Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties skud hul vere reg vir Skenkingsdag 2021
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 04/10/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) maak gereed vir sy jaarlikse Skenkingsdag wat vanaf Donderdag 7 Oktober tot Saterdag 9 Oktober 2021 op die Stellenboschkampus sal plaasvind – en ons benodig jou ondersteuning!

Skenkingsdag maak deel uit van die Jaarfonds, Bridge the Gap, wat onlangs geloods is en daarop gemik is om die struikelblokke wat Maties kortwiek uit die weg te ruim sodat hulle 'n ware studente-ervaring kan geniet en daai gesogte graad kan behaal. Die Universiteit samel fondse in vir verskeie inisiatiewe onder die vaandel van Bridge the Gap. Dit sluit in #Move4Food, die Tygerberg Pantry-projek, #Action4Inclusion, #GradMe, #Zim4Zim, End Period Poverty, #MatiesHaveDrive en Caught in the Middle.

Skenkingsdag 2021, met COVID-19-beperkings in gedagte, is propvol aktiwiteite soos sokker en tennis, en 'n filmmarathon. Koshuise en Private Studente-organisasies (PSO) is ook gevra om die bome in Victoriastraat tussen Dagbreek en Irene te versier. Elke koshuis of PSO kry 'n boom waarin 'n skenkingskissie sal wees om nie-bederfbare voedsel en toiletware (insluitende sanitêre doekies) te skenk. En natuurlik is daar wonderlike pryse op die spel.

Die Skenkingsdag-aktiwiteite duur gewoonlik 24 uur – maar vanjaar word dit verleng om sosiale afstand, aandklokreëls en inenting in ag te neem.

“In slegs ʼn paar uur kan die Universiteit Stellenbosch die wêreld van sommige van ons mede-Maties verander. Jou skenking kan die lewe van studente verbeter, 'n verskil maak en 'n saak bevorder waaroor jy passievol is," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die US.

“Ons is bewus dat jy waarskynlik moeg is om dit te hoor – maar COVID-19 het die situasie van ons studente soveel vererger – afgedankte ouers, minder deeltydse studente-werksgeleenthede, aanpassing en afbetaling van NSFAS, verminderde befondsing vanaf Korporatiewe Maatskaplike Beleggingsafdelings, groter voedselonsekerheid op nasionale vlak, en druk. Hierdie druk beteken dat ons studente se geestesgesondheid, welstand en vertroue in die toekoms, duister is. Jou vrygewigheid, in elke opset, word waardeer en maak werklik 'n verskil," voeg Bruns by.

Jy kan registreer of vir die aktiwiteite aanmeld deur 'n blitsvinnige registrasievorm te voltooi. As fisieke aktiwiteit nie jou gunsteling tydverdryf is nie, oorweeg dit om 'n skenking deur GivenGain, Snapscan of 'n EFO te maak. Jy kan aan enige van die Bridge the Gap-veldtog se inisiatiewe skenk wat by jou aanklank vind, of aan die oorkoepelende Jaarfonds. Besoek https://www.matiesalumni.com/bridge-the-gap-annual-fund/ vir meer inligting.

Skenkingsdag se aktiwiteite   

5-'n-kant Sokker

Die 5-'n-kant sokkerwedstryd vind op die Goldfields Lentelus-sportterrein plaas. Koshuise, PSOs, afdelings, fakulteite of departemente sal op Donderdag 7 Oktober tot Vrydag 8 Oktober 2021 sake op die Astro-veld uitspook. Die sokkerwedstryde sal elkers deur die loop van die dag vanaf 09:00 tot 18:00 plaasvind.

Die wenners van die uitklopwedstryde speel die volgende dag op Vrydag 8 Oktober teen mekaar. Dit beloof groot opwinding, volop mededinging en ondersteuning soos min!  Elke koshuis of PSO moet 5 spelers vir 'n span registreer. 'n Wedstryd sal 20 minute duur met 10-minuut tussenposes.

 

Blitstennis

Ons blitstennistoernooi bestaan uit verskeie wedstryde van 20 minute met 10-minuut tussenposes. Koshuise en PSOs sal vanaf die oggend van Skenkingsdag, 7 Oktober, by die Dagbreekbane die bal oor die net moker. Die wenners van die wedstryde speel die volgende dag, Vrydag 8 Oktober, teen mekaar. Die wedstryde is dubbelspelwedstryde en enkelwedstryde waarin koshuise, PSOs, afdelings of fakulteite kragte teen mekaar meet. Jy moet 3 spelers vir jou span registreer – 'n dubbelspelpaar en 'n enkelspeler.

 

Pulp-teater – Filmmarathon

Pulp bied op Saterdag 9 Oktober, 'n filmmarathon aan vanaf 08:00 (begin) tot 22:00 (einde) met 'n rits uitgesoekte mega-films en kultusprogramme. Fliekgangers kan hul kaartjies op Quicket koop. Hierdie program word op Dinsdag 5 Oktober, vrygestel. Kostuums is opsioneel, maar sal beslis die oog vang. Versnaperinge en drankies sal deurgaans te koop aangebied word, en die opbrengs aan Bridge the Gap geskenk word.

Let asseblief daarop dat, ingevolge die COVID-19-regulasies, slegs 25 kaartjies per bioskoop en per vertoning, beskikbaar is. Dis so te sê jou eie privaat vertoning! En daar's spotpryse vir die bes-gekledes!

Kort jy meer inligting? Kontak vir Viwe Benxa by bridgethegap@sun.ac.za.