Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Raad magtig dringende ontwikkeling van inentingsreël
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 28/09/2021

​Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Maandag 27 September 2021 sy derde vergadering vir die jaar gehou. Die Raad het kennis geneem van die voortslepende koronaviruspandemie en die negatiewe uitwerking wat dit op die samelewing het.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het dit aan die Raad gestel dat dit vir die Universiteit ’n institusionele prioriteit is dat ál sy personeellede en studente teen COVID-19 ingeënt word.

“Entstowwe is veilig en red lewens. Ons boodskap is dat inenting die verantwoordelike ding is om te doen. Daarom moedig ons almal aan om die entstof te ontvang,” het hy gesê.

Die Universiteit voer sedert die aanvang van die landwye inentingsprogram in Februarie vanjaar ’n bewusmakingsveldtog, en het ook sy eie inentingsterrein op die Lentelussportterrein in Hammanshandweg op Stellenbosch tot stand gebring wat US-personeellede en -studente sowel as die algemene publiek bedien. Die US se Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, het aan die Raad verslag gedoen dat 518 personeellede, 2 236 studente en 1 472 lede van die gemeenskap sedert 10 Augustus hul inentings daar ontvang het, en dat vele ander ook steeds van inentingsfasiliteite elders gebruik maak.

Prof De Villiers het bevestig dat die US die moontlikheid van verpligte inenting ondersoek, en in dié verband uit die ervaring van ander instellings en organisasies in Suid-Afrika en wêreldwyd leer. Die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) het op 27 Augustus ’n taakgroep aangestel om die risikobeoordeling te onderneem wat ingevolge ’n gesondheid-en-veiligheidsdirektief wat in Junie gepromulgeer is, vereis word.

Die Raad het die aangeleentheid bespreek en daarna die volgende mosie aanvaar: “Die US Raad magtig die bestuur om aan die dringende ontwikkeling van ’n reël oor verpligte inenting vir studente en personeellede vir die akademiese jaar 2022 te werk. Personeellede en studente kan gerus wees dat behoorlike prosesse ten opsigte van oorlegpleging en risikobestuur gevolg sal word.”

Prof Du Plessis het gesê ’n “inentingsreël sal bepaal in watter mate personeellede en studente by die Universiteit kan werk en studeer na gelang van hul inentingstatus; dit sal die verwagting sowel as die kriteria vir uitsonderings uiteensit.”

Die aanname voor Maandag se vergadering was dat die Raad by sy laaste vergadering van die jaar, op 2 Desember, ’n besluit oor die Universiteit se inentingsreël sou neem. Maar mnr George Steyn, Voorsitter van die US Raad, het verduidelik dat “aangesien dit ’n saak van lewe of dood is, het die Raad ingestem dat sy Uitvoerende Komitee (UK(R)) so gou moontlik ’n besluit mag neem om enige vertragings te verhoed”.

* Die res van Kommunikasie uit die Raad volg so spoedig moontlik.​