Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldhartdag 2021: Gebruik jou hart om betrokke te raak!
Outeur: Dr. Jo-Anne Kirby
Gepubliseer: 22/09/2021

Wêreldhartdag is elke jaar op 29 September. Vanjaar gaan Wêreldhartdag daaroor om by ons eie harte betrokke te raak en die mag van die digitale te gebruik om alle harte, oral, met mekaar te verbind. Die Wêreldhartfederasie vra die wêreld om Heart.png TE GEBRUIK OM MET MEKAAR TE VERBIND! Die doel is om hierdie Wêreldhartdag, en elke dag, miljoene mense regoor die wêreld van hartgesondheid bewus te maak.

Hart- en bloedvatsiektes is die wêreld se voorste oorsaak van sterftes, maar die risikofaktore kom selfs meer algemeen voor en talle daarvan word met leefstylkeuses verbind. Verkeerde eetgewoontes en ʼn gebrek aan oefening dra alles by tot die ontwikkeling van insulienweerstandigheid, diabetes, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, oorgewig en jig. Bykomend tot die las van hierdie siektes, is daar die hoë risiko van die ontwikkeling van erge Covid, as jy hierdie onderliggende toestande het.

Wat gaan jy dus gedurende hierdie Hartbewustheidsmaand daaraan doen? Hier is enkele idees om jou te help om beter na jou hart om te sien:

  • Word teen Covid-19 ingeënt. Alle volwassenes in Suid-Afrika kan nou die entstof ontvang. Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn inentingsperseel opgerig om die Covid-19-entstof toe te dien. Dit is in die Lentelus-klubhuis by die US se sokkerkompleks in Hammanshandweg, Stellenbosch, geleë. Alle permanente en niepermanente personeellede bo die ouderdom van 18 op enige van die Universiteit se vyf kampusse, sal voorrang by die US-inentingsperseel geniet. Nog ʼn voordeel is dat hulle ook hulle gesinslede daar kan laat inent. Studente bo 18 kan ook van die inentingsdiens op die perseel gebruik maak. Studente moet op die nasionale elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS) registreer. Vir meer inligting oor die inentingsperseel, klik asseblief hier.

 

  • Help ander om ingeënt te word. As jy ingeënt is, maar jou medemens het nie ʼn selfoon nie, help hulle om te registreer. Bied aan om iemand se kinders op te pas sodat hulle die inenting kan gaan kry! Bied vervoer aan – onthou om jou masker te dra en die motorvensters oop te hou.

 

  • Moedig jou familie en vriende aan om gereeld vir ondersoeke vir hulle chroniese toestande te gaan. Gesondheidsgeriewe is veilig; moenie dat vrees jou by die huis hou nie. Onthou – #masker, #ontsmet en #handhaafsosialeafstand wanneer jy van die huis af weg is.

 

  • Oefen! Begin deur 10 minute lank te stap en vermeerder dit geleidelik totdat jy vyf keer per week vir 30 minute lank kan stap. Hou jou masker aan en handhaaf fisiese afstand, selfs as jy buite is!

 

  • Maak gesonder voedselkeuses. Probeer minder wegneemetes koop, verminder die hoeveelheid sout wat jy by jou kos voeg, eet minder rooivleis en meer vrugte en groente.

 

Terwyl die wêreld in ʼn stryd met Covid-19 gewikkel is, is ons meer as ooit bewus van hoe belangrik ons en ons geliefdes se gesondheid is. Pas jou en jou gesin se harte gedurende hierdie Hartbewustheidsmaand op!

Vir meer inligting oor hoe jy jou hart kan oppas en jou gesondheid kan verbeter, maak ʼn afspraak met jou gereelde huisdokter of besoek een van die dokters of kliniese verpleegkundiges by Kampus Gesondheidsdiens (KGD). Vir ʼn afspraak by KGD, skakel 021 808 3494 (Stellenbosch-kampus) of 021 938 9590 (Tygerberg-kampus).