Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Insette op tweede konsep-weergawe van nuwe Taalbeleid in tweede reaksieverslag saamgevat
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 15/09/2021

​Die tweede reaksieverslag, saamgestel uit al die insette op die tweede konsep-weergawe van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene Taalbeleid (2016), is beskikbaar op die webblad vir die hersiening van die Taalbeleid. Die Universiteitsraad sal hierdie reaksieverslag en die tweede konsep-weergawe van die hersiene Taalbeleid (2016) by sy vergadering op 27 September 2021 oorweeg om terugvoer te kan gee aan die Taakspan vir die Hersiening van die Taalbeleid. Albei dokumente het ook op 10 September by die Senaat gedien.

In die tweede konsultasierondte is 297 reaksies ontvang – 126 via www.sun.ac.za/taal en 171 via www.sun.ac.za/language. 'n Aansienlike aantal reaksies – altesaam 119 – was duplikaatvoorleggings, en agt reaksies was leeg, sonder enige algemene óf spesifieke terugvoer.

In Julie/Augustus 2021 is interne en eksterne belangstellendes genooi om aan die tweede fase vir openbare oorlegpleging van die beleidshersiening deel te neem. Dit het gevolg nadat die taakspan vroeër vanjaar die eerste konsep-weergawe van 'n hersiene beleid opgestel het en die dokument in Maart/April 2021 vir openbare insette beskikbaar gestel is. Alle insette wat gedurende die eerste oorlegpleging ontvang is, is in die eerste reaksieverslag ingesluit, en vir moontlike insluiting in die tweede konsepweergawe van die hersiene beleid oorweeg. Die tweede reaksieverslag bevat ook al die terugvoer wat ontvang is, maar net soos in die eerste openbare oorlegpleging, sal dit nie moontlik wees om alle insette in die volgende konsep-weergawe in te sluit nie.

Die hersiening van die Taalbeleid (2016) is in Oktober 2020 geïnisieer deur 'n taakspan saam te roep en deur 'n tydsraamwerk gegrond op die Universiteitsalmanak vir 2021 op te stel. Die 2021-hersiening maak deel uit van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Paragraaf 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" en dit moet “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien word". Die huidige beleid het aan die begin van 2017 in werking getree. 

Volgens die US se Statuut (2019) bepaal die Raad die instelling se Taalbeleid met die instemming van die Senaat kragtens die Wet op Hoër Onderwys (Wet 101 van 1997, soos gewysig).

Die taakspan sal in Oktober/vroeg November die finale konsep-weergawe saamstel met inagneming van die insette wat gedurende die tweede openbare oorlegpleging ontvang is, asook die terugvoer van fakulteitsrade, die Institusionele Forum, die Senaat en die Raad. 

Die finale konsep-weergawe van die hersiene Taalbeleid sal vir goedkeuring by die Senaatsverga-dering van 26 November 2021 dien, en op 2 Desember by die Raad.

Lees meer oor die 2021-hersiening van die Taalbeleid (2016):

Tydlyn en mylpale van hersiening

Tweede openbare oorlegplegting (Julie/Augustus 2021)

Kontekstuele dokumente

Eerste openbare oorlegpleging (Maart/April 2021)

Afrikaans as inheemse taal

 

Lees meer oor taal by die Universiteit Stellenbosch:

Artikels oor taal, mediaverklarings and media-antwoorde, asook gereelde vrae en antwoorde