Dr Lungiswa Nkonki, 'n dosent in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid, is deel van 'n uitgesoekte groep personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat deelneem aan die program vir toekomstige professore (FPP), 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die FPP beoog om 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore oor alle vakrigtings heen te ontwikkel. Ons vertel jou meer oor haar loopbaan.
“Mense hou nie juis daarvan om aan gesondheid en geld tegelyk te dink nie. Maar hoewel gesondheid 'n mensereg is, is dit steeds een waarvoor iemand moet betaal. En dít lei tot moeilike kompromieë," sê die gesondheidsekonoom dr Lungiswa Nkonki. Dié senior dosent in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Universiteit Stellenbosch se Departement Globale Gesondheid het oor die jare al ekonomiese evaluerings van 'n aantal openbare gesondheidsintervensies onderneem. Dít sluit in projekte vir die bestryding van MIV-oordrag van moeder tot kind, die gebruik van gemeenskapswerkers om voorgeboortesorg te versterk, MIV-toetsing in landelike omgewings, en sifting vir servikale kanker.
Sy het meer onlangs die onvoorsiene gesondheidsgevolge van COVID-19 help evalueer, sowel as die intervensies van die provinsiale regering in Gauteng in die verskillende risikofases van die pandemie. Sy is ook 'n projeklid van “If I were Thabo", 'n gender-transformerende intervensieprogram oor seksuele en voortplantingsgesondheid vir jong adolessente. Die Universiteit Stellenbosch en Queen's University Belfast bied die program in Khayelitsha en Maseru (Lesotho) aan.
Syferkop
Dr Nkonki se syferwerk geskied gewoonlik as deel van 'n span, hetsy saam met ander ekonome of ter ondersteuning van die werk van epidemioloë en ander gesondheidswerkers – alles op die gebied van openbare gesondheid. “Ekonomiese evaluering gaan oor hoeveel 'n intervensie kos, en of wat ons daaruit kry die geld werd is," verduidelik sy. “Die moontlikheid bestaan altyd dat ons 'n klomp geld bestee aan dinge wat nie die gewenste waarde oplewer nie. My werk stel beleidvormers en navorsers in staat om te bepaal of die resultate van 'n projek die hulpbronne wat daaraan toegeken is, regverdig, en dus of dit die moeite werd is om met die projek voort te gaan."
Sy het geen illusies oor die realiteit van winsbejag in die gesondheidsektor nie. “Moenie die fout maak om te dink dat diegene wat in die privaat en openbare sektor op winsbejag uit is, nie elke moontlike geleentheid vir hulle eie bedoelings sal uitbuit nie. Daarom is dit altyd belangrik om toesig te hou oor wat met toegekende finansiering gekoop word, en watter strategie gevolg word."
Dr Nkonki, wat in Port Elizabeth grootgeword het, het in 2012 haar PhD in Gesondheidsekonomie aan die Universiteit van Bergen, Noorweë, behaal. Sy het ook magistergrade van die universiteite van Sussex (Verenigde Koninkryk) en Kaapstad sowel as 'n HonsBSc in Toegepaste Kruiekunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Sy is 'n Y-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting en is al deur die Instituut vir Tropiese Geneeskunde in België as 'n ontluikende wetenskaplike erken. Boonop is sy lid van die Suid-Afrikaanse Jong Wetenskapsakademie.
Haar vorige werkservaring sluit poste by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en die Gesondheidstelselstrust in. Sy het ook in die middel-2010's vir vyf jaar gedien in die Mededingingskommissie se paneel wat die land se privaat gesondheidsektor ondersoek het.
Steun in ongekende tye
Haar akademiese geskiedenis het haar in 2020 'n plek in die eerste inname vir die program vir toekomstige professore (FPP) besorg. Hierdie voorbereidingsprogram van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding ondersteun die volgende generasie professore aan Suid-Afrikaanse universiteite om deur hulle voorbeeld én deur uitnemendheid te lei. Sedertdien sluit dr Nkonki se weeklikse roetine FPP-sessies oor verskillende aspekte van akademieskap, gereelde afrigtingsessies in groepverband, advies oor NNS-graderingsprosedures en -finansieringsaansoeke, en lesings of werksessies deur vooraanstaande vakkundiges in.
Sy beskryf dié sessies as “'n plek van werklike ondersteuning en kameraadskap" waar genote vryelik kan gesels oor hulle vrese en hanteringstrategieë ten opsigte van hulle werk en die “nuwe normaal" van die pandemie. “Die FPP het my in ongekende tye ongelooflik ondersteun."
Dr Nkonki is weliswaar die afgelope tyd deur die smeltkroes. Sy het aan die begin van 2021 albei haar ouers, Temba en Xoliswa Nkonki, kort ná mekaar aan COVID-19 verloor. Die FPP-span het rouberading gereël om haar die dubbele verlies te help verwerk. “Ek het werklik ondersteun gevoel," sê dr Nkonki, wat self ook COVID-19 opgedoen het. Haar ouers was rigtingwysers in haar lewe, en sy sal hulle voorbeeld vir die res van haar loopbaan met haar saamdra.
“My pa was 'n ongeskoolde werker in 'n motorfabriek. Hy was uiters georganiseerd en stelselmatig, en het ons huishouding soos 'n monteerbaan bestuur," onthou sy. “My ma was 'n grasieuse en toegewyde laerskoolonderwyseres wat lief was vir die onderrig." Ná haar ma se dood het die hoof van die skool waar sy gewerk het, genoem hoe goed Xoliswa met finansies was. “Eers tóé het ek besef ek het my belangstellings by haar gekry," sê dr Nkonki.
Sy twyfel geensins oor haar doelwitte vir die toekoms nie: “Ek wil sinvolle gesondheidsekonomiese navorsing doen en vermoë bou op die gebied deur onderrig, mentorskap en studieleiding vir studente, en deur 'n navorsingspan op die been te bring." Alles wat sy doen, gaan daaroor om “tot die algehele welstand van die Suid-Afrikaanse bevolking by te dra".
Daarbenewens is dr Nkonki 'n produktiewe kurrikulumontwerper. Sy het in 2012 byvoorbeeld 'n keusemodule oor die uitvoering van ekonomiese evaluerings ontwerp en vir US-studente in die programme MSc Kliniese Epidemiologie en MPhil Gesondheidstelsels-en-dienstenavorsing bekend gestel. Vroeër vanjaar het sy ook 'n kortkursus oor die uitvoering van stelselmatige oorsigte van ekonomiese evaluerings bekend gestel, as 'n voortsetting van 'n kursus oor gevorderde ekonomiese evaluerings wat sy in 2018 geskep het.
“Ek hou van die akademie, want ek hou daarvan om te leer. Ek sal nooit kan oorleef in 'n omgewing waar 'n mens net oor en oor dieselfde ding doen, sonder om enigiets nuuts te verken nie," erken sy.