Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US kry eie COVID-19-inentingsterrein
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/08/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal op Dinsdag 10 Augustus ’n inentingsterrein open vir sy personeellede en lede van die publiek wat op die amptelike Suid-Afrikaanse COVID-19-inentingsportaal geregistreer is.

Deur toegang tot inentings vir Universiteitspersoneel en die groter Stellenbosse gemeenskap uit te brei, sal die US-terrein na verwagting die druk op hospitale en klinieke in die omgewing verlig.

“Entstowwe is veilig en red lewens. Ek moedig almal aan wat vir die inenting in aanmerking kom, om dit te kry – ek het myne ontvang,” sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US.

Die inentingsterrein, wat in die maklik toeganklike Lentelusklubhuis by die Universiteit se sokkerkompleks in Hammanshandweg, Stellenbosch, geleë sal wees, sal ooreenkomstig die riglyne van die nasionale inentingsprogram en in samewerking met Stellenbosch-hospitaal, ’n amptelike inentingsentrum, bedryf word.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, sê die inentingsterrein is die gevolg van volgehoue pogings deur die US se Kampusgesondheidsdiens en ander rolspelers by die Universiteit om toegang tot inentings te bevorder.

“Ons personeel en studente se gesondheid en welstand is ’n topprioriteit vir die Universiteit – des te meer gedurende COVID-19. Die opening van ’n inentingsterrein getuig van daardie verbintenis,” sê hy.

Die Universiteit het 4 855 werknemers, waaronder 1 353 by Tygerberg, waar om en by 80% van personeel vroeër vanjaar reeds deur die Sisonke-inentingsprogram bygestaan is. Dit is waar die Rektor sy inenting gekry het, toegedien deur Jess Davies, ʼn mediese student in haar vierde jaar.

“Hoewel ons eksterne opsies verwelkom, is ons bly dat ons nou ook hierdie interne terrein vir ons personeellede en hulle familielede sal hê. Dit sal boonop ander opvoedkundige instellings en die plaaslike gemeenskap baat, sowel as ons jonger personeellede en studente sodra hulle vir inenting kan registreer.”

Die US-inentingsterrein sal sy program met die Pfizer-entstof afskop en geskikte individue – tans diegene bo 35-jarige ouderdom – sal sowel hulle eerste as tweede dosisse by die terrein kan ontvang.

Entstowwe sal via die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid toegeken word na gelang van beskikbaarheid, en diegene wat die entstowwe sal toedien, sal as deel van die nasionale program vir dié doel opleiding ontvang.

Dr Pierre Viviers, Senior Direkteur van die US se Kampusgesondheidsdiens, sê “Ons doel is om met ten minste 50 inentings per dag te begin. As ons 400 per dag kan haal, sal dit fantasties wees.”

Viviers voeg by dat die Universiteit van plan is om die terrein oop te hou met die oog op moontlike versterkingsinspuitings en ander inentings in die toekoms.

“Dít is ’n langertermynprogram om deurlopende inenting moontlik te maak. Ons sal dan reeds oor die infrastruktuur beskik sodat ons terrein kan deel uitmaak van verdere inentingsprogramme,” sê hy.

Viviers moedig almal aan wat die inenting kan kry, om van die terrein gebruik te maak: “Ons weet entstowwe werk om die koronavirussiekte en die komplikasies daarvan, veral sterfte, teen te werk. Dit is die vinnigste manier om gemeenskapsimmuniteit te bereik sodat ons die verspreiding van die virus kan stuit en die ramp wat dit veroorsaak het, kan begin omkeer.”

Sodra personeellede op die nasionale Elektroniese Inentingsdatastelsel (EVDS) geregistreer is, kan hulle op die US se inentingsportaal registreer om 'n inentingsafspraak te maak. 

Klik hier om meer oor die inentingsterrein te lees.