Volgens ’n verslag deur die US se Senior Direkteur van die Kampusgesondheidsdiens, dr Pierre Viviers, is daar goeie benutting van dienste by die US se inentingsentrum op die Lentelus-sportterrein in Hammanshandweg, Stellenbosch. Bykans 5 000 personeellede, studente en lede van die publiek is by dié fasiliteit ingeënt sedert dit op 10 Augustus 2021 geopen het.

Altesaam 637 personeellede en 2 219 studente op ons Tygerbergkampus is reeds ingeënt – baie van hulle as deel van die Sisonke-program vir gesondheidsorgwerkers vroeër vanjaar. Ons het hierdie presiese syfers tot ons beskikking omdat personeel en studente op die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se aanlyn portaal moes registreer. Hierdie getalle sluit diegene uit wat ingeënt is deur die gesondheidsfasiliteite waar hulle werk.

Dr Viviers se aanbieding het ook ’n besonder insiggewende skyfie ingesluit wat die getal COVID-gevalle onder studente op die Stellenbosch- en Tygerbergkampus vergelyk (sien hieronder). Dit toon duidelik watter voordelige invloed ’n hoë inentingskoers op ’n bepaalde gemeenskap het.

Op ons Tygerbergkampus is 71% van voorgraadse studente tot dusver ingeënt, en studenteleiers mik na 100%. Diegene op ons Stellenboschkampus hoef nie op die US se aanlyn portaal te geregistreer het nie omdat hulle nie deel uitgemaak het van die Sisonke-program nie. En hoewel ons Lentelus-fasiliteit akkurate data byhou, is ’n betreklik klein persentasie van ons Stellenbosse personeellede en studente daar bedien. Selfs al het baie lede van ons kampusgemeenskap op Stellenbosch ook van ander inentingsfasiliteite gebruik gemaak, het die inentingsyfer hier waarskynlik nog nie Tygerberg se vlak bereik nie.

Dít is waarom die grafiek vir Tygerberg afgeplat is, terwyl die grafiek vir Stellenbosch skerp stygings in die getal COVID-gevalle toon, het dr Viviers verduidelik.

Ek moedig almal dus weer aan om hulle teen COVID-19 te laat inent. Entstowwe is veilig, red lewens, en is heel duidelik doeltreffend. Om die entstof te ontvang is die verantwoordelike ding om te doen. Klik hier vir die US se inentingsverklaring.

Inentingsbeleid/-reël

Die IKBV het kennis geneem van die US Raad se magtiging verlede week aan die bestuur om dringend te werk aan ’n beleid/reël oor COVID-19-inenting vir studente en personeellede met die oog op die akademiese jaar 2022, met behoorlike inagneming van oorlegpleging en risikobestuur.

In dié verband het die IKBV terugvoer ontvang dat die risikobeoordeling wat ingevolge ’n direktief van Junie vereis word, byna klaar is, waarna ’n beleid/reël opgestel en vir goedkeuring voorgelê sal word. Die Raad het verlede week besluit dat sy Uitvoerende Komitee die saak so gou moontlik sal oorweeg.

Assesserings

Daar bly net meer as vier weke se klasse oor vir die jaar. Die IKBV het besluit dat assesserings vir die res van 2021 in kontakvorm onder toesig sal plaasvind, soos vroeër vanjaar. ’n Paar uitsonderings sal egter geld, want in sommige programme sal hierdie assesseringsmetode nie prakties wees nie, terwyl ander programme reeds reëlings vir aanlyn assesserings getref en gekommunikeer het. Fakulteite en die Registrateurskantoor sal die nodige besonderhede aan personeellede en studente bekend maak.

Gradeplegtighede

Die IKBV het bevestig dat die gradeplegtighede van 13 tot 16 Desember in hibridiese vorm sal voortgaan, soos wat aan die einde van Augustus aangekondig is. Voorgraadse kwalifikasies asook honneurs- en magistergrade sal weer aanlyn toegeken word, met klein fisiese plegtighede vir die verlening van doktors- en eregrade, sowel as die Kanseliersmedalje en -toekennings.

Die IKBV het kennis geneem van die vordering soos weerspieël in die feit dat Suid-Afrika verlede week van aangepaste risikovlak 2 tot vlak 1 afgeskuif het, maar hoewel die grootte van toelaatbare byeenkomste verhoog is, is dit nie genoeg om volskaalse fisiese gradeplegtighede toe te laat nie.

Die IKBV het egter kennis geneem van die studentegemeenskap se voorstelle dat meer persoonlike en feestelike elemente by die plegtighede ingesluit moet word, en ons sal ons bes doen om daaraan gehoor te gee.

Onderrig- en leermetode in 2022

Die US is van plan om volgende jaar na kontakonderrig en -leer terug te keer, in pas met ons status as ’n toonaangewende residensiële universiteit.

Die akademiese jaar sal op 14 Februarie 2022 begin, wat later is as gewoonlik omdat matriekuitslae op die vroegste eers teen 21 Januarie verwag word. Klik hier vir volgende jaar se kwartaal- en eksamendatums by die US. 

Noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) het ons verlede jaar deur die strengste COVID-inperkingsvlakke gekry, en toe die inperking vanjaar ver genoeg verslap is, kon ons aanlyn klasse met kontaksessies aanvul (ARTLA). Nou wil ons graag nog verder gaan, hoewel dít natuurlik van die status van die pandemie en COVID-19-regulasies sal afhang.

Hoe meer mense op ons kampusse ten volle ingeënt is, hoe groter die moontlikheid dat ons na die volle kampuservaring kan terugkeer. Dít is waarom dit vir die Universiteit ’n institusionele prioriteit is dat al sy personeellede en studente ten volle teen COVID-19 ingeënt word. Klik hier vir verdere inligting oor ons inentingsveldtog.

Planne vir personeel se terugkeer kampus toe

Die IKBV het ook ’n belangrike besluit geneem oor personeellede se terugkeer na hulle kampuswerkplekke.

Dié besluit berus daarop dat die US ’n residensiële universiteit is. Studente en personeellede se deelname aan aktiwiteite op ons kampusse is ’n kerndeel van die wese van ons instelling. Die COVID-pandemie het ons ’n gevoelige knou toegedien en die lewendige en diverse aard van ons instelling ontwrig. Nou is dit tyd dat ons die stukke optel en die tapisserie weer aanmekaar begin werk.

Verskeie maatreëls is in Maart 2020 getref om die pandemie te hanteer. Een van die ingrypendste maatreëls vir personeel was dat werknemers wat kon, van die huis af begin werk het as ’n noodsaaklike stap – soos voorgeskryf in nasionale COVID-regulasies – om die gesondheidskrisis die hoof te bied.

Die land het met ingang van 1 Oktober 2021 na inperkingsvlak 1 afgeskuif danksy laer COVID-19-infeksiesyfers wat landwyd aangemeld word. Na aanleiding van kommentaar van ons Mediese Advieskomitee en die werkstroom vir personeel het die IKBV besluit dat omgewings die proses moet begin om hul personeel na hul kampuswerkplekke te laat terugkeer. Die doel is om alle personeel volgende jaar terug op kampus te hê.

Die ICBC erken dat verskeie faktore ʼn volledige terugkeer van alle personeel op die oomblik verhoed. Dit sluit in die feit dat die jaar amper verby is, dat personeel dalk persoonlike reëlings moet tref en dat die moontlikheid van ʼn vierde golf COVID-19-infeksies bestaan. Die belangrikste faktor is dat nie alle personeel al in hierdie stadium ingeënt is nie. Soos julle weet, word ʼn risikobeoordeling tans voltooi, wat die Universiteit se inentingsbeleid/-reël sal rig.

Hierdie sake moet aandag geniet in die oorblywende twee maande vanjaar, sodat die volle herintegrasie van personeel volgende jaar in plek is.

Intussen bevestig ons dat die huidige werkreëling voortduur. Dit behels dat personeel hetsy aanlyn van die huis af óf in hibridiese vorm (d.w.s. ’n kombinasie van aanlyn tuis en fisies op kantoor) werk, soos goedgekeur deur ʼn dekaan van ’n fakulteit of die hoof van ’n PASD-afdeling (professionele en administratiewe steundienste).

In ons vorige IKBV-kommunikasie het ons ʼn aantal redes vir ʼn terugkeer kampus toe verskaf, en dit geld steeds:

  1. Take wat ʼn fisieke teenwoordigheid vereis
  2. Take wat verrig moet word om hoër vlakke van skakeling met kollegas en metprioriteite bevorder
  3. Fisieke teenwoordigheid op kampusse wat benodig word om spontane interaksie en uitruiling van innoverende idees te bewerkstellig en wat nie gedoen kan word indien die personeellid uitsluitlik van die huis af werk nie
  4. Om vervreemding van die kampus as die primêre werkplek in die konteks van residensiële universiteite te voorkom
  5. Om kohesie en samewerking onder personeel te versterk, veral ten opsigte van die induksie van nuwe personeel en studente

Die nodige gesondheid- en veiligheidsprotokolle sal streng toegepas word. Dít sluit daaglikse gesondheidskontroles, die dra van maskers, ontsmetting en fisiese distansiëring in. Om aan die vereistes van distansiëring te voldoen, kan omgewings roosters opstel om personeel op verskillende dae of verskillende tye kantoor toe te laat kom. Bykomende maatreëls sal op werknemers bo 60-jarige ouderdom en/of diegene met onderliggende toestande van toepassing wees.

Hierdie maatreëls sal hersien word indien die omstandighede op ons kampusse verander of die land weer na ’n ander risikovlak verskuif word.

Om ingeënt te word is die beste manier om COVID-19 te bestry en ’n veilige omgewing vir personeellede en studente op ons kampusse te skep. Klik hier vir verdere inligting oor inenting by die Universiteit se eie sentrum op Stellenbosch, en hier vir inligting oor inentingsterreine wat dalk nader aan jou huis is.

Saam vorentoe

Die koronaviruspandemie gaan voort om ons lewens te ontwrig, maar ons stry daarteen – as individue én as ’n instelling. Dít maak my trots en gee my hoop.

Elke keer as ons COVID-19-protokolle gehoorsaam, bekamp ons die siekte – en selfs méér wanneer ons die entstof ontvang. Elke keer as ons met ons werkspligte of ons studie voortgaan ondanks die uitdagings wat COVID-19 skep, help ons mekaar stellig die grootste toets van ons tyd oorkom.

So, ’n groot dankie aan elke lid van die Universiteitsgemeenskap vir jul bydraes. Stap vir stap herrys ons en bou ons ’n selfs sterker Universiteit.

Kom ons bly veilig en sien na mekaar om.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier,
en waarnemende voorsitter: IKBV